Dié Porsche verstom en betower

(Foto: Brendon Staniforth)

Ek het onlangs die Porsche 718 Cayman GT4 gery – en gesê dis hemel op aarde. Dit is. En toe ry ek die Porsche 911 GT3 RS … en ek het nie regtig eers woorde om dit te beskryf nie.

Kom ek verduidelik hoekom ek so verstom is. Ek het in die afgelope vier jaar 366 toetsmotors onder hande gehad. Daar is ʼn handjievol wat uitstaan as verstommende rygoed. Die Honda Civic Type R is een van hulle. Die BMW M2 Competition ʼn ander een. Die Porsche 911 GTS was my eerste 911 – dit was fantasties. Die Cayman GT4 was puik. Die Mercedes-AMG C63S bly my ook by…

Maar, met amper elkeen van daai voertuie was daar ʼn dingetjie hier en daar wat ek anders sou wou hê … Ek gaan dit hier sê: “Die Porsche 911 GT3 RS is perfek.”

(Foto: Brendon Staniforth)

Vir mense wat wil ry, leer, jaag en betower word deur ʼn voertuig – is daar in my opinie niks anders nie. Ja, ek het nog nie met ʼn McLaren óf ʼn Ferrari gery nie – maar wel met ʼn Lamborghini en ʼn Aston Martin – en die GT3 RS sit eintlik in ʼn klas van sy eie. ʼn Ferrari 488 Pista en McLaren 675 LT kos tussen 50% en 100% meer as die 911 GT3 RS, vir ʼn tweedehandse een!

Die 911 GT3 RS is die hardste mees renbaan-gefokusde weergawe van die reeds fantastiese Porsche 911. Die GT3 RS bied ʼn verstommende 383 kW en 470 Nm. Die kragsyfer is wel nie die hele prentjie nie. Die 4.0 bokser-sessilinderenjin bied sy sterkste op 8 400 r/min en die toereteller sal aanhou tot ʼn hoendervleis-induserende 9 000 r/min. Op seevlak sal stilstand tot 100 km/h ʼn blitsige 3.2 sekondes neem en die GT3 RS sal aanhou snol tot ʼn indrukwekkende 312 km/h.

Dít, weereens, is nie die hele prentjie nie.

Supermotors is gewoonlik bietjie wild om te tem. As mens begin jaag dan wonder jy, sjoe – gaan die remme hou, wat was daai geluid – as ek dié draai voluit probeer, gaan die ding my verseker byt. Dit is glad nie die geval met die Porsche nie. As mens die hiërargie só lys – motor, sportmotor, supermotor, hipermotor, dan sal ek die GT3 RS klassifiseer as ʼn hiper-sportmotor.

Ek kan dit verder só verduidelik. ʼn Supermotor is ʼn brose ding. Mens moet saggies werk met hulle. Nie ʼn Porsche 911 GT3 RS nie. Dit is ʼn wapen-gegradeerde missiel. Voordat ek dié presiese GT3 RS gehad het, het hy twee weke by Kyalami deurgebring in die hande van ene meneer Toby Venter vir Porsche-kliënte se baan-dae. Ek sou aanvoer dat mens vir 24 uur lank met ʼn GT3 RS om ʼn baan sal kan jaag en hy sal steeds 100% wees ná die ervaring. Ek dink nie mens sal dit met enige ander supermotor van die rak af kan doen nie.

Buite lyk die GT3 RS soos ʼn renmotor. Die enorme vlerk agter is nie net vir visuele opknapping nie, hier is werklike lugdinamika betrokke. Voor huisves die 20”-wiel ʼn 380 mm-koolstofkeramiek remskyf. Agter is dit ʼn 21”-wiel met ʼn 380 mm-remskyf. Die agterbande is 325/30ZR21 – dis fantasties. Die bande, soos met die GT4 is ʼn Michelin Pilot Sport Cup 2 band. Pasop vir hom as dit koud óf nat is, maar sodra hy warm is, klou hy soos ʼn neet aan ʼn kombers.

Binne sien mens die rolstaaf en vastebak-rensitplekke en mens weet – dié Porsche is nie hier om te speel nie. Die GT3 RS is egter beslis nie beperk tot ʼn renbaan nie. Ek het hom vir vier dae gebruik, kinders heen en weer gery, winkel toe gegaan en so voorts. Die voorste vering kan oplig sodat mens mooi oor spoedhobbels kan kom sonder om sy kennebak te krap. Die GT3 RS het lugreëling, spoedkontrole, Apple CarPlay en Android Auto, de lot.

Porsche is my gunstelinghandelsmerk. Ek kry hoendervleis as ek langs hulle staan. Daar is vinniger Porsches – maar die GT3 RS is vir my die toonbeeld van die handelsmerk. Eendag sal ek ʼn GT3 self besit… dié RS het my geheel en al betower.

Die 911 GT3 RS lyk só:

ModelKrag0 – 100 km/hTopspoedWaarborgPrys
Porsche 911 GT3 RS383 kW/ 470 Nm3.2 sek312 km/h2 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

Vanaf

R4 200 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boerkind ·

My gedorie Brendon… daai prys en daai vlerk is net te erg! Baie lekker kar, maar sy prys, versekering, dienste en onderhoud beperk my tot my drome! Ek moet bysê my vrou het my ‘n maand na ons troue ‘n miljoenêr gemaak… voor dit was ek ‘n multi-miljoenêr… :-()

koos10 ·

Die stelling is reg. As jy vra na die prys kan jy hom heel moontlik nie bekostig nie.

Ratel ·

Porsche is steeds, in my opinie, die beste waarde vir geld sportmotor vir Suid-Afrikaners. Ek het jare gelede een gehad maar nou droom ek net. Ek wonder dikwels hoekom die meeste Suid-Afrikaners Porsche uitspreek as “Porsch”?

Cherokee ·

Toe ek heel beïndruk die kar vir my vrou wys, vra sy die praktiese vraag, so prakties soos slegs vrouens kan wees, “Wat maak jy met so kar?” Natuurlik het ek geen antwoord daarop gehad nie.

Phil ·

Ons sal binnekort heelwat van hulle sien op ons paaie, Daai tenders is darem baie geld werd (haha). Ek sien selfs die generale in die weermag koop gereeld duur sport motors. Hoe se hulle.. waar daar ‘n rokie trek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.