Dié Suzuki bring jou lekker by die see

Suzuki se Ertiga. Foto: Verskaf

Vir baie mense is ʼn voertuig regtig net dít. ʼn Tuig waarin dinge en mense vervoer word. Party gesinne, soos myne, is effe groter as ander. Toe een van Maroela Media se groter gesinne onlangs ʼn draaitjie by die see wou maak, was dit die perfekte geleentheid om te sien hoe die Ertiga hom teen bagasie, ʼn gesin en die langpad gedra.

Suzuki se Ertiga is ʼn sewesitplek-gesinsbussie. Daar is drie rye sitplekke. Soos met alle veeldoelbussies is die kattebak knap as die sesde en sewende sitplek oopgevou is. Verder is die binneruim ergonomies en doelgerig uitgelê. Daar is geen onnodige fieterjasies nie. Die kajuit voel werklik ruim. Die swart bekleedsel is die Suid-Afrikaanse mark se voorkeur, maar ʼn welkome opknapping teenoor die beige van die vorige model.

Suzuki se Ertiga. Foto: Verskaf

Die Ertiga word aangedryf deur Suzuki se nuwe K15B 1.5- atmosferiese viersilinderpetrolenjin. Dit is dieselfde enjin wat in verskeie van hul modelle diens doen. Dié enjin bied 77 kW en 138 Nm en het 6.6 ℓ/100 km gehandhaaf oor die toets Suidkus toe en terug van Gauteng af. Aanvanklik voel die Ertiga effe lui – dan leer mens hoe om die ratkas te gebruik en die Ertiga kom tot sy reg. As daar ʼn groot bult voor jou lê, skakel genoeg ratte terug sodat die omwentelinge by 4 500 r/min lê, dan klim hy lekker sterk enige bult.

Suzuki se Ertiga. Foto: Verskaf

Met tasse, braaihout, ʼn fiets en mense het die Ertiga die pad Suidkus toe met graagte aangedurf. Toe al die pakkerasies uitgelaai is, en nóg mense bygekom het – het die Ertiga steeds nie gekla nie. Sulke gemak en aptyt vir passasiers is moeilik bekombaar teen die prys. Die spesifikasievlak is heeltemal voldoende vir so ʼn gesinsbussie. Daar is Bluetooth, elektriese vensters en lugreëling. Om die Ertiga makliker te parkeer is daar parkeringwaarskuwing agter. Aangesien die gemak afgehandel is, moes Suzuki mens veilig hou. Die Ertiga het twee lugsakke voor, ABS met EBD en ISOFIX-kinderstoelmonteringspunte.

Dis heel eenvoudig. Indien jy ʼn gesin het om te vervoer teen ʼn begroting is daar nie ʼn ander voertuig wat dié spasie bied teen die geld nie. Die Honda BR-V is heelwat kleiner en baie duurder en die Toyota Avanza het ʼn stigma dat dit ʼn taxi is en die 1.5 SX-model is heelwat duurder. Die Suzuki het ook ʼn markleidende 5 jaar/200 000 km-waarborg. As jy meer as vyf sitplekke nodig het – gaan loer gerus na die Ertiga – jy sal aangenaam verras wees.

Die reeks lyk só:

Suzuki Ertiga 1.5 GA handratR214 900
Suzuki Ertiga 1.5 GL handratR239 900
Suzuki Ertiga 1.5 GL outoR254 900

Die reeks word gedek deur Suzuki se 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Avanza 1.5 SX77 kW/137 Nm6.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R259 700
Honda BR-V 1.5 Comfort88 kW/145 Nm6.3 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborgR273 900
Nissan NV200 Combi 1.6i Visia81 kW/153 Nm7.2 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborgR378 900

Tussen dié mededingers blink die Suzuki steeds bo die ander uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.