Die toekoms van elektriese motors in SA

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Ondanks die land se uitdagings met Eskom is daar ʼn wêreldwye neiging om oor te skuif na elektriese voertuie.

In 2018 is daar 1,6 miljoen elektriese voertuie wêreldwyd verkoop teenoor die net meer as 1 miljoen in 2017.

Elektriese of battery-aangedrewe motors het ook vir die eerste keer nou inprop-hibried-voertuie verbygesteek. Daar is nou meer as 20 handelsmerke wat in die elektriese ruimte meeding. Binne die volgende vier tot vyf jaar sal daar moontlik nóg ʼn honderd modelreekse bekendgestel word.

Bloomberg berig dat tot 11% van die voertuie in 2025 elektries sal wees en teen 2040 ʼn verstommende 55%. Kenners in die mark meen dat Suid-Afrika binne vyf jaar “volwasse” in die elektriese voertuigmark kan wees. Elke Jaguar en Land Rover-reeks sal teen 2020 ʼn elektriese voertuig in die reeks hê. Dis volgende jaar.

Daar is drie verskillende elektriese motors, naamlik battery-aangedrewe elektriese motors (BEV), inprop-hibried elektriese motors (PHEV) en matige-hibried elektriese motors (MHEV).

‘n Jaguar-laaier by die Drostdy-hotel in Graaff-Reinet. Foto: Brendon Staniforth

ʼn BEV het slegs ʼn battery wat die elektrisiteit aan die motor verskaf. Hy moet herlaai word. ʼn PHEV het wel ʼn binnebrandenjin en die binnebrandenjin en die elektriese motor werk saam om die voertuig aan te dryf. Hy word ingeprop om te herlaai, en herwin krag deur sy remme.

ʼn MHEV kan nie ingeprop word nie. Die voertuig bestuur self sy battery en herwin krag van die remme en gebruik die binnebrandenjin onder laer lading-situasies om die batterye te laai. Elkeen van dié hibriede voertuie het ʼn spesifieke omgewing waar hulle beter sal werk.

JLR Suid-Afrika het ʼn vennootskap met GridCars gesluit om 82 openbare laaistasies in Suid-Afrika te skep. Dit is ʼn belegging van R30 miljoen vir die installering van vinnige laaiers van 30 kW en meer.

GridCars was al met verskeie vulstasies in gesprek om te sien of daar belangstelling is vir die installering van laaiers by groot vulstasies op nasionale roetes. Ooreenkomste sal binnekort met die groot vulstasie-franchise’e gesluit word.

Daar is verskeie redes hoekom EV’s soveel sin maak. Een daarvan is dat elektriese motors die doeltreffendste is met die kleinste verliese wanneer dit met binnebrandenjins vergelyk word. Vir ʼn groot gedeelte van die bevolking wat op die platorand bly, word EV’s nie beïnvloed deur kragverliese weens die dunner atmosfeer nie. Elektriese motors is ook makliker om in te voer en te homologeer. Die hele gedeelte oor brandstofregulasies kan geïgnoreer word.

Die doemprofete wat kerm oor die batterye. Toetse wys dat ʼn gemiddelde battery 70% kapasiteit behou nadat die agt jaar waarborg verby is. Dus is die battery nie onbruikbaar nie, jou reikafstand is net 30% minder.

GridCars sê dat daar reeds maatskappye reg oor die wêreld is wat ou batterye herwin en al die elemente weer gebruik om nuwe batterye te maak.

Jaguar het reeds soos op die kaart aangedui laaiers by punte regoor Suid-Afrika opgerig.

Jaguar Land Rover het ʼn reusebelegging gemaak om die toekoms van hul EV’s te verseker. Elke werkswinkel is nou toegerus met spesialistoerusting. Elke werkswinkel het reeds ʼn EVAP (Electric Vehicle Authorized Person) opgelei. Daar sal by elke handelaar twee EVAP’s moet wees.

Die betroubaarheid van ʼn elektriese motor is vir my uiters opwindend. Daar is soveel minder elemente wat kan breek. ʼn Elektriese motor het slegs een bewegende onderdeel – die skag. Remme word drasties minder gebruik want die remkrag word herwin deur die elektriese motors, nie remskywe nie. Een nadeel van elektriese voertuie in Suid-Afrika is dat daar ʼn 7% hoër invoerkoste is op EV’s.

Indien jy ʼn Jaguar i-PACE koop ná sy bekendstelling, koop ʼn mens ʼn vinnige laaier wat in jou motorhuis geïnstalleer word. Dis ʼn intelligente laaier wat die kragverbruik in jou huis analiseer en seker maak dat die motor gelaai word as die aanvraag in die huis op sy laagste is. Daar is ook nooit beurtkrag in die middernagtelike ure nie – so ʼn mens sal altyd verseker wees dat jou voertuig in die oggend herlaai is.

GridCars sê hulle kan ʼn sonpaneel-motorafdak vir kliënte installeer wat die voertuig in die dag kan herlaai – dan ry mens heeltemal gratis. Met die vordering wat gemaak word met batterytegnologie, sien ek geen rede dat daar nie binnekort EV’s sal wees met reikafstande van tot 750 km nie. Dié tegnologie maak my regtig opgewonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

aj ·

Viva eleltriese voertuie … VIVA!

Veral dié wat met sonpanele herlaai kan word!

Vraagteken ·

Absoluut snert!!! Weet jy hoeveel panele word benodig om ‘n battery net 50% in ‘n dag te laai? As jy doen, dan sou jy nie VIVA skreeu nie.

Chris Ws ·

Ek wonder net hoe lank dit gaan neem vir bekostigbare elektriese motors om in die land te kom.Relatief min mense gaan ‘n Jaguar koop agv sy prys.Wat ons kort is ‘n kleiner goedkoper alle daagse elektriese motor vir jan en alle man.Nie luukse motors nie.Die man wat ‘n Jaguar kan koop kyk nie eers na die prys van brandstof nie!Ek weet KIA het reeds so motortjie hier wat hulle nog toets maar dit word geheim gehou.Miskien gaan hulle die elektriese wiel behoorlik aan die rol sit.

Brendon ·

Dagsê Chris Ws

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek stel ondersoek in. Ek weet daar is klomp beskostigbare elektriese voertuie beskikbaar in Europa. Met die dat van die vervaardigers nou ‘n skuif maak dat daar geen modelreeks sonder ‘n elektriese element gaan wees nie – sal die momentum baie vinnig opbou.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

wielie ·

hahahahahaahahahaha met die verkeer en ure se geskuifel gaan die battery pap wees laaaaank voor jy by die kantoor kom :))))

Brendon ·

Dagsê Wielie

Baie dankie vir jou kommentaar. Onthou, as ‘n elektriese motor in die verkeer stilstaan, gebruik hy geen battery nie. Om stadig in die verkeer te beweeg gebruik hy regtig bitter bitter min battery. Dit is nie soos ‘n binnebrandenjin wat staan en luier nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Hendrik ·

Wel as ek dit kon bekostig sal ek nou ‘n elektriese voertuig koop. Tans is die Nissan Leaf en MBW i3 redelik bekostigbaar vir ‘n 1 presenters.

(F)luister ·

As die lot vervaardigers net wil saamtrek om die batterye te standariseer sodat dit deur alle voertuie oor alle vervaardigers heen gebruik kan word, dan kan daar mos pap batterye vir herlaaides by “vulstasies” omgeruil word en sodoende die wagperiode om batterye te herlaai meestal uit te skakel wanneer jy op ‘n lang reis is.

Koos Petoors ·

Ek wonder oor die onderhoud van die elekriese voertuie. Soos ek verstaan is ‘n elektriese motor baie meer betroubaar as ‘n meganiese een, en nou wonder ek net of mens ook elke xx km jou e-motor sal moet laat diens. Wat sal so ‘n diens behels, (daars tog nie olie en filters om te ruil nie) en sal die diens intervalle langer wees as die op meganiese motors. En wat gebeur as die e-motor buite sy onderhoudsplan is. Tans kan mens self basiese diense doen soos olie en filters ruil, maar met met die e-motors sal net die agente weer hoe die ding bedraad is. Nuwe dae, nuwe dinge ..

Marius ·

Inderdaad opwindende tegnolgie en welgedaan aan GridCars met die werk wat hulle doen m.b.t die netwerk van herlaaistasies in SA. Ek wonder egter oor drie goed: Is elektriese voertuie wel meer omgewingsvriendelik as binnebrandmotors, veral as mens na die total waardeketting en total produkleeftyd kyk? Ons herlaai (meestal) met elektrisiteit wat deur steenkool opgewek word en (soos ek verstaan) word van die metale wat in die vervaardiging van batterye gebruik word deur ‘n baie vuil proses ontgin en verwerk. Tweedens, dink net watse nuwe heffings gaan die regering op ons plaas namate minder brandstof gebruik word soos EVs toeneem, en hoe hoog die brandstofheffing uiteindelik gaan wees! Derdens sal ons hier in SA goeie beplanning moet doen om te voorkom dat SA die stortingsterrein van binnebrandmotors word soos wat die EVe in die res van die wereld toeneem.

Johann cb ·

Behalwe vir die voertuie se pryse, is ek heel skepties met Eskom wat besig is om te vou! Jou “belegging” is tans nie veilig óf veel werd nie!
Wat sou hierdie voertuie se herverkoop waarde wees? Ek bly voorlopig by brandstof!

Vraagteken ·

Johan, stem 100% saam met jou. As jy ‘n elektriesevoertuig koop, dan kan jy hom alleenlik net deur Eskom laai (die ander opsies is nie maklik uitvoerbaar nie of maak nie finansieel sin nie); en nee, solar is nie ‘n alternatief nie. Ek wonder of mense weet dat jou kragstasies minder efficient (ongeveer 28-33%) is as die bestaande moderne petrolenjine (tussen 35-45%)? So hoe is elektriese voertuie skoner? Terloops, is Gridcars van plan om die voertuig deur net’ Solar te laai of gaan hulle hom saam met Eskom laai?

‘n Mens moet nie laat maatskappye die ‘toekoms’ voorskryf as hulle self finansiele belang daarin het nie.

Nico Botha ·

Die voorloper in vervaardiging van elektriese voertuie, Suid Afrikaans gebore Elon Musk se Tesla word nie eers in die artikel genoem nie.

Vraagteken ·

Hi Nico, gaan lees ‘n bietjie op oor hoe Tesla sukkel.

Pietsepan ·

Ek bly nog ten gunste van die „Matige Hibriede Elektriese Voertuig” of MHEV wat met ‘n bestekverlengingsmotor toegerus is om die battery (asook super kapasitor) te laai tydens normale togte. Met ‘n bestekverlengingsmotor verwys ek na tegnieke soos die Russel Generator, Liquid piston engine, Free Piston Engine, ens. Nie na konvensionele binneband motore nie. Die bestekverlengingsmotor loop teen hoë toere en hoë rendement (efficiency). Dan staan jy slegs tou vir vloeibare brandstof wat jou ‘n bereik van meer as 1200 km gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.