Die toppunt van die blitsbuksie?

Foto: Verskaf

Dit is verstommend wat motorvervaardigers deesdae met ʼn voertuig kan regkry. Ek het nou die dag ʼn 2.0-turboviersilinder gery met 310 kW en 500 Nm. Dis geklik. Die Renault Megane RS 300 Trophy is in dieselfde trant. Dit is ʼn 1.8-turbopetrol-viersilinder met 220 kW en 400 Nm. Daai krag word deur ʼn 6-spoed-handrat aan die voorwiele gestoot.

Die ontwerp is netjies. Ek hou meer van die voorste voorkoms as agter, maar die Megane is beslis nie lelik nie. Aan die binneruim is die sitplekke fantastiese Recaro-sportsitplekke wat met alcantara-materiaal oorgetrek is. Die stuurwiel en instrumente is ook netjies, ergonomies en leesbaar, maar by die inligtingstelsel verloor hulle my. Die raakskerm is stadig en nie baie verbruikersvriendelik nie. Die feit dat die lugreëling ook daar gestel word, gaan my verstand te bowe.

Foto: Verskaf

Op die pad is waar die Megane uitblink, maar ook sy skete wys. Die 1.8 trek lekker sterk en maak al die regte geluide. Die krag piek wel vir my te vroeg in die toerestrek en val dan te vinnig af. Ek verkies dit as die krag bou en bou tot heel bo in die toere en hul beste net voor die rooilyn lewer. Die handrat se hefboom is ʼn bietjie vaag en as mens hom te rof hanteer, glip jy maklik ratte. Die koppelaar se kalibrasie kan vir my beter wees – en dis moeite om egalig weg te trek.

Goed, nou het ons met geweld weggetrek, jy begrawe jou voet in die mat en al 300 perde staan op aandag. Met dié krag en wringkrag kan die voorwiele ongelukkig nie byhou nie. Die wringkrag is te veel vir ‘n voorwielaangedrewe voertuig en veroorsaak dat die stuurwiel in jou hande rondtrek. Reg – ons behou beheer daardeur– nou’s ons in derde rat en voet in die hoek.

Foto: Verskaf

ʼn Mens arriveer met enorme spoed by die eerste draai, klim op die remme – hulle werk puik, kies koers met die stuurwiel en die padhouvermoë is daar… jy gee ʼn bietjie vet om die limiet te gaan soek, jy kry hom soos die stuurtraagheid nader kruip en jy los weer die versneller… nou word die agterwiele lig en veroorsaak fantastiese stuuroorywerigheid. Dis fantasties. By die volgende langer draai kies ek ʼn hoër rat, draai minder aggressief in en voer sagter die versneller in. Die voorste ewenaar betower die voorwiele en ʼn mens vlieg uit die draai uit vinniger as wat jy ooit sou kon dink in ʼn voorwielaangedrewe voertuig moontlik is.

Foto: Verskaf

Die Megane is ʼn fantastiese voorbeeld van wat tegnies moontlik is. Hy het wel twee probleme. Een is sy prys vanweë ʼn mengsel van ʼn skrikwekkende wisselkoers en ons regering se lang vingers as dit kom by invoerbelasting. Die ander is die Honda Civic Type R. Die Honda is goedkoper, het nie die wringkrag-probleem nie, het slimmer agterste vering en beter koppelaarkalibrasie en rathefboomaksie.

Gelukkig vir Renault kom daar net sewe Megane 300 Trophy’s in die land in. Ek sal ʼn goeie raaiskoot neem dat hulle meestal reeds verkoop is. In dié prysklas is daar ʼn magdom opsies soos die Honda, ʼn vierwielaangedrewe Golf R of ʼn agterwielaangedrewe BMW M240i.

Die reeks lyk só:

Renault Megane RS 280 Lux205 kW/390 Nm7,2 ℓ/100 kmR634 900
Renault Megane RS 280 Cup205 kW/390 Nm7,0 ℓ/100 kmR634 900
Renault Megane RS 300 Trophy221 kW/400 Nm8,2 ℓ/100 kmR774 900
Renault Megane RS 300 Trophy outo221 kW/420 Nm8,4 ℓ/100 kmR799 900

Die reeks word deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan gedek.

Die kompetisie lyk só:

Hyundai i30 N202 kW/353 Nm8,5 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

5 jaar/75 000 km-diensplan

R679 900
Volkswagen Golf R228 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R727 400
Honda Civic Type R228 kW/400 Nm8,4 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R771 600
Audi S3 Sportback Quattro228 kW/400 Nm6,5 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R772 189
BMW M135i xDrive225 kW/450 Nm7,5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R773 788
Subaru WRX STi221 kW/407 Nm10,4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/75 000 km-  omvattende instandhoudingsplan

R853 000
Mercedes-AMG A35 4Matic225 kW/400 Nm7,4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R883 000

Tussen dié mededingers is die Golf R se waarde en veelsydigheid onweerlegbaar. Ek is wel die liefste vir die Honda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.