Die Triumph Bonneville T120: Onopgesmuk modern met klassieke karakter

Triumph Bonneville se T120 (Brian Cheyne)

Triumph Bonneville se T120 (Brian Cheyne)

Een koue wintersoggend op die N1, vasgekeer in my kar, kom daar ʼn motorfiets by my verby. Die ryer was lekker dik aangetrek met ʼn groot sak agter op die fiets vasgemaak. Voor die groot sak, ʼn slaapsak, netjies opgerol binne ʼn helder pienk kampmatrassie. Ek het hom beny vir sy avontuur en in my kop sy storie klaargemaak. Ek weet nie waarheen hy op pad was nie, maar ʼn stukkie van my wou saamry. Jy sien, hy het twee wiele, ʼn vol tenk petrol en ʼn hart vol drome.

Om 2017 mee af te skop, wou ek weer begin op ʼn Triumph Bonneville. Net die naam tower nostalgie op by my. ʼn Fiets reg uit my jong dae. Twee wiele en die vryheid van die oop pad, sonder die moderne fieterjasies wat jou aandag aftrek. Hoewel die Bonneville baie moderne komponente het, is dit keurig versteek.

Triumph Bonneville se T120 (Brian Cheyne)

Triumph Bonneville se T120 (Brian Cheyne)

Dit is my derde Bonneville wat ek gery het die afgelope paar maande, en dié een is totaal anders as die ander twee. Die eerste was die Thruxton wat Triumph se High Power-enjin in het en ʼn reeks bybehore om hom sportief te laat voorkom. Die ander was die StreetTwin. ʼn 900cc-weergawe wat baie onintimiderend was. Nou is ek op die T120 wat die basiese resep van die ander twee volg, maar met die enjin wat op wringkrag konsentreer eerder as krag. Hy deel die meeste van sy onderdele met die Thruxton, so ek het dadelik tuis gevoel. Die petroltenk het so ʼn bietjie meer om die lyf as die Thruxton s’n en is sterk gestileer op die Bonnevilles van ouds.

Sou jy die 1959-Bonneville langs die nuwe een parkeer, sou jy duidelik die geslaglyne sien. Maar kyk bietjie nader en jy sal sien dat, voorlangs, die dromrem plek gemaak het vir twee lywige skywe, en dat die enjin gegroei het tot 1200cc van die 650cc van ouds. Hierdie fiets het brandstofinspuiting, sluitwering op die remme en tolbeheer. Triumph het ook reggekry om die fiets se verkoeler baie netjies in die ontwerp in te weef, soveel so dat een van my vriende verbaas was dat die fiets nie lugverkoel is nie.

Triumph Bonneville se T120 (Brian Cheyne)

Triumph Bonneville se T120 (Brian Cheyne)

Een ding wat as standaard kom, wat jy nie op die opsielys kry nie, is “karakter”. En die fiets het sommer ʼn stewige skep daarvan. Soos daardie skeppe wat ouma altyd geskep het. Jy plak dit nie net agterna aan nie; jy het dit of jy het dit nie.

Van die wegtrek af, trek die T120 seepglad. Die koppelaar is lig op die hand. Die elektroniese versneller hou alles mooi onder beheer, en die fiets versnel met mening, maar gelukkig is daardie fris skywe voor reg om jou weer tot stilstand te bring as die pas gejaagd raak. Met minimale windbeskerming is hoë spoed nie lank volhoubaar nie. Verhitte handvatsels was maar ʼn geloofsaak, want met ons warm somer was ek nie so dapper om hulle aan te sit nie. Die instrumentasie is omhul in in ʼn sierlike metaalomhulsel en bevat twee analoogwysers, maar daar is ook twee vloeikristal-eenhede vir die belangrike inligting soos ratposisie en brandstofvlak.

Kom ons wees nou eerlik: die Bonneville is nie vir almal bedoel nie. Dit is beslis ʼn fiets vir ʼn baie spesifieke groep mense, maar dalk weet hulle iets wat ons nie weet nie. Met hierdie Triumph kan ek baie ver ry en baie stories bymekaar maak. Nou kort ek nog net ʼn slaapsak en ʼn pienk kampmatrassie.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop

Enjingrootte1200cc
Aantal silinders2
Maksimum kraglewering59kw / 80pk
Saalhoogte78.5 cm
Tenkkapasiteit14.5L
PrysR147 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Speedguard ·

Sit sy voet rat soos die 650 steeds aan die regter kant van die fiets ?

andre ·

ai jy is so bevoorreg om so n mooi motor fiets te kan besit
laat die kilo’s rol

Frikkie ·

Pragtig. maar sou meer karakter gahad het met “crashbars”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.