Die Triumph Speed Triple RS ʼn Britse spoedvraat

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Triumph is nou onder nuwe eienaarskap in Suid-Afrika en ons kan nou uiteindelik die hele Triumph-reeks hier plaaslik ervaar. Ek sien al langer as ʼn jaar daarna uit om die Triumph Speed Triple RS te toets. ʼn 1 050 cc- Britse volbloed-driesilinder.

Die Speed Triple was daar toe kaalfietse begin naam maak het in die laat 90’s. Triumph het oor die jare heen aanhoudend die Speed Triple verfyn, eerder as om die fiets heeltemal van voor af te ontwikkel. Hoewel die 2018 Triumph as die kragtigste Speed Triple ooit bekend staan, is hy lankal nie meer die leier in die klas nie. Maar daar is net iets aan hierdie fiets wat drup van Britse trots.

Die 1 050 cc-enjin verrig al diens in die Speed sedert 2005. Vir 2018 is 105 komponente verbeter en die kraglewering is nou 150 pk teen 10 500 omwentelinge. Die ontbrandingsgasse ontsnap nou deur twee Arrow-titaandempers en dit maak die Speed Triple nie net die kragtigste Triple ooit nie, maar ook die een met die mooiste klankbaan. Soos die toere klim, word die simfonie net mooier.

Natuurlik het die elektronika ook ʼn hupstoot gekry, en die Triumph het die hele spyskaart bestel. In Europa is daar twee modelle beskikbaar: die S en die RS. In Suid-Afrika gaan ons net die RS-model kry, en hierdie model het ʼn sensor wat leunhoeke in ag neem wanneer die sluitbeheer benodig word. Die vering is deur Öhlins en die Brembo-knypers sit op yslike skywe. Aan stopkrag het die Triumph geen tekort nie.

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentepaneel is nou ʼn 5″-TFT-volkleurskermpie. Daar kan alles verstel word op die fiets en jy kan selfs kies uit verskillende uitlegte van die spoedmeter en toereteller. Op die linkerhandvatsel sit daar nou soveel knoppies dat jy soos Maverick uit Top Gun voel. Jy raak dit egter gou gewoond, want dit is heel logies uiteengesit. Daar is verskillende ryprogramme beskikbaar en ook een wat Rider genoem word. Dit is waar jy elke verstelling op die RS kan verstel soos jy hom wil hê. Vir gladde toestande is daar ʼn program wat die kraglewering sny. Spoedbeheer is ook standaard.

Een irritasie van moderne motorfietse is die gebrek aan ʼn sleutelgat waar jy jou sleutel insit en draai. Jy dra deesdae die sleutel in jou sak. Die Speed Triple het ook hierdie stelsel en die sleutel is altyd ʼn beslommernis om êrens veilig te hou. Ek wens motorfietsvervaardigers wil hierdie gebruik laat vaar. Knoppies om die fiets aan te sit of die stuurstang te sluit is net meer goed wat kan skeefloop.

Die stilering van die Speed het ook gemengde reaksies uitgelok. Dit volg die ontwerp van die oorspronklike Speed, maar daardie kopligte wat op ʼn steeltjie sit, val nie in almal se smaak nie. Ek moet net noem dat iemand wat na die fiets kom kyk het vir my gesê het dit is die mooiste toetsfiets wat ek nog ooit gehad het. So, die gevoelens is maar verdeeld. Die kantspieëls wat so op die handvatsels se uithoeke sit, werk fantasties, maar dit wek die indruk dat die fiets nou breër is. Om tussen karre deur te glip, verg baie meer konsentrasie.

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Die Speed Triple is dalk nie meer die kragtigste kaalfiets op die mark nie, maar die rit is onverbeterlik. Die saal is breed en sag en die ratkas het nie een maal vir my ʼn vals neutraal aangebied nie. Die fiets se hantering is baie neutraal en boesem baie vertroue in. Ek sal heeldag in die saal kan deurbring met hierdie fiets. Die uitlaatpype se klank is iets om te beleef, sonder dat dit ʼn aanslag op jou ore is.

Ek is omgepraat. Vir iemand wat nie meer heeldag op die agterwiel wil deurbring nie, is die Speed Triple ʼn statige alternatief vir die straatvegters uit Italië en Japan.

Vir meer inligting, besoek die produkblad hier.

Die feite:

Enjin1 050 cc-driesilinder
Gewig (Droog)192 kg
Kraglewering150 hp/110 kw teen 10 500 rpm
Wringkrag117 Nm @ 7 150 rpm
Saalhoogte825 mm
Tenkkapasiteit15.5 L
PrysR210 000

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Speed Triple RS (Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.