Die Triumph Tiger 800 XCA: ʼn Uitstekende middelgewig

Die nuwe Triumph Tiger 800 XCA. Foto: Brian Cheyne

By die onlangse Motorfiets van die Jaar‑geleentheid het Lachlan Harris van AMID (Association of Motorcycle Importers and Distributors) nogal ʼn waar ding gesê. Hy is van mening dat baie mense wat nie die prys van die heel grootste avontuurfiets kan regverdig nie, nie eers ʼn kleiner fiets oorweeg nie.

Nadat ek die Triumph 800 XCA gery het, is ek van mening dat dit dalk die enigste avontuurfiets is wat jy ooit sal nodig hê.

Die XC‑reeks van Triumph is gemik op die avontuurryer wat bietjie verder van die teerpad af wil gaan as net die stofpaadjie tot by die plaasstalletjie. Ek het die top-model XCA onder hande gehad wat aan die begin van die jaar opgeknap is. Meer as 200 individuele komponente is verbeter en daar is selfs aan die ergonomie ook aandag gegee.

Ek gaan julle nie verveel met al 200 verbeteringe nie, maar wil wel die belangrikste uitlig.

Die enjin is steeds die 3 silinder 800cc‑enjin uit die vorige model, maar intern is ʼn paar komponente ligter gemaak en die enjin tol nou heelwat makliker deur die toere. Die enjin lewer 95 perdekrag en word deur ʼn elektroniese versneller beheer. Die eerste rat is verkort en dit maak die fiets makliker om te ry wanneer jy stadig ry – hetsy in die stad of op Sani-pas.

Die nuwe Triumph Tiger 800 XCA. Foto: Brian Cheyne

Die XCA het enjin beskerming as standaardtoerusting. Dit bestaan uit lywige pypwerk om die enjin en ʼn pensplaat om die onderkant van die enjin te beskerm. Ek het egter my bedenkinge oor die doeltreffendheid van laasgenoemde, want dit lyk maar dun en beskerm ook nie die onderkant van die agterste skokbreker nie.

Die voorwiel is 21” en dun. Hierdie kombinasie beloof goeie hantering op stofpaaie.

Die eerste aspek wat ek op die XCA sal verander, is die bande self. Die Bridgestone‑bande van die toetseenheid was nie ideaal vir rowwe paaie nie en was meer geskik vir alledaagse padgebruik. Die vering is ten volle verstelbare WP‑eenhede.

Soos met hierdie klas fietse, sit jy regop agter breë handvatsels. Die sitplek kan met ʼn eenvoudige stelsel opwaarts verstel word sonder om eers ʼn skroewedraaier te gebruik. Die windskerm het ʼn eenvoudige verstellingsmeganisme, en jy kan dit sommer so in die ry verstel. Daar is ekstra windwering langs die skerm en saam help dit om die wind mooi om die ryer te kry. Die handvatsels is ook nou nader aan die ryer geskuif wat skynbaar die hantering op lae spoed verbeter. Vir ons koue oggende het die XCA verwarmde handvatsels en sitplek.

Die nuwe Triumph Tiger 800 XCA. Foto: Brian Cheyne

Die volkleur TFT‑skerm is ʼn groot pluspunt van die nuwe Tiger. Hierdie skerm begin nou op meer en meer nuwe Triumphs verskyn en het baie omvattende inligting. Ek dink nie daar is iets uitgelaat nie, en daar is heelparty uitlegte om uit te kies. Alles is maklik om met ʼn skakelaar op die linkerhandvatsel te beheer.

Op die pad is die 800 ʼn baie beleefde reisgenoot. Die kraglewering is glad, en selfs in sesde rat is daar nog oorgenoeg krag sou jy skielik moet versnel. As die paaie rowwer raak, kan jy gemaklik op die Tiger staan. Die metaal voetrusse is breed en is heel gemaklik. Die Tiger druk die skaal net so aks oor 200 kg, en voel lig en rats. Ná ʼn lang dag in die saal op verskeie oppervlakke kon ek regtig nie kla oor die gemak van die XCA nie.

In my beskeie opinie kon ek regtig geen rede sien hoekom ek die 1200 sou oorweeg nie. Miskien as ek met twee op en ʼn week se bagasie êrens heen wou ry, sal die 1200 dalk help, maar andersins is die Triumph Tiger 800 XCA meer as genoeg, dankie.

Produkblad: https://www.triumph-motorcycles.co.za/bikes/adventure/tiger-800

Die feite:

Enjin800cc in-lyn 3 silinder
Gewig (droog)205 kg
Kraglewering70kw / 95pk @ 9 500 rpm
Wringkrag79 Nm @ 8050 rpm
Tenkkapasiteit19 ℓ
Saalhoogte840-860 mm verstelbaar vir twee hoogtes

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marco polo ·

Goeie opsie as jy nie soos al die skapies ‘n BMW wil ry nie.

Gysbert Stander ·

Sê hy wat in China bly waar niemand waarskynlik iets groter as ‘n 50cc ry nie. :):)

Maar ja, ek stem saam. Ek dink die enigste verskil tussen BMW, KTM en Triumph is persoonlike smaak. Almal is ewe goeie waarde vir geld.

marco polo ·

Haha, Gysbert, ek ry n Benelli TRK502X, baie lekker adventure fiets en hopeloos te groot vir die gemiddelde Chinees. Maar jy is reg, dis omtrent net buitelanders en rykes wat groot fietse ry. Benelli word in China gemaak, wat dit baie bekostigbaar maak, amper helfte van die prys van n soortgelyke Honda, en parte is vrylik beskikbaar en goedkoop. Motorfietse is nie meer gewild in China nie, want meeste stede verbied hulle in die middestad, meeste mense ry elektriese motorfietse wat minder as R5k kos

Brian Cheyne ·

Daar is twee modelle in die XC reeks. Die XCx begin by R181 000, en die XCA waarmee ek gery het begin op R199 000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.