Die verlore Triumph is terug

Foto: Brian Cheyne

Die Triumph Tiger Sport het onder die vorige verspreiders se beheer êrens deur die krake geval, en Suid-Afrikaners ontneem van seker een van Triumph se bes bewaarde geheime.

Die Tiger Sport het sy lewe begin as ʼn dubbeldoel fiets waarmee jy so nou en dan kon wegdwaal van die teer. Die Tiger Sport is bedeel met grondvryhoogte, langer vere en ʼn pensplaat. Triumph het egter verder begin karring aan hulle reeks en die Explorer het die lig gesien.

Dié fiets het bonkige lyne en die vloeiende lyne van die Sport moes terugstaan terwyl die rowwe fiets al die aandag steel. In 2016 is die Tiger Sport opgekikker en die huidige verspreiders het weer hierdie fiets beskikbaar gestel.

Foto: Brian Cheyne

Die enjin kom uit die Speed Triple en is ʼn 1050 cc driesilinder-eenheid. Die krag is afwaarts aangepas na 126 perdekrag, maar met 106 Nm se wringkrag teen 7000 rpm is dit is oorgenoeg om die Sport ʼn handvol te maak. Daarvoor is daar drie ryprogramme (reën, pad en sport) wat verskeie vlakke van krag, tolbeheer en sluitwering stel.

Ons eerste reëns het net mooi begin val toe ek die Tiger gekry het en ek was dankbaar vir die elektroniese hulp. Kraglewering is verslawend egalig en om motors verby te gaan, het skielik pret geword. Daar is so lastige vibrasie om en by die 5000 merk, maar dit is net merkbaar aan die spieëls en verdwyn gou as jy die krane nog so bietjie verder oopdraai. Die enjin is seker een van die Sport se sterkpunte.

Foto: Brian Cheyne

Voorlangs het Triumph baie aandag gegee aan windbeskerming, en die Sport kry ʼn verstelbare skerm en twee deursigtige vinne aan die kant. Die windskerm verstel meganies en is verspot maklik om te stel. Daar is ook handbeskermers om die wind van jou hande af te hou. Die hele opset werk baie goed.

Die instrumentasie is nog ʼn analoogtoereteller en ʼn vloeikristaleenheid vir die res. Die tendens is al hoe meer na volkleur TFT-skerms en sleutels wat jy in jou sak dra, maar vir my is die Tiger Sport se amper oudmodiese instrumentasie genoeg, dankie. Links onder die tenk is ʼn 12 V-sok, maar dit is op so eienaardige plek, dat ek net kan dink aan verwarmde klere wat jy daar kan inprop. Onder die saal is ʼn USB-sok om jou foon te laai in die ry.

Foto: Brian Cheyne

Die Tiger Sport het ʼn elektroniese versneller en beskik oor spoedbeheer. Spoedbeheer is vir my amper ʼn noodsaaklikheid op ʼn fiets soos dié wat gemaak is om mee te toer. Die ryposisie is regop met breë handvatsels. Die voetruste sit redelik hoog, so my bene het aanvanklik beknop gevoel. Op die oop pad het dit egter minder gepla as wat ek sou dink, want die saal is breed en bied baie beweegruimte.

Die Tiger Sport bied baie fiets vir jou geld. Jy gaan ver soek om ʼn 1000 cc-fiets met soveel karakter soos die Tiger Sport te kry. Die driesilinderenjin het die mooiste klankbaan, selfs met sy standaard pyp. Op die pad het ek selde die fiets uit sesde moes haal. Dit is ʼn ongelooflike lekker fiets om ver mee te ry. Die Tiger Sport is terug, en ons paaie is ʼn beter plek met hom. Gaan vat hom vir ʼn toetsrit. Jy sal nie spyt wees nie. Teen R168 000 is dit boonop ʼn winskoop.

Produkblad: https://www.triumph-motorcycles.co.za/bikes/adventure/tiger-sport

Die feite:

Enjin1050cc in-lyn 3 silinder
Gewig ( Droog )218 kg
Kraglewering93kw / 126pk @ 9 475 rpm
Wringkrag106 Nm @ 7000 rpm
Tenk kapasiteit20 ℓ
Saalhoogte830 mm

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oljetter ·

Miskien het dit die skrywer ontgaan dat SA reeds amper 50 jaar gelede gemetriseer het?

Hoe nou Slimmie? ·

Oljetter; Ek het deur skitterende artikel gelees propvol handige info. Fantastiese beskrywings. Eenkeer genoem van Perdekrag. Nou wil ek graag weet waarvan praat jy, oljetter? Verduidelik asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.