Die volmaakte gesinsbuks?

Dié van julle met meer as twee kinders (almal nog klein) sal weet … ʼn voertuig kan ʼn reuse-uitdaging word. Dié een is té naby aan dáái een, sy voete krap haar been, daar’s nie plek vir die pop nie, want die stootwaentjie moet in. Ugh. Vir ʼn paar jaar nou al, as my kinders uitklim, sê ek: Oppas vir die kar langs ons. My kinders is nou sewe, nege en 11. Gaan ek dit ooit ophou moet sê?

Daar’s ʼn soort voertuig waarmee ek al twee keer vantevore gery het, maar sonder die kinders, en dit ry regtig lekker. Ál probleem, ek’t nog nooit deur my pappa-brilletjie na daardie klas gekyk nie.

Veeldoelige voertuie wat op paneelwaens gegrond is, bied die perfekte oplossing. Skuifdeure vir een, so dit kan nie die kar langsaan kap nie. Voeg daarby ʼn enorme kattebak, en daar’s sowaar plek vir die stootwaentjie, fietsie, poppe – de lot.

Ek’t onlangs twee sulke buksies direk ná mekaar getoets – en albei is fantasties. Een diesel, een petrol (albei handrat), en hulle kos só te sê dieselfde. Kom ons vergelyk hulle:

Ontwerp:

Opel Combo Life 1.6 TD EnjoyVolkswagen Caddy 1.0 TSI Trendline
3/53/5

Albei buksies lyk netjies. Volkswagen én Opel het hulle goed van hul taak gekwyt om die nutsman in elkeen weg te steek. Ongelukkig is die hoë dak steeds ʼn kenmerk van ʼn paneelwa. Die eksterne ontwerp is tog die resultaat van die binne-afmetings.

Binneruim en gebruikswaarde:

Opel Combo Life 1.6 TD EnjoyVolkswagen Caddy 1.0 TSI Trendline
5/54/5

Die binneruim van albei voertuie is werklik gemaklik. Die hoë dak bied enorme kopruimte en omdat die voertuie so breed is, is daar tonne skouerspasie. Daar is drie aparte sitplekke agter in die Combo, en slegs ʼn 60/40-rugleuningverdeling in die Caddy, dus verloor hy een punt. Verder is albei voertuie gepeper met lugreëling in die Caddy en klimaatbeheer in die Combo, albei het spoedbeheer, CarPlay en Android Auto en outomatiese ligte.

Enjin, ratkas & dryfstelsel:

Opel Combo Life 1.6 TD EnjoyVolkswagen Caddy 1.0 TSI Trendline
4/53/5

Die 1.0-TSI-enjin in die Volkswagen is ʼn lekker enjintjie. Hy word effe teleurgestel deur ʼn mengsel van geringe turbotraagheid en versnellerprogrammering. Die aangename wringkrag van die 1.6-turbodiesel-enjin in die Combo stoot hom ʼn rapsie voor die Caddy.

Albei het aangename vyfspoed-handratkaste en is voorwielaangedrewe. Opel sê dat die Combo 1.1 ton kan sleep, en met sy diesel glo ek dit. Volkswagen sê dat die Caddy 1.5 ton kan sleep. Met daai ou enjintjie kan ek dit nie sien nie. My woonwa weeg maar 1 ton – en ek wil hom nie graag met ʼn 1.0-turbo trek nie.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Opel Combo Life 1.6 TD EnjoyVolkswagen Caddy 1.0 TSI Trendline
5/55/5

Dis in dié afdeling waar albei voertuie verras en uitblink. Hulle ry albei op ʼn 16”-wiel en toer heerlik sag. Die vering is soepel, sonder veel bakrol. Omdat albei hul wortels in ʼn werkesel het, is hul agterste vering lekker sterk om vrag te kan dra.

Die Caddy ry skrams lekkerder en voel soos enige ander luikrug of sedanmotor, net met meer kopruimte. Die Combo voel ietwat meer soos ʼn werkesel weens sy dieselenjin, en mens sit effe hoër. Albei voertuie het ʼn asemrowende veiligheidspesifikasie met ses lugsakke, ABS, vastrap en stabiliteitsbeheer. Die Combo het EBD wat die Caddy nie het nie.

Opsomming:

Opel Combo Life 1.6 TD EnjoyVolkswagen Caddy 1.0 TSI Trendline
17/2015/20

Die puntetotaal is ietwat van ʼn verrassing. Ek sou nie sê die Caddy is een punt “minder kar” as die Combo nie, maar die enjin en sitplekke is eenvoudig beter in die Combo. Albei is van Duitse vervaardigers, al deel die kombo sy DNS met die Franse se Peugeot Partner-paneelwa.

Vir ʼn gesin met kinders en ʼn mamma wat gereeld skooltaxi moet speel, sportsakke laai en kinders rondkarwei, is dié twee perfek. Dit ry lekker, kos nie ʼn huis se prys nie – en lyk selfs modieus.

Die twee vergelyk só:

Volkswagen Caddy 1.0 TSI TrendlineOpel Combo Life 1.6 TD Enjoy
Enjin1.0-driesilinderturbopetrol1.6-viersilinderturbodiesel
Krag75 kW/175 Nm68 kW/230 Nm
Ratkas5-spoedhandrat5-spoedhandrat
Brandstofverbruik5.6 ℓ/100 km5 ℓ/100 km
Lugsakke66
Diensplan & waarborg3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

PrysR387 900R389 000

Daar was drie ander rolspelers in dié segment. Ford se Tourneo Connect, Nissan se NV200 en Fiat se Fiorino. Al drie voertuie is van die mark af – en dit laat slegs die Combo en Caddy oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.