Die voorvader van die sportmotor nóg beter

Die Porsche 911 Carrera S in aksie. (Foto: Verskaf)

Wat gebeur as ʼn mens ʼn petrolkop in die Wes-Kaap op twee bergpasse en ongeveer 300 km van die provinsie se beste paaie loslaat? Hy het boonop twee wapens tot sy beskikking: ʼn Porsche 911 Carrera S óf ʼn Carrera 4S.

Vir die eerste gedeelte van ons aanslag in die Kaap was die Carrera S ons wapen.

Die jongste 992-weergawe van die 911 is ʼn evolusionêre getimmer aan die resep. ʼn Resep waaraan daar sedert 1963 geskryf word. Daar is al agt keer aan die resep gevroetel. Kom ek stel dit só. Die Duitsers is ʼn vasberade klomp. Wat hulle oor die afgelope vyf dekades kon bereik is verstommend. Toe ons by Le Pommier tussen Stellenbosch en Franschhoek aankom vir ʼn vroeë oggendkoffie, sê ʼn paar van ons vir mekaar: “Dit is die intreemodel?!”

Ek sukkel nog steeds om dit te verwerk. Ons praat hier van die stadigste model in die 911-reeks wat 0 – 100 km/h in 3,5 sekondes haal met die opsionele Sport Chrono-pakket. Drie. Punt. Vyf. In die stadigste 911?! Dis verregaande.

Die Porsche 911 Carrera S. (Foto: Verskaf)

Ek neem toe die leisels oor van Le Pommier tot in Rawsonville oor die Franschhoekpas. Ek ken die pas nou al taamlik goed, en die 992-weergawe van die 911 val die pas aan soos ʼn duur Switserse horlosie. Hy sit nie ʼn voet verkeerd nie.

Die 911 het drie ander troefkaarte. Eerstens, as ʼn mens hom uit Sport-rymodus haal kan hy heeltemal rustig teen 80 km/h en 1 000 r/min in sewende rat rondploeter. Tweedens het hy vier sitplekke. Eíntlik twee plus twee, maar kom ons sê maar vier. Derdens kan hy onder 10 ℓ/100 km handhaaf as ʼn mens net op die snelweg reis. As ʼn mens soos ʼn totale barbaar jaag – 16 ℓ/100 km. Dit is regtig puik vir dié soort voertuig.

Ek dink die kruks van ʼn Porsche 911 is eintlik heel eenvoudig. Dit is eerstens ʼn spoedvraat-sportmotor, maar hy is ook veeldoelig en kan die kinders skool toe neem. As ʼn mens kyk na voertuie in dié klas is die 911 ook glad nie duur nie. Já … vir Jan alleman is R1,7 miljoen styf … maar ʼn 911 is nie vir almal beskore nie.

Vir dié wat dit wel kan bekostig – geniet elke liewe oomblik van jou 911 – dis ʼn fantastiese stuk ingenieurswese.

Só lyk die binneruim van die Porsche 911 Carrera S. (Foto: Verskaf)

Oor die ingenieurswese. Die bougehalte is indrukwekkend, soos ʼn mens van Porsche verwag. Die ergonomie van die kajuit is puik en Porsche se nuwe digitale skerms werk fantasties net soos in ander Porsche-modelle soos die Panamera, Cayenne en Macan. Die sitplek kan lieflik laag stel en die stuurwiel vir reik en kantel, so ʼn mens is altyd gemaklik en reg om die bergpas aan te durf. Wat mens selfs nog meer beïndruk, is die ritgehalte. Die Carrera S en 4S het geen bakrol nie, maar is geensins uitermatig hard geveer nie.

Porsche het ʼn slim nuwe funksie genaamd “Wet Mode”. Deur middel van sensors lig die motor op sodat ʼn mens op ʼn uitermatig nat pad kan ry, en dit stel die versnellerreaksie terug sodat ʼn mens nie die stabiliteitsbeheer kan afskakel nie.

Ek weet nie hoe die 911 dit doen nie, en dit het Porsche dekades geneem om dit só te kry, maar ek glo nie daar is ʼn ander voertuig wat soveel boksies kan afmerk soos die 911 nie. Hy kan vinnig, óf stadig … hy kan saam met die bestes jaag óf net gemaklik ry en die myle vreet; sy werksverrigting is verstommend en hy is boonop nie swaar op brandstof nie. Dit voel asof daar ‘n perfekte balans is tussen uiterstes sonder dat enige faktor terugstaan vir ʼn ander. Dis toorkuns. Ek probeer ʼn verklaring in my kop soek, maar daar is nie een nie.

Die stadigste model in die 911-reeks kan van 0 – 100 km/h in 3,5 sekondes versnel met die opsionele Sport Chrono-pakket. (Foto: Verskaf)

Die Ford Mustang is net ʼn jaar jonger. Dit is ook ʼn 2+2-sportmotor. Verder eindig die ooreenkomste daar. Die Mustang se padhouvermoë is aaklig. Sy werksverrigting is dalk goed, maar hy is ook uitermatig swaar op brandstof. Ons betaal bitter baie belasting in Suid-Afrika. Ongeveer 43% gaan net só na die staat. In die VSA begin ʼn Mustang by $26 395. Dit is R395 022. ʼn Porsche Carrera S is $113 000. Dit is R1 691 135 – baie nader aan wat ons hier in Suid-Afrika vir hom moet betaal. Dit verwoes ongelukkig my argument, aangesien die Mustang wel ʼn R400 000-voertuig is en dus nie met die Porsche vergelyk kan word nie.

Dit bring my by my opsomming. Die Porsche 911 is uniek. Hy het nie ʼn direkte mededinger nie. As die intreemodel só trek, wil ek beslis sien wat met GTS, Turbo, Turbo S, GT3, GT3 RS, GT2 en GT2 RS gaan gebeur. My verbeelding is dalk te klein, maar ek sien kans vir ‘n uitdaging.

Porsche 911 Carrera S331 kW/ 530 NM8,9 ℓ/ 100 km308 km/h3,7 sek

3,5 sek (Sport Chrono)

R1 708 000
Porsche 911 Carrera S Cabriolet331 kW/ 530 NM9,1 ℓ/ 100 km306 km/h3,9 sek

3,7 sek (Sport Chrono)

R1 874 000
Porsche 911 Carrera 4S331 kW/ 530 NM9 ℓ/ 100 km306 km/h3,6 sek

3,4 sek (Sport Chrono)

R1 797 000
Porsche 911 Carrera 4S Cabriolet331 kW/ 530 NM9 ℓ/ 100 km304 km/h3,8 sek

3,6 sek (Sport Chrono)

R1 964 000

Die reeks word gedek deur Porsche se omvattende 3 jaar/ 100 000 km Driveplan.

Indien jy jou eie Porsche wil bou – kyk hier: https://www.porsche.com/middle-east/_johannesburg_/modelstart/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H ·

Die stadigste 3.5 sekondes van 0 – 100, in die chrono sport,??? die tabel se stadigste is 3.7 sekondes. Dalk moet die skrywe eers die tabel heel onder lees en dan die rebriek skryf.

Arnold ·

Gaan ons nou redekawel oor 0.2 sek? Ek het die berig geniet. Dit het Porsche 911 vir my ten toon gestel en bekendgemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.