Die wêreld se gesogste motor

Foto: Verskaf

Teen 2016 het Toyota reeds 44 miljoen Corollas wêreldwyd verkoop. Dit het gesorg dat Toyota stewig in die eerste plek vir die mees verkoopte motor ter wêreld is. Toyota het sedert 1975 hier Corollas gebou en die laaste Corolla het op 5 Oktober 2019 van die produksielyn afgerol voor dit met die Corolla Quest vervang is. Toyota het al oor die een miljoen Corollas in Suid-Afrika verkoop.

Toyota Suid-Afrika het na my sin ʼn slim strategie bedink. Die RunX het heel goed gedoen, maar toe verander die naam weer na Auris. Die Auris het nooit in Suid-Afrika só goed presteer nie. Toyota Suid-Afrika het slim gedink om die Corolla drie bene te gee. Die Quest, wat plaaslik vervaardig word as ʼn waarde-vir-geld-opsie, die Corolla Hatch wat reeds beskikbaar is en dan die vlagskip van die reeks – die allernuutste Corolla sedan.

Die nuwe twaalfde generasie Corolla word op Toyota se nuwe TNGA-platform gebou. Daar is twee enjins en twee ratkaste beskikbaar, sowel as twee spesifikasievlakke. Die Corolla sedan-reeks lyk nou só:

Toyota Corolla 1.8 XS CVTR380 200
Toyota Corolla 2.0 XR handratR420 500
Toyota Corolla 2.0 XR CVTR433 700

Foto: Verskaf

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan.

Albei enjins is atmosferiese viersilinderpetrolenjins. Die 1.8 bied 103 kW en 171 Nm en het ʼn 7-spoed-palwisseltransmissie (CVT). Toyota maak aanspraak op ʼn puik brandstofverbruiksyfer van 6,2 ℓ/100 km. Die 2.0 bied 125 kW en 200 Nm. Daar is ʼn 6-spoed-handrat en ʼn 10-spoed-palwisseltransmissie beskikbaar. Die 2.0 kan 6,5 ℓ/ 100 km bied.

Ons sal nog ʼn kans kry om tyd met die Corolla deur te bring – maar ek ry tans met een van die modelle wat in die Corolla-reeks beskikbaar is, die Corolla Quest. As ʼn mens die ritgehalte en kalibrasie van daardie voertuig in ag neem, glo ek dat die nuwe Corolla sedan wel aan verwagtinge sal voldoen.

Foto: Verskaf

Die Corolla sedan begin die luukse sedan-segment betree met die toevoeging van digitale instrumente, Apple Carplay en Android Auto, enkeldruk elektroniese vensters, elektronies verstelbare sitplekke, sleutellose toegang, en ʼn selfverduisterende truspieëltjie op die XR-model. Dit word by die reeds indrukwekkende spesifikasievlak gevoeg wat klimaat- en spoedbeheer bied, sewe lugsakke, ISOFIX, ABS, EBD, remhulp, stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp. Die reeksleidende XR-model kry Toyota Safety Sense (TSS) met ʼn magdom bestuurderhulpmiddels soos botsingwaarskuwing, blindekolmonitor, aanpasbare spoedkontrole, outomatiese helderligte en baanbeheer. Die XR kry ook Bi-LED-ligte.

Die C-segment het amper geen sedanmotors oor nie. Toyota gaan dié segment amper heeltemal vir hulself hê. Dis slim.

Ons sal binnekort tyd met die Corolla deurbring en dan ʼn diepgaande resensie doen oor die ry-ervaring en hom dan ook met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.