Digitale nommerplate op die proef gestel

Foto: Pixabay

Kort nadat Dubai verlede jaar die wêreld se eerste hommeltuigtaxidiens begin toets het, het dié land ook nou bekend gemaak dat hy binnekort digitale nommerplate vir voertuie wil infaseer wat onder meer ten doel het om kommunikasie tussen motoriste en owerhede te verbeter.

BBC berig ʼn toetslopie vir dié digitale nommerplate sal reeds volgende maand van stapel gestuur word.

Die voorgestelde nommerplate spog onder meer met ʼn navigasiestelsel en versenders wat kommunikasie tussen motoriste en die owerhede moontlik maak.

Volgens die BBC sal die nommerplate glo nooddienste in kennis stel wanneer ʼn bestuurder in ʼn motorongeluk betrokke was.

Sultan Abdullah al-Marzouqi, hoof van die lisensiëringsdepartement van die land se paaie-en-vervoerowerheid, het aan dié nuuswebwerf gesê die nommerplate is daarop gemik om die lewe van mense te vergemaklik.

Volgens Al-Marzouqi sal die nommerplate regstreekse kommunikasie tussen motoriste moontlik maak wat motoriste in staat sal stel om ingelig te bly oor verkeerstoestande. Hy sê die skerm van die nommerplaat vertoon ook ʼn waarskuwing wanneer ʼn motor gesteel is.

Motoriste sal glo ʼn digitale rekening moet skep wat met die lisensiëringsdepartement verbind word. Betaling vir boetes, parkeerkoste of die hernuwing van registrasies sal van gebruikers se rekeninge afgetrek word.

Al-Marzouqi sê volgende maand se toetslopie sal ʼn aanduiding gee oor moontlike tegnologiese uitdagings wat kan opduik. Daar is ook reeds kommer oor die feit dat owerhede in Dubai die nommerplate kan gebruik om motoriste na te spoor. Hy sê egter die voorstel is nog nie finaal nie en ʼn besluit sal eers ná die toetslopie in November geneem word.

Daar heers ook nog steeds onduidelikheid of die hommeltuigtaxidiens wel binnekort in in werking sal tree. Die vlieënde taxi, wat deur die Duitse hommeltuigmaatskappy Volocopter ontwikkel is, wek reeds kommer oor die veiligheid en wettigheid daarvan.

Lees maar oor dié taxi’s op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.