Dís mos ʼn mouterkar

Die Audi A6. (Foto: Verskaf)

Die wêreld se obsessie met die sportnutsvoertuig stel die motorbedryf in groot gevaar. Almal wil groot, lomp, “praktiese” sportnutsvoertuie koop – en dis ʼn jammerte.

Ek het onlangs ʼn paar dae met Audi se nuwe A6 deurgebring … en die voertuig is fantasties. Die ontwerp is pure Audi, ʼn konserwatiewe dog pragtige groot sedan. As ʼn mens die binneruim betree, is die ruimte opvallend.

Die binneruim is gepeper met leer en pragtige materiale asook puik bougehalte. Die groot raakskerms en digitale instrumente rond die pakket pragtig af, al is die raakskerms aanvanklik verwarrend om te bemeester. Ek persoonlik verkies knoppies, maar die raakskerms lyk pragtig, en eienaars sal dit vinnig gewoond raak – dan is dit vir hulle maklik.

ʼn Stratosferiese spesifikasievlak verwelkom jou in die kajuit. Daar is ʼn pragtige klankstelsel, sitplekgeheue, lugreëling, aanpasbare spoedkontrole, parkeerhulp met kameras én ʼn magdom veiligheidstelsels soos ses lugsakke, ABS, EBD, stabiliteit- en vastrapbeheer.

Die Audi A6. (Foto: Verskaf)

Dit bring my by die juweel van die A6. Sy 2.0-viersilinderturbodieselenjin. Dié enjin bied 140 kW en 400 Nm. O ja, 0–100 km/h neem 8.4 sekondes en hy sal aanhou draf tot 237 km/h. Dit is egter nie sy troefkaart nie. Die feit dat ʼn mens redelik maklik 5.7 ℓ/ 100 km teen 120 km/h op die oop pad kan handhaaf, is fantasties. Die enjin is lieflik verfyn sonder veel dieselgeraas wat in die kajuit indring.

Die tweede troefkaart is die sedan se ritgehalte. In ʼn see van groot, swaar sportnutsvoertuie voel die A6 soos die fynste ballerina in ʼn paar pointes. Sy padhouvermoë is beter as wat enige eienaar ooit gaan benodig, en sy ritgehalte fantasties.

Dit is baie maklik om die A6 op te som. Dis ʼn lieflike, luukse sedanmotor met ʼn groter kattebak as die meeste sportnutsvoertuie. Hy is goedkoper ook. Die A6 beklemtoon hoe puik ʼn kar kán wees.

Die reeks lyk só:

Audi A6 40TDI140 kW/400 Nm5.2 ℓ/100 kmR919 500
Audi A6 45TDI quattro183 kW/600 Nm6.5 ℓ/100 kmR1 100 000
Audi S6 TFSI quattro331 kW/600 Nm8.3 ℓ/100 kmR1 401 500

Die kompetisie lyk só:

Volvo S90 D4 Momentum140 kW/400 Nm4.4 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR834 600
Mercedes-Benz E220d143 kW/400 Nm4.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R935 200
BMW 520d140 kW/400 Nm5.2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R935 996
Jaguar XF 20d Prestige132 kW/430 Nm4.3 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg en omvattende instandhoudingsplanR945 922

Die mededingers is almal amper identies geprys. Die Jaguar is ʼn bietjie oud tussen die ander. Almal is fantastiese voertuie. Gaan toetsbestuur beslis een voordat jy net ʼn sportnutsvoertuig koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae