Dis ʼn bakkie-oorlog!

Fiat Fullback

Fiat Fullback

Ons Suid-Afrikaners is baie lief vir ons bakkies. Daar is wel permanent “oorlog” tussen die Ford- en Toyota-manne, en tot onlangs was jou keuses dan nog Mazda se BT-50, Volkswagen se Amarok, Nissan se NP300 of Navara, Isuzu se KB, Mitsubishi se Triton, GWM se Steed, Foton se Tunland, Mahindra se Scorpio, Bolero of Genio en uiteindelik Tata se Xenon.

Die mark is onlangs bietjie deurmekaar gegooi met Ford se nuwe Ranger, en toe kort op sy hakke Toyota se nuwe Hilux.

Tot my verbasing, kom ek nou agter daar is nóg spelers in die mark…

Fiat het sopas sy nuwe Fiat Fullback bekendgestel. Die Fullback is beskikbaar met beide 4×2 of 4×4 in die dubbelkajuit, en twee enjins: 2.4 petrol met 97kW en 2.5 diesel met 100kW. Die top model, 2.5 diesel 4×4 LX het dieselfde 2.5 diesel maar met 131kW.

Die 2.4 petrol is beskikbaar vanaf R232 900. Die 4×2 2.5 diesel begin by R402 900 terwyl die 4×4 LX R468 900 kos. Die reeks geniet ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan.

Die bakkie lyk netjies, maar ons sal wag vir ʼn volledige padtoets om oor kwaliteit, krag en ritgehalte kommentaar te lewer.

Ford Ranger XLT

Ford Ranger XLT

Ford het ook onlangs sy Ranger-reeks opgeknap met outomatiese ratkaste op die 2.2 diesel, in die enkel, super of dubbelkajuit. Omdat groot bakkies die meeste van die tyd as leefstylmotors gebruik word in Suid-Afrika, dink ek hierdie enjin- en ratkaskombinasie kan vir Ford ʼn reusesukses wees.

Die reeks se pryse lyk so:
Ranger 2.2 TDCi enkelkajuit XL 6AT 4X2 – R311 900
Ranger 2.2 TDCi enkelkajuit XLS 6AT 4X4 – R426 900
Ranger 2.2 TDCi enkelkajuit XL 6AT 4X2 – R357 900
Ranger 2.2 TDCi enkelkajuit XLS 6AT 4X2 – R411 900
Ranger 2.2 TDCi enkelkajuit XLS 6AT 4X4 – R472 900
Ranger 2.2 TDCi dubbelkajuit XL 6AT 4X2 – R384 900
Ranger 2.2 TDCi dubbelkajuit XL 6AT 4X4 – R426 900
Ranger 2.2 TDCi dubbelkajuit XLS 6AT 4X4 – R517 900
Ranger 2.2 TDCi dubbelkajuit XLT 6AT 4X2 – R482 900

Alle modelle word verkoop met ʼn standaard 4 jaar/120 000 km waarborg, 5 jaar/100 000 km-diensplan (behalwe basiese modelle) 3 jaar/onbeperkte km padbystand en 5 jaar/onbeperkte korrosiewaarborg. Diensintervalle is elke 20 000 km.

Isuzu X-Rider

Isuzu X-Rider

Isuzu het nou ook ‘n nuwe toevoeging tot sy reeks met die Isuzu KB X-Rider.

Dit is meer ʼn spesialewaardemodel, gebaseer op die KB250 Hi-Rider 4×2 ‘extended’ of dubbelkajuit. Hy is maklik uitkenbaar met sy 18 duim wiele, swart kant-trappe en ʼn paar ander visuele opknappings.

Die X-Rider spog ook met ʼn opgegradeerde sleepstang met 2.1 ton geremde-sleepwa kapasiteit, LED-dag ligte en sleutellose toegang en leer bekleedsel. Die X-Rider is beskikbaar in ʼn paar kleure, Summit White, Switchblade Silver of Maranello Red. Hy prys so:

Isuzu KB 250 HO X-Rider vergrote (“extended”) kajuit – R355 900
Isuzu KB 250 HO X-Rider dubbelkajuit – R366 380

So, om op te som. As jy tans in die mark is vir ʼn bakkie – is daar amper te veel om van te kies. Ek sou sê, kyk na die koopprys teen die depresiasie. Ek sou ook nie waarborg en diensplan ignoreer nie. Besluit of jy 4×2 of 4×4, handrat of outomaties, diesel of petrol wil hê, maak ʼn kortlys van drie of vier en gaan toetsbestuur hulle almal.

Een van die bakkies gaan beslis met jou hartsnare speel, en almal weet – as jy eers lief is vir ʼn ding, kan niks jou keer nie.

O en moet nie vergeet nie, binnekort sien ons die Amarok met ʼn 3.0 TDi V6 enjin. Navara is ook binnekort op pad. Renault het sopas oorsee sy nuwe Alaskan bekend gemaak en Mercedes-Benz werk ook aan ʼn dubbelkajuit… opwindend nè?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wonder Net ·

Elke ou soen sy vrou op sy eie manier. So het elke man ook sy eie bakkie keuse. Wat vir my baie vreemd is dat die bakkie pryse van verskillende vervaardigers omtrent almal dieselfde kos. Is dit per toeval of word die pryse kunsmatig gemanupileer deur die mark?

Brendon ·

Ek dink elke vervaardiger werk baie hard om kompeterend te wees as hulle bakkies op die mark kom. Of dit nou kunsmatig is, sal ek nie weet nie. Dalk ‘n goeie storie… hou die spasie dop!

Christo ·

Ek is oortuig motors in SA is so duur want ons is bereid om daardie opgeblaasde pryse te betaal. Dieselfde Corolla wat hier in Durban vervaardig word, is aansienlik goedkoper in Nieu Zeeland as by ons! Maar nou ja…

Rupert Ashford ·

Christo en dan moet jy die pryse in die VSA gaan kyk. Ford F150 bakkie ( amper die luuksste een) kos US $60K en dit het alles wat jy in ‘n luukse motor sal kry.

Pieter ·

Een vd redes vir alles wat duur is, is dat die Suid Afrikaanse arbeidsmag slegs 15% so produktief is as hul internasionale eweknieë. Of andersom; buitelanders produseer 6 x soveel as hul Suid Afrikaanse eweknieë vir dieselfde salaris. En daardie tekort word van kopers verhaal.
Ander probleem is dat wisselkoers/pryse van grondstowwe ens, deur n koalisie van westerse regerings bepaal word, en in vandag se tyd dien dit as tipe van ekonomiese wapen teen veral lande wat die dampkring Gemenebeslande wil verlaat en by BRICS aansluit. Bretton-Woods, IMF, Wêreldbank, kredietgraderingsagentskappe is almal westers-beheerd.

Johann Marx ·

Die “pryse” word nie bepaal deur die “waarde” van die voertuig, of die koste om dit te vervaardig nie, maar deur die “mark” se beskikbare besteebare kapitaal. Toe mense R10 000,00 per maand verdien het, en jy kon 25% van jou salaris aan “huurkoop” spandeer, was voertuie se pryse R2 500,00p.m. oor 60 maande. Skielik gebeur die nuwe Suid Afrika, die Rand verwater, mense gee hulleself verhogings, en dis nou nie snaaks om R60 000,00 per maand te “kry” nie (ek weet nie of mens “verdien” hier kan gebruik nie). En wat gebeur? Voertuie is pryse is nou R20 000,00 p.m. oor 60 maande. Wat het verander aan die voertuig? Niks, behalwe die prys. Hoe meer geld mense “verdien”, hoe meer hoër styg die prys van die voertuie. Dis die regering se “melkkoei”….want op elke voertuig betaal die vervaardiger, die verskaffer, die handelaar en die koper enorme heffings, belastings en BTW.

Raymond ·

Daar is baie nuwe keuses van voertuie op die mark, en die dae van ‘n “slegte voertuig” koop is verby. Maar bygesê elke vervaardiger het sy Maandag oggend of Vrydag middag karre.

Wat eintlik nie snaaks is nie, is dat elke nuwe model tussen die Toyotas of Isuzus of Fords of watookal duurder moet wees as die opposisie s’n. So half asof jy meer bakkie kry omrede dis ‘n nuwe model, so dit beteken meer betaal? Rerig? Hoe spring die prys met so R50k met elke nuwe model? Konkel die verskaffers saam?

O ja, dan moet jy inelkgeval nog roll-bar, tow-bar en leer sitplekke byvoeg by die prys…en ‘n radio, sal nice wees. Gelukkig hoef jy nie oor die algemeen indicators last uithaal in ruil vir die nuwe sat-nav stelsels soos met die BMW’s nie!

Ek stem saam met Christo…ons betaal maar baie.

Koeidooder ·

Ek het vanoggend weer vasgesit daar by die driffie naby my sussie se plaas. Terwyl ek en my skoonbroer wag vir die water om te sak het hy bietjie visgevang uit die venster en ek het op die internet geswerf. Dit is toe dat ek hierdie artikel van julle oor die bakkie oorlog gelees het.

Ek wil net sê daardie nuwe Fiat Fullback is die nuwe 6de generasie Mitsibishi L200 (Triton). Hulle het net die voorkant van die bakkie verander en ‘n Fiat sticker opgeplak. Hulle sê as jy skryf moet jy skryf vanuit jou ervaring en kennis. So, in my ervaring kan mens vars koeimis vorm totdat dit soos ‘n sjokolade koek lyk, maar dit gaan nie die smaak verbeter nie.

koper en verkoper ·

jip – die pryse raak net “duurder en duurder”- ma nou ja êrens gaan die hand nou weer oorspeel dus is die mark eintlik nou waaa-wyd oop vir goedkoper kwaliteit modelle – soos ons in die outyd gehad het – want jy kan omtrent nie eers meer ‘n “werksbakkie” bekostig nie!
terug na die basiese – om waarde toe te voeg word bakkies “gelaai” met tegnologie- maar êrens gaan die kloukie die oor verby en gaan die bakkie bouers die kol mis soos nou begin gebeur met prys.

Francie ·

Hoekom die woord “bakkie” gebruik?
Bakkies word gebruik vir poeding, ontbytpap en sop.
‘n Trokkie word gebruik as voertuig – of dit nou ‘n Toyota, Isuzu, Ford of watter fabrikaat ookal. Die woord val lekker op kpu tong en klink sommer meer na ‘n staatmaker.

Francie ·

Ai tog, hierdie spelfoute! Jammer, die laaste sinnetjie moet lees “…. op die tong….”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.