Dis wat dié algemene geluide aan jou motor beteken

Foto: Tisha Steyn

Foto: Tisha Steyn

Dit vat nie altyd ʼn werktuigkundige om te weet daar is iets fout met jou motor nie. As jý iets ongewoon aan jou motor gevoel of gehoor het terwyl jy bestuur, is dit áltyd die moeite werd om ondersoek in te stel, meen Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Dié wenke is in die kol voordat baie mense vir die Desembervakansie vertrek en waarskynlik lang afstande op die pad gaan deurbring.

Daar is jaarliks ʼn groot dodetal op Suid-Afrikaanse paaie en padveiligheid begin voordat motoriste met hul reis vertrek.

Hier is ʼn paar algemene geluide wat jou motor kan maak en wat hulle dalk mag beteken:

Harde yster-op-yster skreeugeluid wanneer jy die rempedaal trap.
Die remskoene of –skywe is dalk verslete en moet waarskynlik vervang word.

Die stuurwiel vibreer effens.
Die wiele is waarskynlik ongebalanseerd en moet gebalanseer en belyn word.

Die ruitveërs haak en raas wanneer hulle oor die windskerm vee.
Die rubber op die ruitveërs het verweer en vee nie meer die windskerm deeglik skoon nie. Vervang dit so gou moontlik.

Daar’s ʼn konstante ‘woer’-klank vanuit die enjin.
Die brandstofpomp kan in die proses wees om onklaar te raak en moet dalk vervang word. Die motor sal tipies sukkel om aan die gang te kom, krag verloor en/of stotter terwyl jy ry. Jy kan dit vermy deur nie die motor se brandstoftenk tot onder ʼn kwart vol te laat daal nie.

Jy hoor ʼn duidelike stampgeluid wanneer jy oor ʼn spoedhobbel ry.
Dit dui waarskynlik op ʼn probleem met die motor se skokbrekers of veringstelsel, aan.

Jy hoor ʼn ‘klak’-geluid naby die wiele wanneer jy draai.
Die gelykeskakeling-koppelingseenheid (CV joint) is waarskynlik afgeslyt en moet vervang word.

Die stuurwiel kreun wanneer jy dit draai.
Daar mag dalk ʼn lek in die kragstuurmeganisme wees of die kragstuurpomp het onklaar geraak.

Daar is ʼn harde skreeugeluid vanuit die enjin wanneer jy versnel
Dit kan beteken dat die waaierband gly en dat dit vervang moet word.

Jou motor se bande is beslis nie pap nie, maar jy kan ʼn ligte stampgeluid hoor terwyl jy bestuur.
Dit mag dalk as gevolg van plat kante op die loopvlak van die bande wees, veral as die motor vir ʼn geruime tyd stilgestaan het. Die loopvlak se vorm behoort te herstel na ‘n paar kilometer se ry, maar soms is plat vlakke op bande meer permanent. Indien dié geluid nie verdwyn nie, laat ʼn kenner die bande nagaan.

Die klank van hoëdruklug wat uit die enjin ontsnap – tipies ʼn hoë frekwensie skreegeluid.
Daar mag dalk ʼn lekplek in die skakel tussen die enjin en uitlaatstelsel wees, wat veroorsaak dat warm en skadelike uitlaatgasse die kajuit kan binnedring.

Jy kan ʼn effense ‘sisgeluid’ vanuit die enjin hoor wanneer die motor luier.
ʼn Rubber of plastiese vakuumpyp of –koppeling kon dalk ontkoppel of geskeur het en moet óf weer vasgemaak óf vervang word.

Daar is ʼn gerammel van uit die enjin wanneer die motor luier.
Maak seker of daar enige verkoelingsvloeistof onder die waterpomp is wanneer die enjin koud is. Indien wel, is die waterpomp moontlik besig om onklaar te raak.

Besoek Virseker se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Temperatuur ·

Hou ook maar die temperatuurmeter dop. Sowat ‘n week gelede het dit skielik met my gebeur in stadsverkeer dat die naald skielik in die rooi beweeg het. Die eerste keer in 56 jaar se bestuur. Deur die verwarmer aan te skakel kon ek die 40 km huiswaarts aflê. Die termostaat het in die toe-posisie vasgesteek.
Oneweredige bandslytasie kan ook te doene hê met swak skokbrekers waar die wiel letterlik op en af spring en dus met die opgaan spoed vermeerder en met padkontak vryf op die pad.
‘n Voertuig wat eenkant laer is as die anderkant het niks te doen met defektiewe skokbrekers maar met die veerstelsel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.