Ducati Monster 821: Ikoniese middelgewig

Foto: Brian Cheyne

In 1992 het Miguel Galluzzi ʼn ikoon ontwerp: die Ducati Monster. Dit was ʼn 900 cc-motorfiets met ʼn ontblote raam en het verskeie onderdele met ander Ducati’s gedeel. Dit het die Monster bekostigbaar gemaak, en verskeie mense is van mening dat die Monster Ducati uit ʼn finansiële verknorsing gered het.

Die afgelope 25 jaar het verskeie weergawes van die Monster al die lig gesien. Van op intreevlak ʼn 400 cc tot by die 1200 cc van vandag. As jy egter nog nie gereed is om jou lendene te omgord met die 1200 cc, ʼn 160-perdekrag-Monster, nie kan jy gerus kyk na sy kleiner stalmaat: die Ducati Monster 821.

Foto: Brian Cheyne

Hierdie fiets gebruik steeds die bekende tweesilinder- Testastressa-11-grade-enjin, en ontwikkel 82.4 kW oftewel 109 perdekrag. Vir 2018 het die 821 egter so ʼn paar kosmetiese veranderinge ondergaan. Die brandstoftenk is herontwerp om meer soos die 1200 te lyk. Die hooflig is verander met LED-dagryligte en daar is ʼn nuwe uitlaatpyp om die fiets aan die Euro 4-vereistes te laat voldoen.

Die grootste verandering is egter aan die elektronika gemaak.

Foto: Brian Cheyne

Nie net het die 821 nou ʼn volkleur-TFT-skerm nie, maar daar is ook nou agt vlakke van tolbeheer, drie vlakke van sluitbeheer en drie enjinprogramme. Omdat ek fietse vir slegs ʼn paar dae uittoets, kon ek nooit juis die verskil tussen ryprogramme op fietse agterkom nie. Met hierdie Monster 821 is die verskil tussen sy ryprogramme merkbaar. Toe ek uiteindelik uitwerk hoe om hom in sy Sport-program te kry, het die fiets merkbaar skerper gevoel en ʼn totaal ander ry-ervaring gebied. Afgesien van gietende reën is daar geen rede om hom ooit uit hierdie program te haal nie.

Foto: Brian Cheyne

Die Monster is ʼn eenvoudige en kompakte fiets, ideaal vir pendel deur die week en lekker speel oor naweke. Die 2018-model bring hulde aan die oorspronklike Monster deurdat hy beskikbaar is in die oorspronklike geel afwerking. Daar is ook ʼn hegstukkie op die brandstoftenk wat die 900 naboots.

Die saal is verstelbaar in hoogte, maar met my lengte het ek gesukkel om gemaklik te raak op die Monster. Die afstand van die saal is klein en my bene was redelik beknop. Daar is hoër en laer sale beskikbaar, so as ek self so ʼn fiets koop, kan ek seker ʼn plan maak.

Foto: Brian Cheyne

Wanneer jy stop en jou regterbeen uitsit, raak dit aan die hitteskerm oor die uitlaatpyp en dit kan geniepsig warm raak. Ergonomies is jy egter in die perfekte posisie as die pad ʼn paar kinkels inkry. Ek wou nie te waaghalsig wees met die fiets nie, want sy bande was nog splinternuut, maar ek kon sommer voel hierdie Monster wil speel. Rigtingverandering is onmiddellik en verg nie veel inspanning nie.

Daar is dubbele skywe voor en die Brembo-knypers het hulle goed van hulle taak gekwyt om die 821 tot stilstand te bring. Snelskakeling is opsioneel op die 821 en dit is beslis een van die opsies wat ek sal oorweeg, want Ducati se snelskakeling is van die bestes wat daar is.

Kaalfietse was nog nooit groot in Suid-Afrika nie, maar die Ducati Monster 821 is ʼn bekostigbare toetrede tot die Ducati-stal. Daar is maar net iets aan die naam wat ʼn emosie aanraak soos geen ander fiets nie. Die unieke klank van die L-Twee-enjin maak die hele ry-ervaring aangenaam. Ek verstaan nou hoekom die Monster een van die gewildste Ducati’s is.

Produkblad: http://ducati.co.za/

Die feite:

Enjin821 cc-L-twee
Gewig (Droog)180 kg
Kraglewering80 kW/109 pk @ 9 250 rpm
Wringkrag86 Nm @ 7 750 rpm
Tenkkapasiteit16.5 L
SaalhoogteVerstelbaar 785–810 mm

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.