Ducati Panigale V4: ʼn Nuwe Ducati-hoofstuk

Die Ducati Panigale V4 (Foto: Ducati)

ʼn Kwart van Bologna in Italië staan bekend as Borgo Panigale. Dit is ook die geboorteplek van ʼn baie eksotiese motorfiets: die Ducati Panigale.

Die 90-grade-, tweesilinder-enjin was nog altyd die hartklop van Ducati-modelle. Dan is daar nog die Ducatirooi verf en vloeiende, amper sensuele lyne van sy motorfietse. Die doel van die sportfietse is egter nie net om mooi te lyk nie, maar om alles voor hulle van die baan af te vee.

Ducati was baie suksesvol in die superfiets-kampioenskap tot 2011. Ironies genoeg het die Panigale-naam die eerste keer op ʼn sportfiets verskyn in 2011 en van 2012 af het die kampioenskaptitels opgedroog. Die afgelope drie jaar is oorheers deur Kawasaki. Ducati het hier en daar ʼn wedren gewen, maar met die beperkings wat hierdie kampioenskap op enjins plaas, was die Panigale tot die uiterste ontwikkel. Ducati moes ingryp. Om meer krag te kry, moes Ducati nog silinders byvoeg.

Die Ducati Panigale V4 (Foto: Ducati)

Vir 2018 het Ducati die nuwe Panigale V4 aan die wêreld bekend gestel. In die geskiedenisboeke van Ducati sal dit egter ʼn nuwe hoofstuk inlyf. Die Panigale-naam leef voort, maar in plaas van die enjinverplasing as modelnaam, heet die nuwe fiets net V4. Vir die eerste keer het Ducati ʼn viersilinder in ʼn produksiemotorfiets. Die enjin staan ook nou bekend as die Stradale en verplaas 1103cc. Die V4 is ontwikkel uit hul MotoGP-program en lewer ʼn formidabele 214 perdekrag, en dít vir ʼn fiets wat nie eens 200 kg weeg nie. Sit jy die Akrapovič-renuitlaatpyp op, gaan hierdie syfer op na 226 perdekrag. Ducati is slaggereed vir die superfiets-kampioenskap en met ryers Chaz Davies en Marco Melandri hoop ek dat Ducati weer kan koning kraai.

Met groot krag kom groot verantwoordelikheid, en ons is nie almal Chaz Davies nie. Vir daardie doel is die Panigale toegerus met die heel nuutste elektroniese veiligheidskenmerke. Die fiets se momentum word in elke hoek gemonitor deur ʼn Bosch-stelsel en bied selfs ʼn beheerde gly in ʼn draai in.

Die Ducati Panigale V4 (Foto: Ducati)

Sluitwering neem jou leunhoek in ag en selfs die snelskakeling op die ratte word deeglik beoordeel voor die Panigale sal reageer. Met Ducati se wye kennis van renfietse is baie van hierdie tegnologie direk oorgebring vanaf sy renprogram.

Daar is drie modelle om van te kies: die Panigale V4, die V4S en die V4 Speciale. Die S kry Öhlins-vering, ander vellings en ʼn liggewig battery. Die Speciale is oorlaai met koolvesel-onderdele en ʼn ekstra swaar prysetiket.

Ducati Randburg het hierdie komende naweek ʼn ope dag waar jy die V4 in lewende lywe kan sien. Onthou, 16 Februarie is eksklusief vir Ducati-eienaars, maar Saterdag en Sondag is oop vir almal. Hulle is by Bram Fischerrylaan 174, en sowel die nuwe Ducati Monster 821 en die Multistrada 1260 gaan ook te sien wees. ʼn Meer volledige verslag sal volg as hulle my sal toelaat op die enkele toetseenheid.

  • Vrydag 16 Februarie, 15:00 tot 19:00, is slegs vir Ducati-eienaars.
  • Saterdag 17 Februarie, 11:00 tot 15:00, en Sondag 18 Februarie, 09:00 tot 13:00, is oop vir almal.

Die Ducati Panigale V4 (Foto: Ducati)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.