Ducati Panigale V4: Toeganklike verrigting met Italiaanse styl

Die Ducati Panigale V4 (Foto: Ducati)

Jy kan maar soveel foto’s en video’s kyk as wat jy wil, maar niks kom by die ervaring om die Ducati Panigale V4 in lewende lywe te sien nie. Gooi jy nog ʼn been oor en druk die aansitter, dan slaan jy skoon hoendervleis uit.

Ducati se vlagskipfiets is die Panigale. Verder is Ducati sinoniem met ʼn V-twee-enjin. Vir Ducati om nou sy kenmerkende V-twee te vervang met ʼn V-vier is ʼn groot stap vir die manne van Bologna. Hierdie jaar gaan uitstaan as die jaar wat Ducati ʼn nuwe rigting ingeslaan het. Die Panigale V-twee-enjin het oor die jare al groter geword om al meer krag uit die eenheid te kry. Trouens, die nuwe Ducati Multistrada is pas bekend gestel met ʼn enorme 1 260 cc-enjin, maar dis in ʼn groot, bonkige storiefiets. In ʼn superfiets moet alles so kompak en lig moontlik wees, dus was die logiese roete ʼn meer kompakte V-vier-enjin.

Die ouer Panigales was gebore op, en gemaak vir die baan. Die konsep van die V4 was om daardie geweldige verrigting toeganklik te maak vir mense soos ek wat nie ʼn leerpak besit nie. Die fiets moes die gemiddelde ryer laat goed lyk. Vir die ervare ryers is dit ʼn fiets wat makliker is om vinniger mee te ry as wat voorheen moontlik was.

Om dit reg te kry, is die Panigale toegerus met seker die mees gevorderde elektronika wat ek nog ervaar het op ʼn motorfiets. Toe ek die motorfiets gaan haal het, moes ek omtrent klas loop om deur al die verstellings te gaan. Daar is drie variante van die V4 beskikbaar. Die V4, V4 S en die V4 Speciale. Die fiets wat ek gehad het, was die V4 S-weergawe. Hierdie model beskik oor elektronies verstelbare Öhlins-vering. Alles kan verstel word, selfs die maksimum hoek wat jy die voorwiel wil laat lig. Op een vinnige wegtrek kon ek voel die voorwiel is van die grond af, maar die Ducati het net aanhou versnel. In geen stadium het ek gevoel dat die elektronika inmeng nie, hoewel dit vir seker hard aan die werk was.

Die enjin lewer 214 perdekrag, en hoewel die enjin swaarder is as die V-twee het Ducati dit steeds reggekry om die gewig van die Panigale onder 200 kg te kry. Skil jy al die bakpanele af, sal jy sien dat die raam ʼn minimalistiese ontwerp het. Die manier hoe die uitlaatpype gebuig en gevorm is sodat die uitlaatdemper onder die fiets sit, is meesterlik uitgevoer. Dit dra by tot die Panigale se elegante lyne, en dat die uitlaatpyp nie die agterwiel versteek nie. Die uitlaatpype genereer egter baie hitte, en jy moet maar jou spoed hoog hou dat die wind die hitte weglei. Dit is g’n pendelfiets nie. As jy vir lang tye moet stilstaan by verkeersligte gaan die V4 se sitplek kort voor lank ʼn baie ongemaklike plek wees.

Die Ducati Panigale V4 (Foto: Ducati)

Die ratkas is toegerus met snelskakeling en Ducati het hom in die kol gekry met die V4. Elke skakeling gebeur glad en met die terugskakeling gee die enjin so ʼn kort nies voor hy terugskakel na ʼn laer rat.

Alles werk saam om die V4 ʼn simfonie van klanke te maak. As hy luier, klink hy soos die ou V-twee, maar druk die toere verby 7 000 rpm dan verander die Panigale se hele stemtoon en laat koppe behoorlik draai. Dit help ook om my benoude geskree uit te doof. Bo 7 000 rpm moet jy jou vashou ken. Die fiets is so gemaklik om te ry dat jy nie besef hoe vinnig jy ry nie.

Die Panigale V4S is geweldig kragtig maar tog nie intimiderend nie. Ek dink, soos jy meer tyd deurbring met hierdie rooi vuurpyl, sal jy al meer die elektronika kan terugstel en die fiets net nog meer waardeer. Jy sal egter jou naam op ʼn waglys moet gaan sit en as jy eendag jou fiets kry, sal jy ook die wondere van hierdie Italianer kan ervaar. En dit sal elke sent werd wees. Die Panigale V4 het pas die standaard gelig tot nuwe hoogtes.

Vir meer inligting, besoek die produkblad hier.

In ’n neutedop:

Enjin1 103 cc V-vier
Gewig (droog)175 kg
Maksimum kraglewering157 kw/214 pk
Saalhoogte830 mm
Tenkkapasiteit16 L
PrysV4 – R280 000

V4 S – R349 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ben Niemand ·

157KW. R394’000. Ek kan aan goedkoper maniere dink om selfmoord te pleeg. Alhoewel nie een van hulle so lekker sal wees nie…

ChrisE ·

Stem saam Ben. Die probleem is nie die fiets nie, maar die persoon op die fiets en die mede padgebruikers. As jy ofensief ry is die kanse goed jy gaan pak kry. Ek ry deesdae selfs in my klassieke twee deur Duitse “sportmotor” VW, defensief. Die padreëls en ander padgebruikersword eenvoudig net nie meer respekteer nie. Dit is voorwaar ‘n merkwaardige fiets wat die Taljaners hier mee te voorskyn gekom het. Ek wil en gaan glad nie naby die winkel verby loop of ry nie. Ek ken myself ek sal daar in loop en vra vir ‘n “spin”. Ek gaan sterk staan en my weerhou van versoekings. Ek durf dit nie eens aan my vrou te noem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.