Ducati se nuwe Multistrada V4

Die Ducati Multistrada V4. Foto: Verskaf

Die tyd van afsondering het aan Ducati se ontwerpers die geleentheid gebied om feitlik die hele Ducati-reeks te verfris. Daar was soveel nuwe modelle dat Ducati die bekendstellings oor ’n paar dae moes doen. Die meeste van die modelle het klein opknappings gekry, maar die een fiets wat my aandag getrek het, was die nuwe Multistrada V4.

Die Ducati Multistrada was, en is, nog altyd een van my gunstelingfietse. Die stilering van die fiets is nie vir almal nie, maar dit is beslis een van die fietse wat ek graag in my motorhuis sal wil hê. Multistrada beteken “vir vele paaie” en nou het Ducati pas die splinternuwe Multistrada V4 bekend gestel met heelwat nuwighede wat van die Multistrada net nog ’n beter proposisie maak.

Die Ducati Multistrada V4. Foto: Verskaf

Om mee te begin, het Ducati sy V4 Grantourismo-enjin bekend gestel. Hierdie enjin beweeg weg van Ducati se Desmodronic-klepmeganisme na ’n meer konvensionele enjinkonfigurasie. Dit het Ducati in staat gestel om sy diensintervalle te vergroot wat onderhoudskoste minder maak. Die enjin lewer 170 pk. teen 10 500 r.p.m. met 125 Nm wringkrag, so daar is steeds meer as genoeg woema.

Die lys van elektroniese hulpmiddels word ook met elke aangepaste herhaling net langer en langer. Alles waaraan jy kan dink, word gedek deur die een of ander afkorting. Alles word gemeet en gemonitor en die fiets sal dienooreenkomstig aanpas en reageer. Na gelang van die lading word die vering ook outomaties aangepas soos jy ry.

Die Ducati Multistrada V4. Foto: Verskaf

Een nuwe ontwikkeling waaraan Ducati nou al ’n geruime tyd werk, is ’n radarmodule wat voor en agter op die fiets gemonteer is. Dit laat jou toe om die spoedbeheer te stel om die motor voor jou te volg. Dit identifiseer ook items in jou blinde kol wat hopelik sal bydra tot ’n baie veiliger rit.

Die instrumentasie is ook splinternuut met ’n 6.5”-TFT-skerm. Koppeling met jou selfoon is moontlik wat jou toelaat om jou foon se navigasie te gebruik. Nog ’n handige eienskap van die nuwe fiets is die klein paneelkissie op die tenk. Jy kan jou foon daarin stoor en laai deur middel van ’n USB-sok.

Die Ducati Multistrada V4. Foto: Verskaf

Die Multistrada is egter gemaak vir die oop pad en hier het die Ducati-ingenieurs baie tyd afgestaan aan die ergonomie van die nuwe fiets. Met aërodinamiese studies het hulle daarin geslaag om die optimale windbeskerming te bied en terselfdertyd hitte van die enjin weg te kry van die ryer af. Op die Panigale V4 was die hitte van die enjin baie ongemaklik, veral in stadsverkeer. Ducati het die enjin nou só ontwerp dat die agterste twee silinders afskakel as die fiets stilstaan. Dit behoort die hitte minder te maak in alledaagse gebruik.

Dis in hierdie stadium nog onduidelik presies wanneer die nuwe fiets hier in Suid-Afrika gaan aankom, maar wees gerus, ek sal genoeg bohaai maak as hy wel opdaag!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.