Ducati se Streetfighter belaai met onbeskaamde aggressie

Ducati Streetfighter V4. (Foto: Brian Cheyne.)

Party mense verwys na hul motorfietse in die vroulike vorm. Ander gaan so ver as om hul motorfietse ’n naam te gee. So gebeur dit toe dat ek met Braam Smit, die nuwe algemene bestuurder by Ducati Suid-Afrika, sit en gesels oor sy rooi Ducati Steetfighter. Haar naam is Isabella en sy het ’n storie. Net meer as ’n jaar gelede het Ducati Suid-Afrika ’n nuwe eienaar gekry: Jos Matthysen. Hy het nie net die vertoonlokaal geskuif van Randburg na Centurion nie, maar het ook ’n heel nuwe span bymekaar getrek om Ducati uit te brei in Suid-Afrika.

Braam Smit was vir baie jare betrokke by BMW. Trouens, ek het hom in 2001 ontmoet toe ek my F 650 GS gekoop het. Min het ons geweet dat ons paaie weer sou kruis. Met Jos nou aan die stuur van sake hier in die land, word daar groot dinge vir Ducati verwag. Midde in die grendeltyd het Jos die media genooi na ’n geleentheid om die eerste paar Streetfighters wat bestel is aan hulle nuwe eienaars te oorhandig. Dit was ’n baie gesellige aand en Jos het ook die sleutels van ’n rooi Streetfighter aan Braam oorhandig. Braam het haar dadelik Isabella gedoop.

Ducati Streetfighter V4. (Foto: Brian Cheyne.)

Ek wou so ʼn paar foto’s van die fiets geneem het in die vertoonlokaal, maar Braam het aangebied dat ek Isabella kon leen vir so twee dae. Ek het nie ’n tweede uitnodiging nodig gehad nie.

Ek het twee jaar gelede die Ducati Panigale V4 getoets en die Streetfighter is niks anders as juis ’n Panigale V4, minus die bakpanele nie. Daar is maar oudergewoonte tweespalk oor die ontwerp. Jy hou daarvan of nie. Hier is nie draadsitters nie. Ek is mal oor die Streetfighter se lyne. Die Streetfighter-naam was al voorheen op ’n Ducati gebruik, maar daardie fiets het vir my eerder na ’n vegter gelyk wat moeilikheid probeer vermy het. Die nuwe een maak nie verskonings nie. Dit is aggressief gestileer en het selfs vlerkies aan die kant om stabiliteit aan die fiets te verleen op hoë spoed. Hoe jy egter op hierdie kaalfiets vinnig genoeg sal kan ry vir hulle om effektief te wees, is ’n ander storie. Die handvatsels is regop en daar is nie skerms om agter weg te kruip nie. Die voetrusse is laer geskuif en die saal het ’n bietjie meer spons op as die Panigale. Dit behoort die ryervaring meer ontspanne te maak. Jou bo-arms en nek is egter waar die spanning gaan wees, nie jou sitvlak nie.

Die klein 5” TFT-skermpie is geneem van die Panigale en het baie brokkies inligting waaruit jy kan kies en die toereteller neem die helfte van die skerm op. Daar is ook drie ry-programme, en ek besef dat die Streetfighter aanvaar jy is ervare genoeg om die 208 Italiaanse perdjies in toom te hou. Daar is geen program vir reën nie. Nee, die opsies is Street, Sport en Race. Hierdie fiets is ’n wapen wat op ’n baan tuishoort. Braam stel voor ek bly maar in die Street-program. Ek merk so effense benoudheid by die man.

Ducati Streetfighter V4. (Foto: Brian Cheyne.)

Nadat Braam my mooi gewys het waar sit alles, druk ek die aansitter. Die V4 gee so paar moeisame omwentelings en dan is daar lewe. Die fiets het nog die standaard uitlaatpyp op, en tog het die Ducati ’n luide grom aan hom. Koppelaar in, trap eerste rat raak en ek is weg. Isabella protesteer hewig by die eerste verkeersirkel. Sy wil nie so ploeter nie. Ek stol amper die fiets. Sy stotter, en ek is bly Braam kan my nie meer sien nie.

Ek kan voel die voetrusse is laer, want die kramp in my heup wat ek gewoonlik op superfietse kry, bly weg. Ek sukkel deur die verkeer, en draai op die N1 op pad huis toe. Isabella raak skoon opgewonde, soos ’n hond as jy die leibandjie uit die kas haal. Ek kan sommer voel dat hierdie nie ’n pendelfietsie is nie. Sy soek ooptes en oop ketels.

Die versnelling is asemrowend, en ek het ook nou die nuwe maatstaf gekry waarteen ek alle snelskakeling in die toekoms gaan meet. Met die versneller vol oop, blits ek deur die ratte, maar die Ducati hou net aan om te versnel. Toe ek by die verkeer aansluit, hou ek maar myself en my spoed in toom en verlustig my aan die mense is die karre se gesigte. Hulle wil ook wees waar ek is. Isabella het nie meer spanning nie. Daar is so klein vibrasie op spoed en ek wonder of dit sy is wat sommer hoendervleis kry.

Ek stop vir ’n koffietjie op pad terug en parkeer die fiets só dat ek vir haar kan kyk. Hulle sê mos dat as jy nie omdraai en vir jou fiets kyk as jy hom parkeer nie, het jy die verkeerde fiets gekoop. Wel die Ducati Streetfigter is een van daai fietse wat jy sommer weet jy het die regte fiets. Ek sluk my koffie vinnig, want ek wil weer vir Isabella gaan vra vir ’n dans. Daar is nog só baie wat ek graag sal wil ontdek, wat ek seker nooit sal weet nie. Ons dans was te kort, maar ek kan sien sy ken haar storie op ’n dansvloer.

Sekere fietse het ’n blywende indruk op my gelaat, en die Ducati Streetfigther V4 is een van hulle!

Enjin1103 cc V-vier
Gewig (Droog )180 kg
Kraglewering153 kW / 208 pk @ 12 750 rpm
Wringkrag123 Nm @ 11 500 rpm
Saalhoogte845 mm
Tenkkapasiteit16 ℓ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Briljante berig, Brian!!! Regtig dit geniet om te lees! Ek sal op die uitkyk wees vir jou ander berigte.

Boerkind ·

Ek was een van die bevoorregtes om ‘n Streetfighter V4 S in ontvangs te neem. In vergelyking met vorige Ducatis is die “ride by wire” en “fuel mapping” baie verbeter. Tog is dit soos jy ondervind het, nie maklik om met die SF V4 S weg te trek nie – die fiets is morsdood onderlangs en moet behoorlik met die koppelaar gery word tot net na 3000 toere om enigsins glad weg te trek (laat dit klink soos ‘n beginner!). Die SF V4 S is bitter swaar op brandstof (12 – 14km/l…), het GEEN brandstofmeter nie en ook nie spoedkontrole (cruise control) nie – ek vergelyk nou met ander “Naked” fietse! Nee, Ducati, dit is nie goed genoeg nie! My V4 S se spuitwerk is niks om oor huis toe te skryf nie! Ek sien oral lemoenoppervlak! Ek het ook ‘n nuwe KTM Super Duke R…. gaan ry hom beslis ook! Heelwat goedkoper en ‘n baie lekker(der) fiets om mee te ry – minder perdekrag… MAAR oral brute wringkrag! Groete!!

Brian ·

Boerkind, ek is bly jy bevestig my bevinding. Soos jy sê, jy klink soos ‘n beginner! Dankie vir jou kommentaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.