E-tolsage duur voort

estradas de portugalSuid-Afrikaanse motoriste oor alle grense heen, kan gerus moed skep uit die geskiedenis van e-tol in Portugal.

Anders as hier by ons, waar die Oostenryks-Sweedse groep – Kapsch Trafficom Sweden – hul finansiële aanslag op die Suid-Afrikaanse motoriste toespits, het ‘n Australiese e-tolkonsortium, MacQuarrie, ook in ‘n mate hulle rieme styfgeloop.

Selfs in ‘n moderne eerste wêreldland soos Portugal het 21% van alle motoriste geweier om tol te betaal. Dit het die baas van EP (Estradas de Portugal) gedwing om toe te gee dat die verhalingskoste van gelde verskuldig deur die halsstarrige 21% net soveel kos as die e-tol wat hulle glo moes betaal het.

Portugal se e-tolprogram word op presies dieselfde wyse beoefen as Sanral se strategie. Groot oorhoofse boë (Engels: gantries) gebruik kameras en tegnologie wat motors se nommerplate ‘lees’, gevolg deur die stuur van rekeninge volgens voorafbepaalde tariewe.

Dis veral in die toerismestreek van die Algarve, wat deur die A22 bedien word, dat vandalisme toenemend voorkom.

Volgens EP se bestuurshoof, Antonio Ramalho, word 29% van alle tolinkomste gebruik vir die delging van administratiewe uitgawes, en het dit verlede jaar R553 miljoen beloop. Van groter belang is egter dat EP se inkomste verlede jaar met 74% gedaal het, gemeet aan die 2011 inkomste. Dit word toegeskryf aan twee faktore: motoriste wat alternatiewe roetes gebruik (wat ons nie altyd het nie) en die eenvoudige weiering om te betaal.

Trouens, verlede jaar het EP in gebreke gebly om altesaam €30.6-miljoen (nagenoeg R420 miljoen) in te vorder.

Maar wie en wat is Sanral? Alhoewel dit optree soos ‘n onafhanklike agentskap, is Sanral bloot ‘n afskilfering van ‘n SA-staatsdepartement (vervoer), en is dit eintlik in diens van die publiek wat sy salarisse betaal.

Sanral, met die berugte Nazir Alli (bekend as die ‘Czar’ of ‘Tsar’) aan die stuur, probeer reeds die afgelope vyf jaar om Suid-Afrikaners te oorreed om die stelsel te aanvaar. Daar word egter bereken dat, indien die stelsel vyf jaar gelede gebou was rondom ‘n brandstofheffing van 9c/liter, die tegnologies gevorderde e-tolstelsel nie nodig sou gewees het nie.

Geheimsinnigheid omhul ook Sanral se subagentskappe soos ETC (Electronic Toll Collections) wat kantore in Rooihuiskraal (volgens hulle webbladsy) het. Tot so onlangs as ‘n jaar gelede het ETC heel openlik sy topbestguur se name op die webblad geplaas, maar hierdie name het intussen spoorloos verdwyn.

Sanral het self redelik onlangs verhuis na spoggerige nuwe kantore – met hangende tuine en ander luukshede – op die hoek van Tambotiestraat en die N4 in Lynnwood Glen. Die lyk asof die syfer 3 besonder geluksaligheid vir Sanral inhou, want nie net het hierdie paleisagtige kantoorblok, met sy pragtig geteerde private ingang, R300 miljoen gekos nie, maar is Nazir Alli se salaris die afgelope maand met meer as ‘n miljoen rand tot R3,012/jaar opgeskuif. Ooglopend het die Zuma-regime al hulle hoop op hom gevestig om die e-tolprojek suksesvol deur te voer.

Alli sal egter verskeie struikelblokke uit die weg moet ruim indien hy enigsins hoop het om sy politieke meesters se guns te behou en sy reuse salaris (vir ‘n amptenaar) te regverdig.

Eerstens sal hy moet verduidelik waarom die sinvolle en praktiese finansieringsmodel van ‘n klein brandstofheffing nie gebruik is nie. Moontlik is die rede dat dit nie vir gewetenlose politici die geleenheid bied om huller vingers in die kasregister te kry nie. Soos die brandstofprys tans daar uitsien, word R2.13 by elke liter gevoeg vir padinstandhouding en -uitbreiding. Dit verdwyn egter in die algemene fiskus.

Tweedens moet Alli, glo self ‘n ingenieur, verduidelik waarom byvoorbeeld die opgradering van die R21 tussen Pretoria en die OR Tambo-lughawe nagenoeg R107 milj/kilometer beloop het teenoor ‘n realistiese prys van tussen R30 milj en R40 milj/kilometer.

Derdens sal hy hardnekkige gerugte die nek moet inslaan dat verskeie senior rolspelers in hierdie sage reeds bankrekeninge in Maleisië het sodat hulle na bewering met ‘n omweg deur Kapsch Trafficom ‘beloon’ kan word vir die deurdruk van die skema.

Vierdens skuld Alli ons, die motoriste van hierdie land, ‘n verduideliking waarom Suid-Afrikaners jaarliks, agt jaar lank, gemiddeld R670 miljoen aan buitelandse maatskappye moet gee.

Vyfdens moet Alli ook verduidelik waarom hy geswig het onder druk deur die taxi-verengings deur hulle van e-tol kwyt te skeld. Duidelik vrees hy massa-optrede deur militante groepe.

Dit het ook tyd geword dat Alli teenoor die motoriste van hierdie land moet erken dat die koop en installering van ‘n e-tolskyfie nie wetlik verpligtend is nie, maar dat dit individuele motoriste vrystaan om op ‘n rekening aan te dring. Dit sal motoriste in staat stel om te bepaal of die voertuig op die foto inderdaad aan hulle behoort en of dit dalk ‘n vervalste nommerplaat op ‘n ander voertuig is.

Intussen word motoriste aangeraai om nie e-tolskyfies te koop nie, maar om deel te word van die ‘volksopstand’ teen hierdie euwel.

Die R21 is geen nuwe pad nie, so ook nie die N4 of die N1 wat almal tans aan tolhekke onderworpe is nie. Trouens, Trans Africa Concessions (Trac) nog een van Nazir Alli se pêlle, hef al lankal tolgeld van meer as 50c/kilometer tussen Pretoria en Nelspruit. Desondanks maak Trac hom effektief skuldig aan kontrakbreuk deur nie tolpad-standaarde (geen voetgangers en geen losloperdiere) te handhaaf nie.

Intussen is Vusi Mona, Sanral se spreekbuis, hard besig om die motorispubliek te probeer oortuig dat die hele projek tot voordeel van hierdie groep is. Hy kom nie agter nie, of word voorgesê dat hierdie tolpadprojek tot ons voordeel is – ondanks miljoene stemme van weerstand uit allerlei geledere, wat selfs Cosatu en die Katolieke kerk insluit.

As alle motoriste saamstaan, sal hierdie stelsel in duie stort, want daar is geen manier dat een miljoen transaksies per dag behoorlik en spoedig geprosesseer sal kan word nie – nie in ‘n land soos ons s’n waar talle voertuie sonder nommerplate rondry of selfs vervalste stelle gebruik nie.

Alhoewel dit nie bewys kan word nie, is daar tog ernstige vermoedens dat politici hoog op in die voedselketting (trog) agteraf ‘n “deal” met Kapsch Trafficom gedoen het om die stelsel verkoop te kry. Waarom ander sou Kapsch se uitvoerende hoof dan onlangs – toe sy aandeelhouers gebrom het oor Kapsch se aandelepryse wat met 11% gedaal het – hulle gerus probeer stel het deur te sê dat alle probleme met die projek in Suid-Afrika binnekort iets van die verlede sou wees en dat die R670 miljoen per jaar binnekort sou begin inrol. Dit het hierdie week tot gevolg gehad dat Kapsch se aandeleprys van R411 tot R599 per aandeel gestyg het.

Daar word verder verneem dat die e-tolskandaal maar net die oortjies van die seekoei is en deel vorm van ‘n algeheel groter knoeiery wat onder meer sedert 1999 insluit olietransaksies, die rybewysskandaal, die ontwikkeling van Coega as uitvoerhawe, Cell C, handeldryf in wapens en dan die tolpadkontrakte (wie se bevoordeeldes ‘n goed bewaarde geheim is.

Kom ons staan saam en bewys hierdie Oostenrykers verkeerd.

(Ek sal in ‘n opvolgartikel die kollig plaas op die kredietkaart-rybewysskandaal). – Bernard K. Hellberg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

francois williams ·

As ‘n moderne eerste wêreldland soos Portugal ??
As Portugal modern en 1ste werelds is, wat seg mens dan van SA, Mosambiek en Angola wat oorstroom word van Poraas wat kom werk soek en op grootskaal vlug uit hulle se moderne eerste wêreldland soos Portugal uit???
Klink verdag…nes die logika hier…there are no free lunches dude, get used to it…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.