Eerste indruk: Mitsubishi Triton – Die bakkie-oorlog woed nou sterker as voorheen

Die Mitsubishi Triton (Foto: Mitsubishi)

Die Mitsubishi Triton (Foto: Mitsubishi)

Ek is ʼn dubbelkajuitmens. Ek het self nie een nie, maar ek smag na een.

Die groot bakkies sleep my woonwa die heel lekkerste en daar is hope plek vir al my kindertjies. By Maroela Media was ons nou al bevoorreg om die nuwe Hilux en Isuzu KB te toetsbestuur. Ons kry binnekort Fiat se Fullback en hopelik Ford se Ranger. Boonop moet Nissan nog die Navara loods en die nuwe Amarok is ook op pad teen die middel van die jaar.

Met die hoeveelheid luukse dubbelkajuitbakkies op die mark begin die mededingers vuis slaan vir elke brokkie markaandeel waarop hulle hul hande kan lê. Dit is ʼn goeie ding in alle opsigte. Dit hou pryse mededingend, daar word met ʼn fyn oog na kwaliteit gekyk en lustelose enjins sal net nie meer kan meeding nie.

Die Mitsubishi Triton (Foto: Mitsubishi)

Die Mitsubishi Triton (Foto: Mitsubishi)

Maandag het Maroela Media die bekendstelling van die splinternuwe Mitsubishi Triton bygewoon. Ek was nie oorspronklik Triton se grootste liefhebber nie. Die J-line-ontwerp van die kajuit het vir my vreemd gelyk – maar is baie meer suksesvol in die tweede rondte. ʼn Aggressiewe ontwerpstyl laat die nuwe Triton volwasse lyk en ek hou daarvan.

Dit is aan die binneruim waar daar ook indrukwekkende vordering gemaak is. Die nuwe Triton se leerbedekte banke is heerlik. Dit bied goeie steun, maar bly lekker gemaklik en voel luuks. Die bestuurposisie is na my smaak en mens is in ʼn japtrap gemaklik.

Die Triton se pièce de résistance is wel die nuwe 2.4 liter MIVEC-dubbelbonokas turbodiesel-masjien. Hy bied ʼn indrukwekkende 133kW en 430Nm wringkrag teen 2 500 r/min. ʼn Lae drukverhouding van 15.5:1 op ʼn dieselenjin verseker ʼn baie stiller enjin met baie minder vibrasie. Dit maak die Triton ʼn baie aangename genoot op langafstande. Ek het in ʼn stadium op die toetsroete ʼn brandstofverbruiksyfer gesien van 8,2l/100 km. Dit, op ʼn splinternuwe bakkie met bande wat sag gepomp is vir grondpaaie en veldryvermoë, is voorwaar indrukwekkend.

Die Mitsubishi Triton (Foto: Mitsubishi)

Die Mitsubishi Triton (Foto: Mitsubishi)

Op ons toetsroete is ʼn paar kilometer op grondpaaie afgelê. Ek moet bieg dat ek nog nooit so gemaklik ʼn grondpad aangedurf het nie, en in vierwielaandrywing voel die Triton heeltemal vas op sy voete. Die tweede grondpad was regtig netjies, en die Triton sweef teen 120 km/h op ʼn grondpad asof dit ʼn splinternuwe teerpad is.

Ons het die 5-spoed-outokas asook die 6-gang-handrat probeer. Die nuwe 5-spoed-outo is vir my beslis die wenner. Hy wissel seepglad deur sy ratte. Al hoe die bestuurder weet daar is iets aan die gang, is die toerenaald wat beweeg.

Helaas kom ons by die veldryvernuf. Sjoe. Die Triton speel nie as dit kom by ʼn hindernisbaan nie. Die agterste as se ewenaarslot sluit maklik aan en af. Die remme gee ʼn fantastiese terugvoer deur die pedaal om die steilste afdraandes en die 2.4-enjin bied oorgenoeg krag om amper-vertikaal bulte te klim.

Die reeks lyk so:

Triton 2.4 Di-D 4×2 handratR479 900
Triton 2.4 Di-D 4×2 outoR499 900
Triton 2.4 Di-D 4×4 handratR539 900
Triton 2.4 Di-D 4×4 outoR559 900

Maroela Media kry binnekort die Triton vir ʼn week om meer tyd met dié kalant deur te bring. Ek sien voorwaar uit en sal dan meer in diepte verslag kan doen om hom beter te vergelyk met sy mededingers. Maar ek vermoed Mitsubishi gaan maar die polisie moet bel om hom terug te kry…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kaspaas ·

Dag Brendon, wag tot jy die Ranger kry… Smul, Smul, Smul ens!!!

Hendrik ·

Die Ranger is darem nie so warm soos die Kuga nie :-) Ek hou natuurlik van so iets ander soos die Triton en die Super Select 4WD stelsel is al ‘n goed bewyste stelsel. Die Pajero gebruik die stelsel.

Kobus Steyn ·

Teen daai pryse is dit ten minste R100,000 te veel en sal dit geen ander bakkie skrik maak nie

Janvdm ·

Kobus Steyn:
Hilux 2.8 GD6 4×4 Raider AT – Begin by – R573500
Ranger 3.2 TDCI Double Cab XLT 6AT 4×4 – R588900(om die Wildtrak nie eers te noem nie aangesien dit vêr bo 600K is)
Isuzu KB300 DTEQ LX 4×4 Auto – R563500
Ek dink die Triton is goedkoopste in hierdie klas? Indien die pryse in die Artikel reg is.
Mooi dag

Kobus Steyn ·

Vergelyk appels met appels. Maar koop maar een van hulle ek ssl die goedkoopste Ranger kry dan praat ons weer oor n jaar. En dan kan ons sommer kyk na die verkoop syfers vir die jaar.

Paul ·

Die woord “helaas” beteken nie wat jy dink dit beteken nie. Dit beteken nie “heel laaste” nie. Dit beteken in werklikheid dat jy teleurgesteld is. Dis ‘n uitroep van teleurstelling, soos in: “Helaas, was daar geen meer kaas!”
So as jy skryf “Helaas kom ons by die veldryvernuf” dan sê jy eintlik dis sleg.

Dit is afkomstig uit Frans, en het dieselfde afkoms as die Engelse uitroep van teleurstelling “alas” wat jy uit Shakespeare sal onthou: “Alas, poor Yorick! I knew him, Horatio: a fellow of infinite jest…”

Shaun ·

Ek vermoed die skrywer gebruik die woord’helaas’ om sy teleurstelling uit te druk dat die toetsrit verby is, juis omdat hy die bakkie so geniet het.

JOHN COX ·

PASOP – AL DIE HILUX MANNE, LEES GERUS DIE KLAGTES OP BL 149 IN CAR feb2017
DIE HILUX LAAT TE VEEL STOF IN SY KAJUIT IN , DAAR MOET N MODIFIKASIE GEDOEN WORD !!!

Piet Pompies ·

Die Triton het maar nog altyd aan die agterste speen gesuig, ek glo nie die model gaan die situasie verander.
Suid Afrikaners is ook tradiese vas en maak nie maklik ‘n kopskuif weg van Toyota en Ford.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.