EICMA: Hoogtepunte uit Milaan

Die Ducati Panigale V4 R.

Milaan, Italië. Dit is tyd vir EICMA (Esposizione Internazionale Ciclo Motociclo e Accessori). Motorfietsvervaardigers van oor die wêreld kom elke jaar bymekaar en kom wys dan hulle huiswerk vir die klas. Die hele jaar word beplan en geswoeg tot dit uiteindelik tyd is om te pronk. Natuurlik krul my tone oor al die nuwe fietse wat ons in 2019 plaaslik gaan sien! Hier is ʼn paar van die belangrikste modelle vir 2019.

Ducati het afgeskop en sy nuutste fietse aan die wêreld gewys nog voor EICMA formeel begin het. Sy belangrikste model is seker die V4 R. Vir Ducati om binne die reëls  van die 2019 World Superbike-reeks te kan deelneem, moes die Panigale V4-enjin krimp tot onder 1 000 cc. Die huidige Ducati-ryer, Chaz Davies, het die V4 R op die verhoog gery en in sy beste Italiaans die fiets se lof besing. Wel, 234 perdekrag in ʼn fiets wat net 164 kg weeg, is ʼn resep vir sukses. Hulle het ook die nuwe Diavel en Hypermotard bekend gestel, maar ná die V4 se onthulling was daar niks wat kon kers vashou nie.

Die BMW S 1000 RR.

BMW se antwoord op die V4 R is sy nuwe S 1000 RR. Met ʼn totaal nuwe raam en ontwerp lyk die nuweling opgewasse vir sy geveg in World Superbikes. Die asimmetriese voorlig van die huidige model is laat vaar vir ʼn meer simmetriese ontwerp. Die fiets is ook ligter en kragtiger as sy voorganger en vertoon fantasties. BMW het ook die nuwe R 1250-variante bekend gestel: die 1250 R, RS en GS Adventure.

Daar is drie middelgewig-avontuurfietse bekend gestel. Die BMW F 850 GS Adventure, die KTM 790 Adventure en die langverwagte Yamaha Tenere 700. Al drie fietse is doelgemaak vir rowwe paaie, maar die Yamaha lyk of hy die beste gaan vaar as die teer ophou.

Die Triump 1200 Scrambler.

Triumph het ook sy reeks ʼn opkikkering gegee, maar die mees radikale fiets is seker sy nuwe 1200 Scrambler. Hier is nou ʼn fiets wat jou duidelik laat verstaan dat jy maar die boendoes kan in. Lang reikvering en vrotpadbande maak dat die Scrambler sy naam gestand doen.

Gepraat van radikaal: Indian het die FTR vroeër bekend gestel en daar was ʼn paar variasies te sien by EICMA. Die FTR is glad nie wat jy met Indian sal vereenselwig nie, en beloof om hope plesier te verskaf.

Suzuki se nuwe Katana is vroeër by Intermot onthul en het weer geraas gemaak by EICMA. Kawasaki het ʼn Z400 uitgestal wat direk gaan meeding met die KTM 390 Duke. Honda het ʼn kleiner CBR 650 R bekend gestel, maar dit sal interessant wees om te sien of hierdie model dit tot hier gaan maak.

Die jaar 2019 beloof om nog ʼn ryk jaar vir motorfietse te wees en ek is bly om te sien dat vervaardigers nou kleinerkapasiteitfietse hulle hoofstroomfietse begin maak. As die nuwe jaar kom, en die nuwe modelle beskikbaar raak, sal ek gaan aanklop en hulle een vir een ondersoek. Ek kan nie wag nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcel ·

Daai S1000RR is darem maar ‘n mooi fiets, ek moet sê ek het gehou van die verskillende voorligte altyd maar die is net so mooi. En dan nog daai skerm met al die speelgoed…….Net jammer hy gaan seker by die R300 000 wees en dan wil jy nog ekstras ook laat opsit….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.