Enjin die enigste vlieg in XC40 se salf

Die Volvo XC40. Foto: Verskaf

Die Volvo XC40 het vir my ʼn rowwe tyd gehad om sy plek in die mark uit te kerf. Ek is steeds nie daarvan oortuig dat dit wel al gebeur het nie. Daar was ʼn paar probleme. Party mense het hiperluukse afronding verwag, ander het gevoel die XC40 is eenvoudig net té duur; ek is nie oortuig deur Volvo se huidige enjins nie.

Die Volvo XC40 is ʼn pragtige buksie… veral in dié R-Design-spesifikasie. Die tweekleur-verfskema is regtig netjies. Die pragtige 20”-wiele rond die pakket bitter mooi af. Die binneruim is gewone Volvo – net in die fotostaatmasjien gesit op 80%. As ʼn mens eers Volvo se stelsels gewoond is, dan is alles ergonomies en werk goed.

Die Volvo XC40. Foto: Verskaf

Aan die spesifikasie kant is die XC40 D4 R-Design werklik vol gepak. Daar is CarPlay en Android Auto, radarbeheerde spoedkontrole met al sy veiligheidstelsels soos Volvo se City Safety. Die sitplekke is elektries verstelbaar en die instrumente digitaal met ʼn groot kaart in die middel vir die navigasie. Die binneruim voel fantasties aanmekaargesit en die materiale luuks dog duursaam.

Dis by die enjin waar dinge vir my skeefloop. Die D4 is tot dusver beslis die beste enjin wat ek al in die Volvo teëgekom het. Die T3-driesilinderpetrol is ʼn handrat en was ʼn bietjie lig in die broek. Die T5 is fantasties, maar bitter swaar op brandstof. Die D4 bied 140 kW en 400 Nm, lekker sterk. Dit word gepaar met Volvo se 8-spoed-wringkragomsitter‑outo en sit krag aan al vier wiele. Dis alles fyn, maar ek het ʼn appeltjie om met Volvo te skil.

Die Volvo XC40. Foto: Verskaf

Hulle het omtrent tien jaar terug begin met hul Drive E-enjins. Almal is 2.0-viersilinderturbo, petrol of diesel. Dit was veronderstel om hiperekonomiese enjins te wees. Volvo se huidige reeks enjins is alles behalwe ekonomies. Met ʼn 250 km-trippie in die D4 op snelweë om Gauteng was die beste wat hy kon bied 8,4 ℓ /100 km teen tussen 100 en 140 km/h. In vergelyking met wat BMW kan bied, is dit uiters power. Ek kon al 10 ℓ/100 km handhaaf in ʼn X5 M50d BMW terwyl ek my karavaan sleep!

Dit sal dalk regtrek soos Volvo hul hibridiese dryfstelsels bekendstel, maar vir nou is hulle beslis nie die mees ekonomiese in die segment nie.

Die Volvo XC40. Foto: Verskaf

Op die pad voel die Volvo puik. Die ritgehalte is lekker gemaklik, al loop die XC40 op enorme 20”-wiele is daar steeds 45-profiel bande om dinge gemaklik te hou. Die XC40 se padhouvermoë is puik, en ʼn mens hoef geensins te twyfel oor die Volvo se veiligheidsgeloofsbriewe nie.

Ek was aanvanklik heeltemal afgesit oor die XC40 se prys, maar toe gaan vergelyk ek hom mooi met sy direkte mededingers en sien toe dat hy heeltemal markverwant geprys is. Dit is bitter baie geld vir ʼn klein sportnuts, maar vir dié wat dit wil hê en kan bekostig – wie is ek om te stry?

Die reeks lyk só:

XC40 T3 Momentum handrat115 kW/265 Nm6,3ℓ/100kmR554 700
XC40 T3 Momentum outo115 kW/265 Nm6,7ℓ/100kmR583 200
XC40 T3 Inscription handrat115 kW/265 Nm6,3ℓ/100kmR593 700
XC40 T3 R-Design handrat115 kW/265 Nm6,3ℓ/100kmR603 200
XC40 T3 Inscription outo115 kW/265 Nm6,7ℓ/100kmR622 200
XC40 T3 R-Design outo115 kW/265 Nm6,7ℓ/100kmR631 700
XC40 D4 AWD Momentum140 kW/400 Nm5,0ℓ/100kmR678 600
XC40 T5 AWD Momentum185 kW/350 Nm7,7ℓ/100kmR690 300
XC40 D4 AWD Inscription140 kW/400 Nm5,0ℓ/100kmR717 600
XC40 D4 AWD R-Design140 kW/400 Nm5,0ℓ/100kmR727 100
XC40 T5 Geartronic AWD Inscription185 kW/350 Nm7,7ℓ/100kmR729 300
XC40 T5 Geartronic AWD R-Design185 kW/350 Nm7,7ℓ/100kmR738 800

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Jeep Compass 2.4 4×4 Trailhawk129 kW/229 Nm9,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg en ‑diensplanR604 705
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 4Motion R-Line130 kW/380 Nm6,4 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R636 000
Mercedes-Benz GLA 200d Edition 1110 kW/320 Nm5,1 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R656 560
Audi Q3 35TFSI S line110 kW/250 Nm5,9 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R663 500
BMW X2 xDrive20d M Sport140 kW/400 Nm5,0 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R785 268
Lexus UX 200 F-Sport126 kW/205 Nm6,2 ℓ/100 km7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR785 400
Jaguar E-Pace D180 AWD R-Dynamic HSE132 kW/430 Nm5,6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR909 476
Porsche Macan185 kW/370 Nm8,9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R932 000

Tussen dié mededingers sien ek uit om my hande op die Jeep te kry, en dit bly ʼn winskoop teen die prys. Die Audi hoort eintlik nie daar nie, want hy is petrol en het nie vierwielaandrywing nie, maar dien wel as ʼn prysvergelyking. Die BMW is ʼn puik opsie, sowel as die Lexus. Die Jag en die Porsche is vir die manne met die diepste sakke. Die Volvo is ʼn pragtige pakket, maar ek kan hom die brandstofverbruik nie vergewe nie, en sal dus die Tiguan koop en die ekstra R100 000 wat ek bespaar gebruik vir al die speelgoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Nogsteeds belaglik duur. Nie die prys werd nie. Al het hy wat se wonderlikhede, dit regverdig nognie die prys nie.

kolonel

So behalwe die enjin en belaglike prys – aangename kar.

kolonel

Ek sien die prys is belaglik – toe gaan kyk ek na ander belaglike pryse, en vergelyk die XC40 met VEEL BETER voertuie teen dieselfde prys, toe voel ek beter.

BAREND

Die brandstof verbruik waarna verwys word is hoog, maar dit hang ook baie af van jou regtervoet se gewig. Ek ry self met ‘n 2.0 Diesel S40 en my gemiddelde verbruik is 5.5 l op die oop pad en 6.5 in stads verkeer. Dit hang net af van hoe vinnig jy by die volgende robot of stop teken wil wees en dan weer op die remme te klim.