Europese motorfietstoer dalk net wat jy nodig het

Foto: Verskaf.

Jy sien hom in groot stede naby bekende bakens: Die toerleier met ’n helder roset op ’n lang stok. Soos die herder van ouds volg die trop toeriste hul herder met die rooi roset. Hy deel sy kennis van die omgewing met sy mikrofoon en hulle luister met oorfone met hulle oë gerig op sy roset. Hier mag jy nie verdwaal of wegraak nie. Hierdie herder gaan nie sy skape laat staan en na jou kom soek nie.

Vir baie mense is ’n goed georganiseerde toer die beste manier om die wêreld te sien. Een enkele betaalslag en jy is in die hande van ervare mense wat alles vir jou doen en jou baie meer laat sien as wat jy ooit self sou kon uitsnuffel. Omdat ek nog altyd in Europa wou gaan rondry op ’n motorfiets, het ek het begin rondkyk vir ’n toermaatskappy wat alles vir my kon reël, sodat ek net kon opdaag en ry.

Edelweiss Bike Travel is een van die leiers op die gebied van toere, maar die idee om deel te wees van ’n groot groep was nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie. Toe lees ek raak dat hulle self-ry toere ook aanbied. Dit bied alles wat die vol toer bied, behalwe dat jy op jou eie ry. Net jy en die natuur.

Hulle bied tans ses sulke toere aan en ek het besluit op hulle Precious Dolomites-toer. Dit is ’n wonderlike roete deur die suide van Bavaria, Oostenryk en die noorde van Italië. Ander toere sluit meer lande in. Daar is selfs ’n toer waar jy jouself stasioneer in Tirool en dan elke dag ’n roete gaan ry wat jou weer terug bring na jou hotel.

’n Paar weke later het daar ’n pakkie in die pos aangekom. My verbasing was groot dat pos nog afgelewer word! In die pakkie was twee Edelweiss-naamkaartjies vir my tasse, ’n groot kaart van die gebied waardeur ek gaan ry en ’n ritboek vir elke dag se roete. Soos ek deur die boekie blaai, het ek besef hoekom hierdie soort reis soveel sin maak. Edelweiss het amper 40 jaar se ondervinding en hulle bied twee keurig uitgewerkte roetes vir elke dag. Daar is ’n lang roete as jy vroeg wegspring en ook ’n korter roete vir die dae wat jy net wil rustig vat of die weer dalk nie na wense is nie. Hulle sorg ook vir jou verblyf vir elke dag. Elke dag se roete het voorstelle vir waar jy kan koffie drink en middagete geniet. Hulle het selfs aanbevelings vir aandete.

Een groot pluspunt vir my was Edelweiss se omvattende reeks motorfietse. Dit maak nie saak wat jy hier in Suid-Afrika ry nie, die kanse is goed dat jy jou eie model motorfiets by hulle sal kan huur. As jy jouself in ’n vreemde land bevind sal ’n bekende motorfiets die aanpassing om aan die ander kant van die pad te ry net makliker maak. Ek het besluit op ’n bloed-rooi Ducati Multistrada 950.

Ek het die toer en die roete een middag ywerig met my seun bespreek. Net daar besluit hy, hy kom saam. Al wat dit geverg het, was een e-pos na Edelweiss, en al my besprekings is verander. Geen rompslomp om elke hotel in te lig van die addisionele gas nie.

Die grootste voordeel van hierdie soort toer is egter die vryheid. Vryheid om laat te slaap as jy wil. Vryheid om gou met ’n kabelspoor tot bo-op ’n sneeubedekte bergtop te gaan. Vryheid om ’n lekker bergpas nog ’n keer te ry, net omdat jy wil. Jy hoef vir niemand te wag nie.

As jy al ooit gedroom het om passe soos Stelvio of Grossglockner aan te pak, kan jy gerus op Edelweiss Bike Travel se webtuiste gaan rondkyk. Die georganiseerde toere saam met ’n groep is duurder, maar dit sluit meeste van die aandetes ook in. Ons toerrekening was verseker nie goedkoop nie maar ek het vir sewe dae in Oostenryk en Italië rondgery saam met my seun en daaraan kan jy nie ’n prys koppel nie. Dit is iets wat albei van ons sal onthou so lank as wat ons leef.

As jy eerder ’n trapfiets verkies, kan Edelweiss ook help. Hulle bied fietstoere ook, maar hierdie fietse is elektriese fietse wat jou help met die trapwerk. Die roetes wat jy ry is natuurlik asemrowend!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michiel ·

Ek het vorige jaar in 2018 die Route Grand Alpes met my BMW R1200GS gery. Pragtig!
Voor vertrek het ek beetje afgewyk van die begin en eind. My eind was by “camping Rivier” by Cagnes-sur-Mer. Daar het ek lekker in ‘n tentje geslaap met ‘n byna privé swembad :).

Van Agnes-sur-Mer het ek gery na Genua, en daar op ‘n camping geslaap om met verlate bergweggetjes terug te ry na my startpunt: Den Haag, Nederland.

Anoniem ·

Bergweggetjes. Wat ‘n pragtige, beskrywende woord. Dit klink sommer vakansie-agtig, regtig ver weg van werk.

ToerBoer ·

Klink sommer voorste bos! Wat sal die koste vir so ‘n uitstappie beloop??

Groete!

Brian Cheyne ·

ToerBoer, dit hang alles van jou af. Edelweiss se toere is aanpasbaar. Die goedkoopste is ‘n klein fietsie en gastehuis akkomodasie. Jy kan egter ‘n groot fiets vat en beter akkomodasie, maar dan kom dit teen ‘n premie. Die duurste komponent is die huur van die fiets. Ek het verskeie verhuurings maatskappye genader en probeer om goedkoper weg te kom maar op die einde van die dag was dit net vir my makliker om deur Edelweiss te werk en hulle reël alles. Ek het my spaarvarkie baie lank moes voer voordat hy vet genoeg was, maar dit is maar te danke aan ons swak Rand. Die ervaring was elke sent werd!

Drieks ·

Het voorreg gehad om begin Augustes 3 dae die dolmite berge in noord Italiè in Cortina te gaan klim. Mooiste sprokie area ooit…

KrokodilBotha ·

Pa en seun, lekker. Mistige Long Tom pas en Hazyview se spookbeelde pop nou op. . Ook meer opwinding net om iets te gryp en te ry op die ingeewing. Europa was nog altyd so steriel vir my. Dis waarom ek Afrika like, altyd opwindend, en om elke tweede pothole of draai is iets buggered. Miskien eendag waneer ek oud is Vietnam op n 125 doen. Enige toer is altyd opwindend. Thumps up

Jacobus ·

die probleem is…as jy europa toe kom en sien hoe n normalle/samelewing land moet lyk dan gaan jy sukkel om weer aan suid afrika gewoond te raak….ja daai afrika gras en ongeskonde afrika terein is onge-ewenaar maar jou kop gaan verlang na die veiligheid en orde…vertrou my ek is al 15 in europa

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.