FB Mondial HPS 300 – Italiaanse kapokhaantjie

Die FB Mondial HPS 300. Foto: Brian Cheyne.

Iemand het eenkeer gevra wanneer die eerste motorfietswedren gehou is. Die antwoord was eenvoudig. Dit was toe die tweede motorfiets gebou is.

In die vroeë 50’s wat daar hordes motorfietsvervaardigers en almal het om ’n stukkie glorie meegeding, hetsy op die baan of in die vertoonlokale. Een Italiaanse vervaardiger, FB Mondial, het nie minder nie as vyf wêreldkampioene tussen 1948 en 1957 opgelewer.

Na die 1957‑sukses het hulle onttrek uit wedrenne en kort daarna het verkope van hulle motorfietse begin daal. In 1960 het die laaste Mondial die fabriek verlaat en alhoewel hulle hard probeer het om kop bo water te hou, het Mondial in 1979 hulle deure toegemaak.

Die FB Mondial HPS 300. Foto: Brian Cheyne.

Die naam FB Mondial is weer in 2014 in die lewe geroep deur die eienaar van die handelsmerk, Graaf Pierluigi Boselli. Twee nuwe motorfietse het die lig gesien: die Hipster 125 en die Hipster 300.  Vir enjins het hulle Piaggio genader wat ikoniese fietse soos Vespa en Aprillia maak.

Ek het onlangs in Kaapstad gaan kuier en by Platinum Motorcycles gaan inloer om hierdie Italianer van nader te bekyk. Die HPS 300 is ’n baie mooi fietsie – die Italianers het nou maar eenmaal styl! Die blou FB Mondial‑kenteken sit trots op die tenk en lyk asof dit nog van die oorspronklike gietwerk afkomstig is.

Die FB Mondial HPS 300. Foto: Brian Cheyne.

Alhoewel die naam sê 300, beskik hy net oor ’n 250cc‑enkelsilinder‑enjin. Die uitlaatpypies is twee parmantige kort chroom skeppings, en die fiets lyk heel sportief. Die fiets is in die café racer‑styl ontwerp met ’n kort saal, netjies afgewerk in wat soos bruin leer lyk. Die saal self bied genoegsame ondersteuning vir die ryer, maar die passasier word afgeskeep. Ek sien dus die HPS as ’n pendelfiets vir een mens.

Die handvatsels sit laag en buig na die ryer toe. Die spieëls sit op die punte van die handvatsels. Jy het egter gereedskap nodig om dit te verstel wat die proses omslagtig maak. Hierdie ontwerp bied wonderlike sig na agter, maar maak die fiets breër. Gelukkig is die HPS ’n smal fietsie, dus is dit nie so ʼn  groot probleem tussen karre deur nie.

Die FB Mondial HPS 300. Foto: Brian Cheyne.

Die instrumentepaneel sit nie reg voor jou nie. Dit sit so effe na regs en is ten volle digitaal. Daar is baie inligting in die ronde eenheid vervat en dit is duidelik leesbaar. Ek het tyd gehad om die fiets deur te kyk en ek moet sê die bougehalte van die fiets is baie goed.

Met net 25 perdekrag tot sy beskikking moet mens hierdie fiets in sy rol as ’n pendelfiets beoordeel. Met ’n sesspoedratkas is die versnelling genoeg om maklik voor die verkeer te bly. Die enjin is gewillig genoeg en die toere klim maklik tot by die rooilyn. Die voorwiel is 18” en tesame met die bonkige bande was ek maar skepties oor die Mondial se vermoë as die pad begin kronkel.

My vrese was egter ongegrond. Die klein Hipster kan jy maar hard druk in die draaie. Die vering was hier en daar ʼn bietjie vaag, alhoewel ek dink dit was eerder die Kaapse wind wat die fiets so ontsenu het. Die fiets weeg net 135 kg so die wind was lastig.

Die FB Mondial HPS 300. Foto: Brian Cheyne.

Remvermoë is so-so. Die enkelskyf‑voorrem het sluitwering en dit verg ’n stewige handvol om hierdie Mondial tot stilstand te dwing as hy op spoed is. In stadsverkeer is die remme egter heel aanvaarbaar.

Hierdie fietsie is hope pret, al is hy so stadig en so klein. Ek sien sy teikenmark as jong mense wat iets unieks soek wat aandag trek maar tog betroubaar is. Met sy prys van R69 000 sit hy bietjie hoog in sy segment maar jy koop ’n tikkie Italiaanse flair!

Die HPS is te sien by Platinum Motorcycles in Kaapstad of Traditional Motor Co. in Johannesburg.

Produkblad : https://www.fbmondial.com/en/hipster-300/

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.