Motornuus: Ford Figo-konsep

Ford Figo-konsepmotor Foto: Bernard K Hellberg

Ford Figo-konsepmotor Foto: Bernard K Hellberg

Maroela Motors was onlangs bevoorreg om Indië te besoek vir die Delhi-motorskou en die wêreld-bekendstelling van die volgende geslag Ford Figo.

Hierdie moderne klein Ford word beskryf as die maatskappy se toekomstige “global” voertuig, danksy sy kompakte (minder as 4 meter) lengte en ‘n windtonnel-ontwerp wat spesifiek gemik is op die ontluikende markte wêreldwyd.

Alhoewel die Figo in Indië gebou gaan word, sal dit onderworpe wees aan internasionale Ford-gehaltestandaarde, en sal die Figo toegerus wees met geriefs- en veiligheidskenmerke wat kopers deesdae verwag.

Die ontwerp leun sterk op elemente soos ‘n skuins voorruit om die afgeronde aerodinamiese voorkoms te beklemtoon, terwyl die Figo se ‘neus’ effe stemmiger gemaak is sodat dit minder soos die arm man se Aston Martin vertoon.

Terselfdertyd vorm die kante se vloeiende lyne ‘n visuele indruk wat gehalte moet uitbeeld – selfs al is dit die maatskappy se sogenaamde ‘intreevlak’-voertuig. Die nuwe Figo-konsep is ‘n volledig herontwerpte motor – eerder as die vorige generasie Fiesta wat ons hier ken en wat so ‘n bietjie opgekikker en tot Figo herdoop is.

Die glibberige bakwerk sorg ook vir uitstekende brandstofverbruik – aldus hoofontwerper Ehad Kaoud, Ford Noord-Amerika se ontwerphoof.

Wat die binneruim betref, sal die uiteindelike produksiemotor ook aan alle moderne vereistes voldoen – soos die laai van selfone, MP3-spelers en satellietnavigasie wat almal moeiteloos met die Figo se bestaande stelsels sal skakel.

Dalk word bespiegel dat hierdie nuwe Figo dalk teen die einde van hierdie jaar maar gewis in 2015, die Suid-Afrikaanse mark sal betree.

Omdat die nuwe Figo op hierdie stadium slegs in konsepvorm bestaan, word geen melding gemaak van enjinreekse wat deel van die pakket sal vorm nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.