Ford gooi knuppel in die bussie-hoenderhok

Die Ford Tourneo Custom. (Foto: Verskaf)

Strawwe kompetisie was nog nooit ʼn slegte ding nie. Dis wanneer produkte die mark vir hulself het dat die eindverbruiker geen keuse het nie. Tot onlangs was Ford se Tourneo Custom- bussie nie vir my ʼn ware mededinger in die segment nie weens ʼn onaangename handratkas.

Ford het pas ʼn outomatiese ratkas én ʼn nuwe enjin in hul bussie gesit… en die resultate is verstommend. Die Tourneo Custom was nooit op my kortlys as mense my vir aanbevelings vra oor watter bussie om te koop nie… nou is hy heel bó aan daai lys.

Volkswagen stel aan die einde van September sy nuwe Caravelle aan ons bekend, so dit gaan interessant wees om te sien watter vordering hulle in die afgelope paar jaar gemaak het.

Die Tourneo Custom se ontwerp is baie netjies. Dit is beslis ʼn mooi bussie. Sy nuwe dagligte lyk soos maskara om sy oë – baie mooi. Dis wel aan die binneruim waar Ford nog ʼn haas uit die hoed geruk het. Dié Limited-weergawe het ses individuele sitplekke agter wat kan omdraai sodat die kinders vir mekaar kan kyk. Daar is vier USB-poorte om fone te laai, en dubbelsone-klimaatbeheer om almal koel te hou. Dié kortasafstand Tourneo Custom se bagasiebak is ook nie te versmaai nie.

Voor in die bussie is die nuwe paneelbord en Ford se Sync 3-inligtingstelsel fantasties. Dit bied CarPlay en Android Auto. Daar is spoed- en klimaatbeheer en ʼn verskeidenheid veiligheidstelsels soos blindekolwaarskuwing, truratkamera, vastrap- en stabiliteitsbeheer en ses lugsakke. Daar is vier bekerhouers én vier bottelhouers om seker te maak die ouers is goed gehidreer. My enigste probleem met die bussie is dat sy voorste twee sitplekke tyd vat om lekker te sit. Die sitvlak is effe kort, maar ʼn mens kry hom eindelik ingestel sodat jy gemaklik sit.

Die grootste konyn wat Ford uit die hoed geruk het, is beslis die nuwe 2.0 viersilinder enkelturbodiesel en die 6-spoed wringkragomsitter outo. Die enjin bied 136 kW en 415 Nm. Op die oop pad wil die Tourneo net hol, en ʼn mens moet versigtig wees met die versneller of jy en die kinders toer blitsig teen 160 km/h. In die dorp is die nuwe outokas fenomenaal. Dit wissel glad en laag in die toerestrek, sonder om rond te soek. As ʼn mens rustig toer skakel hy gou na sesde toe en gebruik die sterk wringkrag om spoed te bou.

Ons is met die Ford Tourneo Custom 2.0SiT 6-spoed outo Drakensberg toe en terug. Oor 964,9 km het ons 8,7 ℓ/ 100 km gehandhaaf. Ons was vyf in die voertuig met drie koffers in die kattebak. Ford gee nie verrigtingsyfers vir die Tourneo nie, maar ek is oortuig sy 0 – 100 km/h is ver onder 10 sekondes, en hy sal beslis baie naby aan 200 km/h kan haal.

Maar – al die inligting is nie die hele storie nie. Die Ford is ʼn gesinsbussie. Hy toer soos ʼn droom, en daar’s plek vir almal… én ʼn maatjie in my gesin se geval. Die lekkerste ding van ʼn bussie is dit bied herinneringe. My gesin sal nooit ons trippie Drakensberg toe vergeet nie, en dit is te danke aan dié bussie.

My gesin hou daarvan om te kamp. Ek sleep ʼn 1992 Sprite Super Sport. Hy weeg so net oor ʼn ton gelaai. Die Tourneo Custom kan 1,6 ton sleep… ek’s oortuig dat die nuwe outokas van die Tourneo Custom ʼn uiters bekwame sleepvoertuig sal maak… vir nog herinneringe.

Dit is vir my baie maklik om die Tourneo Custom op te som. Dit is behoorlik luuks, en gewis nie duur in sy segment nie. Ek dink ek het moontlik ʼn nuwe gunstelingbussie…

Die reeks lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.2 TDCi Ambiente 6-spd handrat74 kW/ 310 NmR621 500
Ford Tourneo Custom 2.2 TDCi Trend 6-spd handrat92 kW/ 350 NmR646 000
Ford Tourneo Custom 2.2 TDCi Limited 6-spd handrat114 kW/ 385 NmR695 600
Ford Tourneo Custom 2.0 SiT Trend 6-spd outo96 kW/ 385 NmR700 200
Ford Tourneo Custom 2.0 SiT Limited 6-spd outo136 kW/ 415 NmR740 900

Die kompetisie lyk só:

Hyundai H-1 2.5VGTi Elite outo125 kW/ 441 Nm9.8 ℓ/ 100 km4 lugsakke9 sitplekke5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R704 500
Kia Grand Sedona 2.2CRDi EX+147 kW/ 440 Nm8 ℓ/ 100 km6 lugsakke8 sitplekke5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R722 995
Volkswagen Kombi 2.0BiTDI Comfortline outo132 kW/ 400 Nm8.1 ℓ/ 100 km2 lugsakke8 sitplekke3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R838 500
Toyota Quantum 2.8 VX Premium115 kW/ 420 Nm8.7 ℓ/ 100 km7 lugsakke9 sitplekke3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R966 300
Mercedes-Benz Vito 119 CDI Tourer Select outo140 kW/ 440 Nm5.8 ℓ/ 100 km2 lugsakke8 sitplekke2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 120 000 km diensplan

R1 022 622

Tussen dié mededingers nou kan ek nie anders as om die Ford bitter sterk aan te beveel nie. Gaan toetsbestuur self een, jy sal sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ᛄᚪᚾ ·

Dit lyk na ‘n heel vermoënde toervoertuig. Maar dis ook maar al wat hy kan doen. Kom ons spreek bietjie die werklike olifant in die vertrek aan: wat doen mens tussen wegbreke met die bus? Min middelklas gesinne kan bekostig om een aan te hou slegs vir wegbreke en die 2 maal per jaar wat die kinders se sportspan na wegwedstryde geneem moet word. Dis ‘n massiewe voertuig (van 3 ton nogal) om dag-tot-dag mee te moet saamleef. Parkeer mens daagliks hierdie wa by die werk, Woolies en tuis sonder om te swets? Ja, ek verstaan bussies is werkesels, en nie om die voorstede oor te neem nie. Maar neem in ag: ons paaie raak al hoe besiger, winkelsentrums se parkeerterreine meer oorvol, parkeerplek by ons huise meer beperk. Hierdie soort luukse bussies het seker hul plek, maar dis vir ‘n spesifieke soort eienaar wat gereeld 4-7 mense in gemak moet vervoer. ‘n Veeldoel voertuig met beperkte gebruike? Neewat. Ek verstaan nou weer hoe ek oop-oë in die sportnuts slagyster getrap het.

amot ·

Die kort asafstand Tourneo is korter as die meeste dubbelkajuit bakkies op die mark en net 10cm langer as ‘n Fortuner. Hy is minder as 10cm breër en hoër as ‘n Fortuner. Glad nie so groot as wat mens dink nie, die spasie word net baie beter benut.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Amot,

Baie dankie vir jou kommentaar. Die Tourneo het ook ‘n baie kleiner draaisirkel as meeste groot sportnutse én bakkies. Hy parkeer baie maklik, én die skuifdeure verhoed dat mens die karre langs jou kap as die kinders uitklim.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

koos10 ·

amot, jy slaan die spyker op die kop, en boonop hoef jy nie ‘n R30000.00 kappie te plaas nie. En hulle pryse is gelykstaande aan dubbel kajuit bakkies. Jy kry net soveel meer teen dieselfde prys.

koos10 ·

En nou Ford, druk bietjie julle biturbo in die bussie in? ‘n Sport bussie?
Dink bietjie terug aan die VW Microbus met die DJC 3.4l V6 enjin ombouing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.