Ford se Everest afgestof en opgetof

Die nuwe Ford Everest. (Foto: Verskaf)

Die jongste generasie van Ford se gewilde sportnutsvoertuig – die sewe-sitplek Everest – is onlangs in Botswana aan die Suid-Afrikaanse motormedia bekendgestel. Hoewel die vervaardiger nie berge versit het met hierdie nuweling nie, het dit tog gewys dat dit deeglik in staat is om die meeste berge te oorkom.

Op die oog af lyk die nuwe Everest nie dramaties anders as sy voorganger nie. Die mees opmerklike veranderinge is ʼn nuut-ontwerpte sierrooster en buffer. Die binneruim is ook nie radikaal nuut nie en ʼn mens sal mooi moet kyk om agter te kom waar Ford se ontwerpers geskuur en geskaaf het. Die wagwoorde hier is beslis subtiel dog elegant, gemaklik en duursaam.

Daar is wel ʼn rits nuwe en opgegradeerde veiligheidstelsels en tegnologiese foefies wat die lewe agter die stuur van die Everest baie geriefliker maak. Ford se SYNC 3-inligtingstelsel is een hiervan en sluit ʼn 8-duim raakskerm in. Navigasie is natuurlik ook deel van die pakket, en ʼn welkome standaardtoevoeging – wat ons deeglik in Botswana op die proef gestel het – is Tracks4Africa-kaarte, wat kaarte van meer as 20 Afrika-lande bevat.

Die grootste nuus wat die nuwe Everest betref is die nuwe 2,0-liter dubbel- en enkelturbo-enjins wat onderskeidelik 132 kW en 157 kW bied. (Foto: Verskaf)

Nog ʼn nuttige nuutjie is sleutellose toegang met ʼn aan/af-knoppie.

Die grootste nuus wat die nuwe Everest betref is die nuwe 2,0-liter dubbel- en enkelturbo-enjins wat onderskeidelik 132 kW en 157 kW bied. Albei hierdie enjins is gekoppel aan ʼn indrukwekkende 10-spoed outomatiese ratkas. Laasgenoemde verdien beslis ʼn pluimpie; die ratverhoudings is van so ʼn aard dat oorskakeling amper onopmerklik is en die gevolg is dat mens altyd in die regte rat is, ongeag van rytoestande en enjinspoed. Dit help natuurlik ook om brandstofverbruik so laag as moontlik te hou.

Die Everest-reeks bestaan uit ses modelle, waarvan een met die 2.0-liter enkelturbo-enjin toegerus is (4×2) en drie met die 2.0-liter dubbelturbo spog (4×2 en 4×4). Die ander twee enjinopsies is die 2.2 TDCi (ses-spoed outomaties 4×2) en die 3.2 TDCi (ses-spoed outomaties 4×4).

Die nuwe Ford Everest. (Foto: Verskaf)

Die Everest se 4×4-stelsel is voorwaar indrukwekkend. Ons toetsrit in Botswana het bykans 900 km behels, baie daarvan op diep, los sand en enkelspoor bospaadjies. Niks het die Everest afgeskrik nie en met opsies vir bestuur op sand, klippe en in modder wat met die draai van ʼn knop gekies word kon ons met die grootste gemak deur waterstrome en dongas en oor rotse en sandwalle ry.

Ek moet byvoeg dat die Everest ook op die teerpad soos ʼn droom hanteer het en rygerief was van die boonste rakke.

Uit die aard van die saak is die lys van standaardtoerusting waarmee die Everest spog lank en omslagtig. Dit sluit alles in van spoedbeheer, elektriese vensters en ʼn parkeerwaarskuwingstelsel, tot vyf lugsakke, ESP, EBD en ʼn sluitweer-remstelsel. Om die waarheid te sê, omtrent elke denkbare motorverwante akroniem is deel van die Everest-pakket.

Die Everest het ʼn gedugte teenstander in die vorm van die immergewilde Toyota Fortuner, maar met drie spesifikasievlakke om van te kies bevat die reeks iets vir elke smaak en begroting. In Botswana het ons die geleentheid gehad om die XLT- en LTD-modelle te bestuur en eersgenoemde – wat die middelvlak verteenwoordig – bied waarlik goeie waarde vir geld.

Die volledige reeks sien so daaruit:

2.2 TDCi XLS 6AT 4×2R499 900
2.0 SiT XLT 10AT 4×2R584 900
2.0 BiT XLT 10AT 4×2R624 100
3.2 TDCi XLT 6AT 4×4R644 000
2.0 BiT XLT 10AT 4×4R687 700
2.0 BiT Limited 10AT 4×4R761 200

Alle modelle word deur Ford Protect gedek, wat ʼn omvattende vier jaar/120 000 km waarborg, drie-jaar/onbeperkte km padbystand asook ʼn ses jaar/90 000 km diensplan in. Diensintervalle is elke 15 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Brendon ·

Dagsê 4×4

Baie dankie vir jou kommentaar. Ja, dit is ‘n voltydse intelligente 4×4 stelsel.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Anton DR ·

Ek het ‘n 2,2 XLT Everest nuut gekoop en binne 8 maande verkoop- die 2,2L engine is te lig in die broek vir die swaar kar. Automatiese ratkas was nie goed nie. Dit skop terug en die engine klink of dit by die kar wil uitklim as mens versnel. Met FORD kry mense lae Trade-In waardes as jy wil verkoop – wees gewaarsku. Maar Everest ritgehalte was puik. Nou kos die 2.0L R585K – dis ver te duur vir so ‘n 2 liter engine dink ek, maar aan die ander kant is die krag of KW uitset bo gemiddeld.

Karlahari ·

Twee laaities stry oor wie se pa se plaas die grootste is.
Seg die een “as ons voor sonop begin lyndrade ry is ons eers na donker by die huis”.
Ja sê die ander mannetjie. Ons het ook so gesukkel toe ons nog ‘n Ford gery het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.