Ford se Figo Freestyle vrygestel

(Foto: Verskaf)

Gewoonlik mis sulke opgepompte luikrûe die teiken ver. Dit is meestal regtig nie mooi nie. Dink byvoorbeeld aan Toyota se Etios Cross. So dan en wan kry ʼn vervaardiger dit reg. Die Cross Polo byvoorbeeld was nogal mooi, en die nuwe Ford Figo Freestyle stel nie teleur nie.

Daar is twee spesifikasievlakke beskikbaar, Trend en Titanium, en albei maak gebruik van dieselfde 1.5- Ti-VCT atmosferiese petrolenjin. Die enjin kry ʼn piepklein verbetering in krag vanaf 88 kW na 91 kW en 150 Nm. In die B-segment is dit een van my gunstelingenjins met ʼn goeie marge, en beslis die beste van al die atmosferiese enjins. Krag word na die voorwiele gestoot deur ʼn 5-spoedhandrat.

Die Freestyle is nie net ʼn bakpakket nie, hy het 16 mm meer grondvryhoogte wat hom 190 mm van die grond af het. Dit is heel goed, selfs beter as party sportnutsvoertuie – so hy behoort die grondpad lag-lag aan te durf.

Die Titanium-spesifikasievlak is werklik puik toegerus. Ford se SYNC 3-raakskermklankstelsel bied CarPlay en Android Auto. Daar is klimaatbeheer, ʼn selfverduisterende truspieëltjie, outomatiese ligte en ruitveërs. Ses lugsakke met ABS-remme hou dinge veilig.

Die Ford Figo is ʼn buksie wat puik waarde vir geld bied en gereeld misgekyk word. Ons sal binnekort ons hande op die opgetofte Figo kry en dán ʼn beter indruk bied van hoe hy op die pad voel.

Die reeks lyk nou só:

Ford Figo 1.5 Ambiente luikrug, 5-spoedhandratR202 100
Ford Figo 1.5 Ambiente sedan, 5-spoedhandratR208 500
Ford Figo 1.5 Trend luikrug, 5-spoedhandratR211 900
Ford Figo 1.5 Trend sedan, 5-spoedhandratR217 300
Ford Figo Freestyle 1.5 Trend luikrug, 5-spoedhandratR226 700
Ford Figo 1.5 Titanium luikrug, 5-spoedhandratR235 700
Ford Figo 1.5 Trend luikrug, 6-spoed-outoR235 900
Ford Figo Freestyle 1.5 Titanium luikrug, 5-spoedhandratR247 500

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Ons sal met die indiepteresensie die Freestyle met sy direkte mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Hierdie is nogal ‘n vreemde mark met van die idees en ontwerpe wat uniek aan SA is, na my mening is daar van die vervaardigers wat die ontwerp so bietjie oordryf en sy produk eerder soos ‘n fopdosser lyk.
Lekker ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.