Ford se wortels in Suid-Afrika dateer so ver terug as 1905. In 1924 is die eerste model T’s in Suid-Afrika aanmekaargesit. Dié voertuie is uit Kanada na Suid-Afrika uitgevoer en in ʼn ou wolfabriek in Port Elizabeth gebore.
Dit is egter in die laat sestigerjare waar Ford en Basil Green renbane reg oor Suid-Afrika aan die brand begin steek het met die Capri Perana. Sy liggewig V8-enjin vanuit ʼn Mustang het die Perana die vinnigste plaaslik vervaardigde produksiemotor gemaak. Die renmotor kon oor die 270 km/h haal en het die ronderekords by die meeste van Suid-Afrika se renbane gehou.
In 1971 het Ford Suid-Afrika die eerste Cortina-bakkie bekendgestel. In 1975 het die opgedateerde MkIV Cortina sy buiging gemaak en die ingenieurs is gevra om ʼn sterker bakkie te maak wat ʼn ton kon dra. In 1977 is die nuwe bakkie in twee modelle bekendgestel – die betroubare 1.6 en die sterker, uiters gewilde 3.0 V6 met sy Essex-enjin. Die bakkie was só gewild dat dit in 1982 as die P100 na Europa uitgevoer is.
Dié bakkie het die weg gebaan vir nóg ʼn uiters gewilde bakkie hier in Suid-Afrika – die Bantam. Eers was hy met die fantastiese 1.3 Kent-enjin beskikbaar en het van ʼn Britse paneelwa se agteras gebruik gemaak. Die Rocam-enjin wat later modelle aangedryf het, was ʼn reusesukses vir Ford se Struandale-enjinaanleg wat meer as 1.3 miljoen eenhede vervaardig het.
Sanksies voor 1994 het ʼn groot stok in die wiel gesteek vir Ford Suid-Afrika, maar Ford kon nie net gaan lê nie. Die Sierra XR6 is toe ontwikkel. Hy het ook van die Essex V6-enjin gebruik gemaak en het met Lucas-brandstofinspuiting 112 kW en 236 Nm gebied. Die XR6 Sierra kan die Cortina XR6 en Interceptor bedank vir sy erfenis.
Hoewel die XR6 indrukwekkend was, was die XR8 beslis Suid-Afrika se wildste Ford. ʼn 5.0 Mustang V8 voor met 161 kW en 374 Nm het die Sierra in staat gestel om 0-100 km/h in 6,95 sekondes af te lê en 231 km/h voluit te hardloop. Indrukwekkend vir 1984.
Het iemand vir my ‘n netjiese capri te koop?
Ray’s Roadhouse Vermeulen Straat !!!!
Nou praat jy! Goeie ou dae.
Ford Anglia se agtersitplek!
Dis waar, maar die Galaxy het heelwat meer plek gehad…
Moet die die Fairmont weggooi nie, lang agterbank gehad.