Fortuner steeds robuus en goed toegerus

Die Toyota Fortuner Foto: Bernard K Hellberg

Die Toyota Fortuner Foto: Bernard K Hellberg

Almal is altyd op soek na iets anders wanneer dit by ’n nuwe motor kom. Maar elke nou en dan duik ’n produk op wat byna alles reg doen.

Vir ʼn model wat in Oktober vanjaar 881 nuwe eienaars se harte verbly het (dis neer as Chrysler SA se totale verkope van 727 eenhede) het die Fortuner – nou in Epic-gewaad – steeds sy staal getoon by die McCarthy 4×4-perseel naby Cullinan.

Totale verkope vir die Fortuner, sedert sy buiging in 2006, het reeds op meer as 86 000 eenhede te staan gekom en, om dit meer in perspektief te stel: nagenoeg 50% van alle mediumgrootte sportnutsvoertuie wat in Suid-Afrika verkoop word, is Fortuners. Mededingers sluit in Trailblazer, BMW X3 en Hyundai Santa Fé.

Dat die Fortuner in Suid-Afrikaners se smaak val, is nie te betwyfel nie. Dit was nog altyd ʼn gehalte, waarde-vir-geld produk wat tuis is op alle oppervlakke – van stedelike snelweë en bergpasse tot sandduine en die bosveld. Die ‘gaan oral; doen enigiets… en doen dit in styl’-karakter van die Fortuner vul die avontuur-leefstyl aan van buitelug-Suid-Afrikaners wat ’n behoefte aan die dubbeldoelige vermoë van ’n veldry- en stadsvoertuig het.

Die 4×4-weergawe van die Fortuner pronk met voltydse aandrywing deur al vier wiele met laestrek en ’n Torsen-vastrapewenaar (LSD) met ’n ewenaargrendel. Die 4×2-weergawes is danksy ’n ewenaargrendel ewe goed toegerus om die bos aan te durf. Hulle deel ook dieselfde gekunstelde swaardiens-vering met hul 4×4-stalmaats, wat bestaan uit ’n dubbelmik-hoëliguitleg voor en ’n vierskakel-stelsel met laterale beheer agter.

Die N4-deurpad na die 4×4-terrein het die Fortuner se beskaafde padgedrag mooi ten toon gestel. Hy ry so gemaklik soos ʼn motor op teer, en het terselfdertyd die vermoë om, wanneer dinge rof raak, sy veldvaardighede uit te stal.

Die voertuig-statistiek vir al twee weergawes (4×4 en 4×2) bevestig net weer die Fortuner se veldry-geskiktheid: Die invalshoek is 30 grade, vertrekhoek is 25, grondvryhoogte is 220 mm en water van so diep as 700 mm kan (stadig en versigtig) aangepak word.

Nog iets wat die Fortuner se gewildheid beklemtoon, is die feit dat dit ’n trots Suid-Afrikaanse model is. Die Fortuner, wat by Toyota se Prospecton-aanleg in Durban vervaardig word, word deur nie minder nie as 2 483-monteerlynwerkers op die IMV-monteerlyn (vernuwende of innoverende veeldoelvoertuiglyn) langs sy Hilux-stalmaat gebou.

’n Vinnige kykie na die Fortuner se tydlyn onthul dat die model ’n aantal verbeterings en opgraderings ondergaan het om hom danksy gebruikersterugvoer in pas met markvereistes en klanteverwagtinge te hou.

Met sy buiging in 2006 het die Fortuner dadelik kopers aangelok, en lees sy onderstaande geskiedenis soos ʼn strokie.

2006 – Plaaslik vervaardigde Fortuner maak sy buiging in Suid-Afrika saam met die 7e-geslag-Hilux.
2009 – Toerustingveranderings gee die Fortuner stabiliteitsbeheer as deel van sy standaard-toerusting, en hy kry ook 17”-wiele.
2011 – Die Fortuner se voorkoms word opgekikker en hy kry ’n aantal gemak- en geriefsitems by. ’n Waarde-georiënteerde 2.5 D-4D-handratweergawe word die eerste keer by die reeks gevoeg.
2012 – 2.5 D-4D-outomaties word bekend gestel.
2013 – “LTD Edition” vir die 3.0 D-4D- en 4.0 V6-modelle.
2014 – Fortuner “Epic” maak sy buiging tesame met kosmetiese verbeteringe vir die hele reeks.

Maar, soos dit met voertuie gaan, werk die vervaardigers altyd daaraan om hulle waens vars en nuut te laat lyk. En dis juis hier waar die Fortuner sy “Epic” baadjie aantrek.

Die nuwe model het voorlangs nuwe kopligte met swart detail bygekry, die buitespieëls is nou verchroom, en die agterligte is ook ietwat opgekikker.

Die donkergrys 17” allooiwiele vertoon ook dramaties mooi en dit, tesame met Epic-kentekens voorlangs en ʼn trekstang, is van die belangrikste sigbare verbeteringe.

Opsommend: Ek was aangenaam verras deur die Fortuner Epic se uitstekende veldvaardighede, sy stewige bougehalte (nog altyd ʼn Fortuner-kenmerk) en stabiele padgedrag op teer. Die McCarthy 4×4-terrein bied verskeie kategorie 4-uitdagings, maar die Fortuner het alles – van diep sand, water tot uiters steil klipkoppies – met gemak baasgeraak. Die hedendaagse Fortuners is dalk nie meer so bekostigbaar soos die oer-modelle (2006) nie, maar bied steeds waarde vir geld en word sterk aanbeveel.

Pryse
Fortuner 3.0 D-4D 4×2 Epic – R461 800
Fortuner 3.0 D-4D 4×2 outo Epic – R474 700
Fortuner 4.0 V6 4×2 outo Epic – R493 100
Fortuner 3.0 D-4D 4×4 Epic – R513 400
Fortuner 3.0 D-4D 4×4 outo Epic – R526 500
Fortuner 4.0 V6 4×4 outo Epic – R544 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.