Foton Tunland Granite gaan sy stukkie van die dubbelkajuit mark wegraap

Foton Tunland Granite

Foton Tunland Granite

Hier in sonnige Suid-Afrika is ons baie lief vir ons bakkies. Veral ʼn lekker groot dubbelkajuit. Dit doen ook nie skade as hy so bietjie opgetof is soos die Granite nie.

Foton is al ʼn geruime tyd in Suid-Afrika. Verskeie LDV-bakkies is al beskikbaar gestel uit die goedkoper Chinese mark. Die Tunland begin die lyn tussen die markleiers en ‘goedkoop Chinees’ bietjie verduister.

ʼn Aantreklike bakkie uit die staanspoor, en nou meer as tevore met sy swart allooi-wiele en 16” Cooper all-terrain bande. ʼn Swart rol-en-struikelstaaf asook ʼn paar ander visuele opkikkerings maak van hierdie Tunland ʼn baie mooi bakkie. Die Granite is beskikbaar in wit en silwer.

Die binneruim het duursame nagemaakte leerbekleedsel wat lekker gemaklik sit. Die paneelbord is eenvoudig uitgelê en daar is nie te veel fieterjasies in die kajuit nie. Die beenruimte vir die agtersitplekke is ook indrukwekkend, en die rugleuning sit nie kiertsregop soos met ouer dubbelkajuitbakkies nie. Alles op sy plek en doen wat dit daar geplaas is om te doen. Alhoewel die klankstelsel se kwaliteit nie uitstekend is nie, bied hy wel Bluetooth. Een deurhandvatsel het bietjie vasgehaak, maar ʼn klein spuitjie Q20 en daai probleem is dadelik opgelos. Daar is ʼn aanboordrekenaar wat brandstofverbruik inligting gee.

Foton Tunland Granite

Foton Tunland Granite

Dit bring my na die beste punt van hierdie lorrie. Brandstofverbruik. Die Tunland word aangedryf deur Cummins se ISF-enjin. Dit is ʼn 2.8 liter, 4 silinder-dieselmasjien. Hy skop 120kW en 360Nm. Hierdie enjin het puik kraglewering en is van die min bakkies in die Suid-Afrikaanse mark wat aan Euro IV-uitlaatgasvereistes voldoen. Aan die Cummins-enjin is ʼn gewone 5-gang handrat wat goeie versnelling bied en die toere laag hou teen kruissnelheid. Die Tunland kan ʼn indrukwekkende 2.5 ton sleep.

Ons het so in die omgewing van 750 km met die Tunland afgelê op verskeie roetes, oop pad en verkeer. Die aanboordrekenaar het ʼn indrukwekkende 7.7ℓ/100 km gewys toe ons hom teruggee. 13km/ℓ in so groot bakkie, met die krag wat hy bied, is werklik indrukwekkend.

Ritgehalte is ook vir my ʼn goeie punt. Mens voel jy ry in ʼn dubbelkajuit – maar ʼn skelet word nie uitmekaar geruk deur harde vering nie. Hantering is vir my ook beter as ander voertuie wat so hoog is. ʼn Goeie kompromie tussen gemak en vermoë.

Die Tunland word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en ʼn  2 jaar/40 000 km-diensplan. Diensintervalle is 10 000 km, so 500ppm diesel mag gebruik word.

Om op te som:

Die Tunland Granite het my regtig beïndruk. Die bakkie bied grootte, spasie en vermoë sonder om vir jou duisende rande uit die sak te jaag aan brandstof. Ek dink so ʼn Tunland sal baie lekker my woonwa sleep. Al wat my bekommer is sy herverkoopwaarde oor ʼn paar jaar.

Die reeks lyk so:

2.8 on-road ComfortR209 995
2.8 off-road ComfortR249 995
2.8 off-road LuxuryR259 995
2.8 dubbelkajuit off-road ComfortR299 995
2.8 dubbelkajuit off-road LuxuryR319 995
2.8 dubbelkajuit off-road Luxury GraniteR329 995
2.8 dubbelkajuit 4×4 ComfortR389 995
2.8 dubbelkajuit 4×4 LuxuryR409 995

Die kompetisie lyk so:

JMC Vigus 2.4 TDCi Dubbelkajuit88kW/ 290Nm8ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/60 000 km-diensplan

R309 990
GWM Steed 6 2.0 VGT dubbelkajuit105kW/ 305Nm8.8ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

Opsionele 5 jaar/60 000 km-diensplan

R329 900
TATA Xenon XT 2.2 dubbelkajuit Evolve110kW/ 320Nm9ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/75 000 km-diensplan

R279 995
Ford Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XL118kW/ 385Nm6.9ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R381 900
Toyota Hilux 2.4 GD-6 dubbelkajuit SRX110kW/ 400Nm7.1ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R442 700

Die kompetisie is sterk en die opsies baie. Gaan ry hulle almal, en sien watter handskoen die lekkerste jou sak pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hein ·

Mooi Voertuig .

Waar sal n mens die voertuie kan besugtig of wie kan mens kontak ?

Brendon ·

Dagsê Hein,

Baie dankie vir jou navraag. Ek stuur vir jou ‘n epos direk.

Groete
Brendon
NMS Maroela Media

Hein ·

Hallo Brendon ;

Dankie ek het nog nie jou e-pos ontvang nie ek stel regtig belang .

Groete
Hein

Rupert Ashford ·

Met ‘n Cummins diesel gaan sy enjin definitief nie terugstaan vir enigiets anders nie. Lyk ook gladnie soos ‘n Chinees nie – hier is dalk potensiaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.