[Foto’s] Bekendstelling: BMW stel die nuwe maatstaf

Die nuwe BMW X3 (Foto: BMW)

Ek onthou toe die eerste X3 in Suid-Afrika bekendgestel is. Dit was ietwat van ʼn lelike eendjie, en die binneruim was nie waffers nie. Ek’t nie die tweede generasie X3 gery nie, maar nog altyd gedink dit is ʼn baie mooier kar as die eerste probeerslag. Ons was sopas by die bekendstelling van die nuutste X3, en sjoe – dis darem mooi. Die eerste X3 was ʼn goedkoper alternatief vir die X5… die nuwe X3 is nie goedkoper nie, net kleiner – en meer bekostigbaar, maar wat gehalte betref, hoef hy geensins vir sy groot boetie terug te staan nie.

Daar is tans vier enjins beskikbaar: 20d, 30i, 30d en M40i. Daar sal later sDrive 20i- en 20d-modelle sonder vierwielaandrywing beskikbaar gestel word. Daar is vier spesifikasievlakke: basismodel, xLine, Luxury Line en M Sport-pakket. Die intreemodel is tog luuks, maar die Luxury line is uiters luuks en gemaklik. Daar is ʼn magdom opsionele pakkette en ekstras wat jy kan gebruik om jou X3 te verpersoonlik – maar ek sou nie ver van hulle pakkette afwyk nie, dit is heel voldoende na my smaak.

By die bekendstelling het ons die 20d- en 30d-modelle bestuur. Ons sal vroeg volgende jaar die M40i ry en dán ʼn indruk lewer. Die 20d is ʼn volmaakte oplossing vir meeste mense. Vir dié wat meer krag soek, maar tog suinig is by die vulstasie, is die 30d perfek, en my keuse in die reeks. Die M40i is die reeksleier met ʼn asemrowende klankbaan wat die hare in jou nek kan laat regop staan.

Die nuwe BMW X3 (Foto: BMW)

Die 20d is heeltemal sterk genoeg om ʼn 250 km-reis baie kort te laat voel. Hy gedra hom puik op teer, en wat verbaas is hoe die 20d op 19”-wiele en die 30d op 21”-wiele ʼn grondpad kan vermorsel. Die Sewepassepad het verskeie oppervlaktes gebied – droog en nat, grond, teer en sand – en niks kon die X3 flous nie. BMW se xDrive-stelsel in sy huidige formaat bied fantastiese beheer in alle situasies.

Wat beïndruk is dat BMW nooit vergeet wie hulle is nie. BMW’s is nog altyd gebou om te ry, en pure bestuursgenot vir bestuurders te bied. Die X3 het grootgeword en is nou ʼn lieflike, luukse motor, nes die X5.

Die nuwe X3 is ʼn baie belangriker kar in Suid-Afrika as wat meeste Suid-Afrikaners besef. Dié X3 gaan hier in Rosslyn gebou word vir die grootste deel van die wêreld. BMW het sopas nóg R160 m bestee om die spoed van die produksielyn te verhoog sodat daar 76 000 eenhede ʼn jaar van sy produksielyn kan afrol. Dit kom ná daar in 2015 R6-miljard spandeer is om die aanleg groter te maak sodat die X3 hier gebou kan word. Amerika en China sal nog hul eie X3’s bou – maar Afrika en Europa sʼn sal vanuit Suid-Afrika uitgevoer word. Die eerste X3 sal einde Maart van die Rosslyn-lyn afrol.

Die reeks lyk só:

ModelKragEkonomie0 – 100 km/hTopspoedPrys
X3 xDrive 20d140 kW/ 400 Nm5.7 ℓ/100 km8 sek213 km/hR684 200
X3 xDrive 30i185 kW/ 350 Nm7.6 ℓ/100 km6.3 sek240 km/hR739 800
X3 xDrive 30d195 kW/ 620 Nm6.2 ℓ/100 km5.8 sek240 km/hR868 300
X3 M40i265 kW/ 500 Nm8.9 ℓ/100 km4.8 sek250 km/hR991 100

Dié is die intreemodelle van elke enjinopsie. Dit is sonder CO2-belasting en met die gewone 8-spoed outomatiese ratkas. Die reeks word gedek deur BMW se omvattende 5 jaar/100 000 km-instandhoudingsplan en 2 jaar/onbeperkte km-waarborg.

Om jou eie X3 te bou, besoek BMW se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.