[Foto’s] Bekendstelling: Discovery ʼn onverskrokke ontdekkingsreisiger

Die nuwe Land Rover Discovery (Foto: Land Rover)

Ek het al hier onder die maroelaboom gesels oor verskeie soorte motors. Klein, groot, vinnig, stadig, sportmotor of sportnuts. Ek moet bely dat ek ʼn groot liefhebber van avontuurlustige veldrymotors is. Ek hou van die idee dat ek nou in die kar kan klim en Kenia toe kan ry as ek sou wil.

Land Rover is só ʼn voertuig. Die manne in die Toyota-kamp mompel nou iets agter hul snorre wat ek nie mooi kan hoor nie, maar sê wat jy wil – Land Rovers ry al die wêreld plat sedert 1948. ʼn Onstuimige motorbedryf in Brittanje in die 1970’s het vir Land Rover sien hande verwissel tussen Rover, Triumph en British Leyland. Toe Leyland sink is Land Rover saam met Rover aan BMW verkoop. In 2000 het BMW vir Land Rover aan Ford verkoop, en in 2008 uiteindelik aan die Tata-groep.

Ek dink die aanhoudende verwisseling van bestuur is moontlik iets wat kon bydra tot Land Rover se gewonde reputasie van hoe betroubaar die voertuie is, of nie is nie. Ek glo dinge is besig om mooi reg te kom. Freelander 2 was ʼn reuse-verbetering op die eerste Freelander. Discovery 4 was beter as 3 en baie meer betroubaar. Die “All New Discovery” is 480 kg ligter as sy voorganger. Kyk, ek het al voorheen gehoor van gewigsbesparing, maar ʼn halwe ton?

Die nuwe Discovery het ʼn nuwe ontwerp. Hy lyk nou meer soos sy kleinboet, die Discovery Sport. Ek hou baie van die voorkant en die ronder lyne help baie om die windweerstand en daarom ook die brandstofverbruik heelwat te verbeter. Werklike syfers wat ek al gekry het met ʼn Discovery 4 van Pretoria na Nylstroom is 10 ℓ/100 km. Op dieselfde roete met die bekendstelling van die nuwe Discovery het ek teen dieselfde snelhede 7 ℓ/100 km gehandhaaf. Dit is regtig indrukwekkend.

Die nuwe Land Rover Discovery (Foto: Land Rover)

Die binneruim van die nuwe Discovery voel heeltemal nuut en skoon. Die stuurwiel gee ook ʼn luukser Range Rover gevoel aan die Discovery. Die instrumentasie is eenvoudig en leesbaar met al die speelgoed ergonomies uitgelê. Die tweede ry sitplekke kan maklik vorentoe skuif om beenruimte te skep vir die derde ry. Die Discovery is een van die min sewesitplek-voertuie waar die derde ry sitplekke geskik is vir volwassenes. Nie vir duisende myle nie, maar jy sal vir ʼn paar uur heeltemal gemaklik kan wees.

Die Discovery het duisende gaatjies om allerhande goedjies te stoor, of te verloor – nes jy verkies. Land Rover het regtig met die nuwe Discovery gedink aan veeldoelige gemak en luuksheid. In die kattebak is daar ʼn beheerpaneel wat al die sitplekke oop en toe vou, die vering sak of lig om sleepwakoppeling te vergemaklik, die trekstang in en uit vou, die “bankie” wat 300 kg kan dra om op te sit oop en toe vou en laaste maar nie die minste nie, ʼn knoppie wat jou sleepsel se ligte self toets. Ai, die klein dingetjies. Vroulief gaan nou baie bly wees dat sy nie meer vir my hoef te skreeu nie: “Links, ja! Regs, ja! Ligte!”.

Die nuwe Land Rover Discovery (Foto: Land Rover)

Land Rover het slim nuwe tegnologie ingespan wat hulle noem All-Terrain Progress Control – ATPC. ʼn Mens kom by ʼn hindernis, druk die knoppie, kies jou spoed in km/h met die spoedbeheerknoppies en los die Discovery om self die hindernis te klim. Al wat jy doen is om dié meneer in die regte rigting te stuur. Makliker gaan jy nie 4×4 nie.

Ons beplan ʼn uitstappie met die Discovery-familie, die nuwe Discovery en sy Sport-kleinboet waar ons die twee beter sal vergelyk, leer ken en met hul mededingers vergelyk. Tot dan, indien jy in die mark is vir ʼn uitermatig bekwame 4×4-sportnutsvoertuig met sewe sitplekke, gaan kyk beslis na die Discovery. Hy kan dalk jou hart steel.

Die reeks lyk so:

3.0 TDV6 S190 kW/ 600 Nm7,2 ℓ/100 kmR980 000
3.0 V6 Supercharged250 kW/ 450 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 018 500
3.0 TDV6 SE190 kW/ 600 Nm7,2 ℓ/100 kmR1 109 250
3.0 V6 Supercharged SE250 kW/ 450 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 126 750
3.0 TDV6 HSE190 kW/ 600 Nm7,2 ℓ/100 kmR1 223 000
3.0 V5 Supercharged HSE250 kW/ 450 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 240 500
3.0 TDV6 HSE Luxury190 kW/ 600 Nm7,2 ℓ/100 kmR1 314 000
3.0 V6 Supercharged  HSE Luxury250 kW/ 450 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 331 500
3.0 TDV6 First Edition190 kW/ 600 Nm7,2 ℓ/100 kmR1 440 000
3.0 V6 Supercharged First Edition250 kW/ 450 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 457 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en ʼn 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jannes ·

Fantastiese rygoed. Raak net van hom ontslae voor 50 000 km.

suby-jo ·

Jannes is een van die bang ouens wat agter sy baard mompel en seker n Toyota ry. Ons Disco het amper 200k km’s sonder drama, byverre die beste motor wat ek ooit gehad het en goeie allrounder! Waar bakkies en ander 4×4’s se ondergoed skraap op middelmannetjies, stel ons net die ryhoogte hoer. As jy sleep, weet jy nie vd karavaan agter jou nie. So kan ek aangaan…eintlik soek ek n nuwe een, is dit ‘n 5? Net te vrek duur.

Gawie ·

Stem saam suby-jo. Ek het twee Disco 3’s. TDV6 en V8, awesome voertuie. Rol nie soos sekere bakkies as jy moet uitswenk nie en ry baie gemaklik, geen kidney belt nodig nie. Albei oor 250 000km op die klok.

Kruk-as ·

Jip! – As Toyota eienaar (x-LR) mompel ek ook maar agter my snor oor wat die koste verbonde aan ‘n kruk-as vervanging is…

Hendrik ·

Gewoonlik wys hierdie voertuie gou die gebreke veral as jy elke dag op ‘n grondpad ry. Ek sal gratis toetse doen vir Land Rover op ons grondpad en na ‘n jaag terugvoer gee of hy hou :-)

Waghond ·

Om nie eers van die oliekolle en gebrekkige lugvering te praat nie.

Riaan ·

Ek werk by een van die grootste diesel parte agente in S.A….Land Rover parte een van ons top verkoopers en die parte is HEL duur.
Freelander injector pryse kos amper die helfde van di waarde van di kar.!!…..So ek stem saam met boostaande kommentaar…Ry hom tot 50000 km en VERKOOP!!!….

Louw ·

Jou ou drukkersduiwel! Dit is sekerlik ‘n “Discovery” en nie ‘n “Dicovery” soos in die titel vermeld nie? :-)

Cyril Blackburn ·

Dagsê Louw
Dankie vir jou valkoog! Die opskrif moet inderdaad “Discovery” lees. Die artikel is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.