[Foto’s] Bekendstelling: Dié Alfa Romeo is soos ʼn windhond

Die nuwe Alfa Romeo Stelvio (Foto: Alfa Romeo)

Ek stry al jare, as mens ʼn vinnige motor wil hê, word sportnutse outomaties gediskwalifiseer. Hmm. Nie meer nie. Maroela Media was verlede week by die bekendstelling van die splinternuwe Alfa Romeo Stelvio.

Die Stelvio is beslis een van die mooier sportnutse wat tans beskikbaar is. Dit is ook anders. Daar is ʼn sekere emosionele verbintenis wat net die Italianers aan ʼn ontwerp kan bring. Dit is die geval hier. Ek’t aanvanklik gewonder hoekom Alfa Romeo ʼn sportnuts wou maak, en die antwoord is eenvoudig. Die wêreld is tans sportnuts-gek. Indien Alfa Romeo nie ʼn sportnuts kan aanbied nie, gaan hulle ongelukkig aan die kortste ent trek.

Soos met die Giulia is die binneruim nie die beste in die bedryf nie; daai toekenning gaan na Audi vir sy Q5 of Mercedes-Benz vir sy GLC en BMW met sy nuwe X3. Die Stelvio se binneruim is glad nie sleg aanmekaargesit nie, die materiale is net nie in dieselfde klas as sy prys nie. Ons sal probeer om die First Edition te toets in 2018 om te sien of sy binneruim beter is as die Super-model. Die sitplekke is gemaklik, die bestuursposisie is vir my gemaklik en al die kontroles ergonomies uitgelê. Dieselfde stelsels word gebruik wat in die Giulia beskikbaar is, en dié is ons nou al gewoond.

Die nuwe Alfa Romeo Stelvio (Foto: Alfa Romeo)

Wat van die enjin? Dit is Alfa se viersilinderturbopetrolenjin. Maar – in die Stelvio bied dié enjin 206 kW en 400 Nm. Aitsa. Die enjin gaan gepaard met Alfa se Q4-vierwielaandrywingstelsel: 0–100 km/h duik op in 5,7 sekondes en hy sal aanhou hol tot 230 km/h. Dit is vinnig, of dit nou vergelyk word met ʼn sportnuts of luikrug – vinnig bly vinnig.

Hoe hanteer hy? Soos ʼn sportsedan of luikrugmotor. Die Alfa Romeo Stelvio raak sy gewig baas soos min ander in die bedryf. Alfa se Q4-stelsel werk effe anders as die meeste vierwielaandrywingstelsels. Ander stelsels skuif die meeste van die krag na die voorwiele, en indien nodig – na almal. Alfa s’n stuur die krag na die agterwiele, en wanneer nodig – na almal. Dit bied ʼn unieke gevoel op die pad teenoor Stelvio se mededingers. Waar die Audi geneig is om te onderstuur, het die Alfa nie daai probleem nie.

Daar is twee modelle beskikbaar in Suid-Afrika, albei dieselfde dryfstelsel en enjins. Die spesifikasievlak op die First Edition is meer luuks as op Super. Die First Edition kry groter 20″-wiele, 10 luidsprekers, luukse leersitplekke, blindekolhulp, verhitte sitplekke en stuurwiel, ratspane agter die stuur, elektriese sitplekke, spoedbeheer, sportpedale, sportstuurwiel, sondak, hoofligwasser en ʼn paar ander goedjies.

Só lyk die pryse:

Alfa Romeo Stelvio SuperR810 000
Alfa Romeo Stelvio First EditionR946 000

Albei word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Ongelukkig voorsien ek ʼn rowwe tyd vir Alfa Romeo met die Stelvio in Suid-Afrika. Dit is ʼn goeie produk, maar sy prys is wild. In dié prysklas kan mens dieselfde tipe verrigting kry as in die Alfa, met ʼn beter binneruim. Die vraag is of jy iets anders wil hê!

Sodra ons volgende jaar meer tyd in die Stelvio deurbring, sal ons ʼn beter vergelyking doen met sy mededingers en sien waar staan hy in die mark. Ons sien wel uit na die bekendstelling van die vuurvretende Alfa Romeo Stelvio QV wat reeds die rekord hou vir die vinnigste sportnutsvoertuig om ʼn rondte van die roemryke Nürburgring in Duitsland. Kyk gerus hierna.

Dit is vir ons fantasties om te sien hoe Alfa Romeo weer regte, egte Alfas bou …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Lekker!

Net (weer) ‘n punt van orde. Alfa Romeo gebruik nie meer die benaming “Quadrifoglio Verde” of “QV” nie. Hulle gebruik nou, sedert 2015, slegs die woord “Quadrifoglio” vir die hoëverrigtingmodelle.

Alfa Suid-Afrika gebruik miskien steeds QV, uit onkunde in hul bemarkingsmateriaal, maar dis foutief.

Op Maroela se resensie van die Giulia word dit steeds ook so foutief aangedui, en in daardie artikel is die byskrifte van talle van die foto’s ook verkeerd. Daar word aangedui dat foto’s van die binneruim van die Quadrifoglio is, maar dis eintlik foto’s van die binneruim van die 2-liter model.

Chris ·

Ek het die indrukke van die nutsvoertuig van Alfa gelees. Ek het die voorreg gehad im die Gulia te bestuur. Soos ek al in ‘n vorige brief oor die Alfa geskryf het, kry jy ‘n Alfa aanhanger of ‘n nie Alfa aanhanger. Volgens my is dit ietwat onregverdig om motors teen mekaar af te speel. Die keuse van ‘n motor word eerstens bepaal deur bekostigbaarheid en persoonlike smaak. Ek is een van die Alfa bestenes. Jy sal vir my niks negatiefs van ‘n Alfa vertel nie. Soos ook al geskryf het. Jy bestuur nie ‘n Alfa nie. Jy ervaar ‘n Alfa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.