Maroela Media het onlangs die bekendstelling van die opgeknapte BMW 4-reeks bygewoon. Verskeie opknappings beloof om met die 4-reeks ʼn beter waarde-pakket aan sy kopers te bied.
Dit is verfrissend om by ʼn bekendstelling die intreemodelle te bestuur in plaas van die vuurvretende top-modelle. Dit het vir ons ʼn puik geleentheid gebied om die onderstel en hantering beter te leer ken, sonder die oordondering van ʼn reuse-enjin.
Ons het die BMW 420i Gran Coupé en 420d Coupé bestuur. Wat vir my opvallend is, is hoe gelyk die petrol- en dieselmodelle is. Die 420i bied 135 kW en 290 Nm. Die 420d bied 140 kW en 400 Nm. Op die pad sukkel ʼn mens om die twee uitmekaar te ken. Van verkeerslig tot verkeerslig langs mekaar wys die twee geen verskil nie.
Op die oop pad is albei lig op brandstof. Ons het met die 20i petrol-weergawe 7,9 ℓ/100 km, en op die 20d diesel-weergawe 6,8 ℓ/100 km gehandhaaf. Dit is asemrowende syfers aangesien ons heen en weer oor Mpumalanga gery het met van die land se beste bergpasse. Ons het in stadiums regtig hard gery en die 4-reeks vreet die myle op. Ons het net meer as 500 km gery en was geensins uitgeput nie.
BMW se kajuite beïndruk altyd. Dit is ʼn eenvoudige uitleg en daar is nie allerhande truuks wat mens moet gewoond raak nie. Vir my is BMW se bestuursposisie perfek. Dit stoele kan stel nes ek dit wil hê. Die iDrive-stelsel is maklik om te beheer en die instrumentasie vertoon mooi en is maklik leesbaar.
Die troefkaart van die 4-reeks is wel dat dit ʼn meer dinamiese pakket aanbied as ʼn 3 reeks. Die 4-reeks het ʼn laer swaartepunt en het dus beter padhouvermoë. Ek het die 4-reeks soms regtig hard gedruk en niks maak die 4-reeks benoud nie. Die remme het nooit gekla nie en die 8-spoed Sports-outo ratkas met spane agter die stuur is puik. Waar die paaie regtig sleg geraak het, was die 4-reeks ook nie gesteur nie.
Dit kajuit bly ook heerlik stil.
Die nuwe 4-reeks kry opgedateerde vering op die Coupé en Gran Coupé. Bi-LED-hoofligte is standaard en Adaptive LED-hoofligte is opsioneel. Misligte is ook nou LED-tipes. Daar is twee kleure uniek aan die 4-reeks, Sunset Orange en Snapper Rocks Blue. Agterligte word ook nou LED-eenhede.
Ons sal binnekort meer tyd saam met die afslaankap-model deurbring en sal dan meer kan sê oor die spesifieke bakstyl. Die BMW 4-reeks is ʼn asemrowende pakket, intreevlak enjins en al.
Die reeks lyk so:
Model | Handrat | Outo | Sports-outo |
BMW 420i Coupé / Gran Coupé | R603 200 | R624 000 | R629 800 |
BMW 420d Coupé / Gran Coupé | R639 300 | R660 100 | R665 900 |
BMW 430i Coupé / Gran Coupé | R690 300 | R711 100 | R716 900 |
BMW 440i Coupé / Gran Coupé | – | – | R861 100 |
BWM 420i Convertible | R715 400 | R736 200 | R742 000 |
BMW 430i Convertible | R827 600 | R848 400 | R854 200 |
BMW 440i Convertible | – | – | R995 000 |
Dié is die standaard-modelle. Daar is tog Sport-, Luxury- en M Sport-modelle beskikbaar. Die reeks geniet en 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.
Nie te lank gelede nie, het die 320i en 320d presies die selfde gekos, nou is daar weer ‘n amper R40k verskil tussen die 420 diesel en petrol. Dis baie geld om te betaal vir nie regtig ‘n groot besparing en brandstof nie. In my oë is die ekstra geld vir die diesel net regverdig as jy die Newtons nodig het, maar weer 290 in die petrol model is nou nie juis wat ek sal sê te min nie!