[Foto’s] Bekendstelling: Dié Hyundai’s het rissies geëet…

Die nuwe Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Hyundai Suid-Afrika het sopas hul nuutste Elantra-reeks bekendgestel, en ‘n eg Suid-Afrikaanse Tucson wat plaaslik mooigemaak word. ’n Mens weet ‘n vervaardiger luister na hul kopers as hulle hul motors vir die plaaslike mark begin aanpas.

Die spoggerige nuwe Elantra is ook ietwat van ʼn verrassing vir my. Ek sê nog altyd, vir ‘n motor om suksesvol te wees moet dit iets spesifiek goed doen… al is dit net een ding. Hy moet óf goedkoop, óf vinnig, óf luuks óf ‘n winskoop wees. As ‘n kar nie een ding goed doen nie, dan het daardie vervaardiger ‘n probleem.

In dié geval is Hyundai baie gelukkig. In hierdie segment het die Hyundai Elantra 1.6 TGDI Elite in dié stadium nie ‘n mededinger nie. Die Ford Focus 1.5T Trend outo kom die naaste aan die Elantra met 132 kW en 240 Nm, maar nie een kom naby aan Hyundai se 150 kW en 265 Nm nie. Die enjin is gekoppel aan Hyundai se 7-spoed DCT outomatiese ratkas. Dié Elantra sal hol van 0 tot 100 km/h in 7.7 sekondes en is beperk tot 210 km/h.

Ons het kans gehad om die Elantra te laat wys wat hy kan doen op Redstar Raceway naby Delmas. Ek is stomgeslaan oor hoe goed die Elantra en Tucson Sport dié tipe misbruik hanteer. Die remme het sterk gestaan en die enjin geensins oorwerk nie.

My eerste indrukke is dat Hyundai hul sokkies al baie hoog teen die gehaltebeen opgetrek het, en hul waarborg is markleidend. Ons sal weer ‘n beurt met beide kry om ‘n meer indiepte-resensie te doen oor die nuwe Elantra en Tucson Sport. Ons sal hulle dan ook teen hul mededingers vergelyk.

Die Elantra-reeks lyk só:

Elantra 1.6 Executive94 kW/ 154 Nm6.5 ℓ/100 kmR299 900
Elantra 1.6 Executive outo94 kW/ 154 Nm6.9 ℓ/100 kmR314 900
Elantra 2.0 Elite outo115 kW/ 195 Nm8.3 ℓ/100 kmR349 900
Elantra 1.6 TGDI Elite DCT Sport150 kW/ 265 Nm7.9 ℓ/100 kmR399 900

Die nuwe Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-fabriekswaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ‘n 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die Hyundai Tucson is Suid-Afrika se gunsteling- mediumgrootte sportnutsvoertuig. Daar het sedert Maart 2016 al 7 553 verkoop en dit het 16.5% van die mark weggeraap. Hyundai het dit nou goed gedink om vir ons ‘n “opgedolliede” weergawe te gee.

Dié Tucson kry nuwe 19”-naelloopskoene, ‘n bakwerkpakket en ‘n indrukwekkende vier-uitlaatpypstelsel.

Die nuwe Hyundai Tucson (Foto: Hyundai)

Die “blaasdinge”, soos my oudste sê, klink nogal goed. Die Tucson Sport geniet ook dieselfde 1.6 TGDI-enjin as die Elantra met 150 kW en 295 Nm. Die wringkrag is hoër omdat die Tucson ‘n handratmodel is.

Die kwaliteit en spesifikasievlak beïndruk en die aangesig is mooi, maar daar is ‘n paar mededingers wat die Tucson ‘n harde tyd gaan gee. Die Ford Kuga 2.0T AWD Titanium het 177 kW, 340 Nm-wringkrag en allewielaandrywing vir slegs R17 000 meer.

Sodra ons meer tyd met die Tucson deurbring, sal ons beter daaroor kan berig en dit met sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk so:

Tucson 2.0 Premium115 kW/ 196 Nm8.9 ℓ/100 kmR379 900
Tucson 2.0 Premium outo115 kW/ 196 Nm9 ℓ/100 kmR399 900
Tucson 1.6 Turbo Executive130 kW/ 265 Nm8.3 ℓl/100 kmR449 900
Tucson 1.7CRDi Executive85 kW/ 280 Nm4.7 ℓ/100 kmR449 900
Tucson 2.0 Elite outo115 kW/ 196 Nm9 ℓ/100 kmR469 900
Tucson 1.6 Turbo Executive Sport150 kW/ 295 Nm8.3 ℓ/100 kmR499 900
Tucson 1.6 Turbo 4WD Elite130 kW/ 265 Nm8.5 ℓ/100 kmR534 900
Tucson 2.0CRDi Elite131 kW/ 400 Nm6.7 ℓ/100 kmR539 900

Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelsel-waarborg en ‘n 5 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Johann van Staden ·

Ek ry nou al my 5de Hyundai…sal nooit weer iets anders ry nie. Hierdie motors is absoluut fantasties!

Piet Pompies ·

Ten spyte van ‘n paar stampe en stote aan die begin van die bekenstelling van Hyundai in SA het hy een van die mees suksesvolle buiteperde geword.
Hou so aan, ons mark het dit nodig.

Luiperd74 ·

Ek ry elke dag byna 160km en het so paar jaar terug besluit om iets goedkoop en ekonomies te koop, so toe koop ek ‘n Hyundai i10 1.2. Daar is nou amper 200 000km op die odometer en ek het letterlik nog niks moes vervang of regmaak nie, behalwe vir die bande en brieke. Ek sal Hyundai aanbeveel vir enige iemand!

Lida ·

Ek ry ook nou al jare ‘n Hyundai en ek sal ook nie sommer iets anders koop nie, dis betroubaar en bekostigbaar wanneer dienste en herstelwerk nodig is. Well done Hyundai!!

Chris Ws ·

Ek deel die gevoel oor Hyundai met die kommentare hier bo.Ek is seker dis die hoof rede waarom General Motors ontrek het vir ‘n 2de (en hopelik laaste!) keer.Hulle kan net nie kers vashou by Hyundai,Kia en die Japanese nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.