[Foto’s] Bekendstelling: Die sewe-sitplek sportnuts-stryd

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Suid-Afrika het verlede Vrydag sy Pajero Sport aan die media bekendgestel. Dié voertuig is al maande in die land, maar Mitsubishi se sompompe het geworstel met wisselkoerse wat net nie in die taai mark kon meeding nie.

Die pryse is bekendgemaak, en ek dink Mitsubishi sit moontlik hier met ʼn wenresep. Ons vorige ondervinding met dié platform en enjin was met die verruklike Triton en die ondervinding was puik. Die nuwe 2,4-dieselenjin is stil, lig op brandstof en hy hoef nie terug te staan vir die groter kapasiteit enjins in die mededingers nie.

Die ritgehalte in die Triton is baie goed. Die feit dat die Pajero Sport kronkelvere agter het sal verseker dat die Pajero Sport nóg lekkerder ry. Die Pajero Sport kry ook Mitsubishi se splinternuwe 8-spoed outomatiese ratkas.

Mitsubishi was nog altyd sinoniem met allewielaandrywing. Die feit dat Mitsubishi die eerste passasiersvoertuig met allewielaandrywing in 1933 geloods het, maak van hulle pioniers in dié bedryf. Nóg ʼn getuienis hieroor is die feit dat Mitsubishi met die Pajero 12 keer die Dakar-ydren gewen het, sewe keer agtereenvolgend. Mitsubishi ken 4×4 én betroubaarheid.

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Is die Pajero Sport ʼn tydrenmotor? Nee – dit is ʼn luukse, sewesitplek sportnutsvoertuig. Só ook is die Fortuner en Everest. Ek gaan nie die Chevrolet Trailblazer insluit nie omdat hulle besig is om die land te verlaat. In Augustus het Toyota 1 070 Fortuners verkoop en Ford 536 Everests. Ek het geen idee wat is Mitsubishi se teikens met die Pajero Sport nie, maar die feit dat dit nie so gewild soos die Toyota of die Ford is nie hoort te help met versekering en diefstal of kaping.

Die binneruim kry sagte leerbekleedsel en die bestuursposisie voel vir my gemaklik. Die kajuit voel ergonomies uitgelê en die derde ry sitplekke heeltemal aanvaarbaar vir volwassenes oor medium afstande … minder as 250 km. Kindertjies gaan piekfyn wees.

Ons hoort binnekort ʼn beurt te kry om die Pajero Sport beter te leer ken. Dan sal ons meer in diepte verslag gee.

Die reeks lyk só:

Pajero Sport 2,4 D4 MIVEC 2WD 8-spoed outo133 kW/ 430 Nm8 ℓ/100 kmR569 995
Pajero Sport 2,4 D4 MIVEC 4WD 9 spoed outo133 kW/ 430 Nm8,1 ℓ/100 kmR599 995

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 outo130 kW/ 450 Nm8,5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R624 100
Ford Everest 3.2 4WD XLT147 kW/ 470 Nm8,2 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R639 900

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Pajero Sport (Foto: Mitsubishi)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marcel ·

Stem saam, glad nie ‘n mooi kar nie. Ons het die naweek by die sa motor festival in een gery en sy binneruim voel baie “goedkoop”. Die skerm daar voor lyk soos ‘n “aftermarket” 1 wat sommer by die vlooimark gekoop is en al die knoppies en so aan is baie plastiek. Ja hy ry baie lekker en is redelik goed geprys, maar hy gaan definitief nie kliënte steel by die Fortuner nie, die Fortuner se binnekant is seker die mooiste wat daar is in daardie segment karre.

Paul ·

Net as ‘n bietjie geskiedenis-opskerping. Mitsubishi het nie die eerste passasiersvoertuig met allewielaandrywing in 1933 geloods (sic) nie. Die PX33 was slegs ‘n prototipe en hulle het net vier van die voertuie vervaardig. Dit was die eerste allewielaandrywingspassasiersvoertuig in Japan, nie in die wêreld nie.
Daar was reeds talle ander allewielaandrywingspassasiersvoertuie in ander lande voor dit. Ferdinand Porsche se elektriese motor prototipe in 1899 het byvoorbeeld allewielaandrywing gehad. Die Spyker 60HP renmotor uit Nederland in 1903 ook.

As mens slegs na passasiersmotors (nie insluitend Jeep of soortgelyke produkte uit WOII uit Rusland, Japan en Duitsland, of die eerste Land Rover, nie) kyk, en dit beperk tot karre wat massaproduksie bereik het en aan die algemene publiek verkoop is, dan kom die eer vir die eerste allewielaangedrewe passasiersmotor waarskynlik die Britse vervaardiger Jensen toe. Die Jensen FF uit 1966 het allewielaandrywing gehad, en dit was ook die eerste produksiemotor wat met sluitweerremme (ABS) toegerus is.

Dis nou as mens nie die Australiese Caldwell Vale kar uit 1910 waarvan slegs sowat 40 eksemplare vervaardig is, insluit nie. Dit kan tegnies as ‘n produksiemotor gereken word, maar dit was so onsuksesvol met verkope dat dit eintlik nie tel nie.

So nee, Mitsubishi was nie die eerste nie.

Robert ·

Wel die Fortuner se voor en agterkant is ook nou nie juis iets om oor opgewonde te raak nie.

Poeksie ·

Ek stem. Ek ry ‘n 2010 Fortuner en ek verkies die vorm en voorkoms van myne bo die nuwe een. Die huidige model het ‘n te sagte voorkoms na my sin, en het nie meer die rowwe veldry beeld wat ek verkies nie. Maar wanneer die tyd kom om my Fortuner te vervang, sal ek steeds die huidige model sterk oorweeg. Dit lyk myle beter as die Trailblazer, Everest en definitief die nuwe Pajero Sport.

Hendrik ·

Wel ek hou van die Pajerosport. Goeie enjin en goeie beproefde 4WD stelsel. Lees maar wat isdie mening is van al die motorrubriekskrywers oor die Triton se enjin, ratkas en veerstelsel. Die tendens in enjingroote is kleiner enjins wat dieselfde krag lewer en wat lig op brandstof is. Onthou jy ry elke dag met hierdie voertuig werk toe. Oor ‘n paar jaar gaan die elektriese enjin bykom om hibriede stelsel te hardloop. Dan sal Ford en Toyota maar nog steeds met die 3.2 en 2,8 liters rondpoer ;-)

Andre C ·

Volgens die artikel het die 4wd model n 9 spoed ratkas.Is dit korrek?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.