[Foto’s] Bekendstelling: Fiat Panda dalk die kleinste bergklimmer

Die nuwe Fiat Panda Cross (Foto: Fiat)

Soos ek al voorheen gesê het, ons motorjoernaliste hou daarvan om verras te word. Ek is heeltemal verras en beïndruk deur dié klein buksie. Ek het voorheen al ondervinding met Fiat se klein 900 cc-tweesilindertjie opgedoen… maar nog nie met ’n 4×4-Panda nie.

Kom ek stel dit vir jou so: Op die pad is die Panda soos enige ander klein A-segment-tjorretjie. Hy is eerlik en bied goedkoop toegang tot die vryheid wat motor-eienaarskap bied. Hy is heeltemal goed toegerus en die klein enjin is lekker gretig en indrukwekkend lig op brandstof. Die slimfoonhouer wat aan die paneelbord vas is, werk ook fantasties. Jou foon is vas daarbinne en daar is ’n app wat afgelaai kan word om allerhande truuks met jou foon te kontroleer.

Waar die Panda verras, is met die 4×4- en Panda Cross-weergawes. Die Panda-4×4 is gebaseer op die gewone Panda-stadsmotortjie, maar met die voordeel dat hy enige plek kan gaan. Die 4×4- en Cross-weergawe kry ’n 6-gang-ratkas in plaas van die 5-spoed op die Easy- en Lounge-modelle. Dit bied ’n korter eerste rat om beter te kan bergklim. Die 4×4-stelsel werk op ’n “wringkrag soos nodig”-basis en besluit self waar kort daar krag. Die stelsel werk intuïtief en verbasend vinnig.

Die Cross-weergawe het elektroniese ewenaarslotte wat inskop soos nodig, of jy kan die ewenaar self met ’n knoppie in die kajuit sluit. Die “Terrain Control” laat die bestuurder een van drie modusse kies: Auto, Lock en Hill Descent.

Die nuwe Fiat Panda (Foto: Fiat)

Die 4×4 het 150 mm-grondvryhoogte en die Cross 161 mm. Die 4×4 se benaderinghoek is 21 ⁰, die vertrekhoek is 36 ⁰ en die breekhoek is 20 ⁰. Die Cross-weergawe is 24 ⁰, 34 ⁰ en 21 ⁰. Die Panda Cross kan ’n maksimum helling van 70% en laterale helling van 55% handhaaf! Die Cross kan ’n waaddiepte van 711 mm bereik. Die Panda draf van 0 – 100 km/h in 11.2 sekondes in die 4×2 en hou aan tot 177 km/h. Die 4×4 neem 12.1 sek tot 100 km/h en hou aan tot 166 km/h. Die Cross, met effe meer krag, draf tot 100 km/h in 12 sek en hou aan tot 167 km/h.

Dit is ’n klomp nommers en syfers. Kom ek stel dit vir jou so, dié Pandatjie kán beslis. Ons het Killarney 4×4 in Natal besoek en ’n klein roete gery. Deur ’n riviertjie, los sand, oor ’n paar bultjies en weer deur ’n stroompie. Die Panda het geensins gesukkel nie en op die snelweg kan hy lag-lag by die spoedgrens hou… of meer.

Sodra ons die Panda op toets kry, wil ek beslis ’n 4×4-baan besoek en kyk hoe ver die Panda sal gaan voor hy vassit. Ek sal dit vir julle op video vaslê.

Die reeks lyk so:

Panda Easy63 kW/ 145 Nm5-spoed handrat4.2 ℓ/100 kmR184 900
Panda Lounge63 kW/ 145 Nm5-spoed handrat4.2 ℓ/100 kmR199 900
Panda 4×463 kW/ 145 Nm6-spoed handrat 4×44.9 ℓ/100 kmR229 900
Panda Cross66 kW/ 145 Nm6-spoed handrat 4×44.9 ℓ/100 kmR249 900

Die reeks word gedek deur ’n 3 jaar/100 000 km-waarborg en 3 jaar/100 000 km-diensplan.

Ons sal die Panda teen sy mededingers vergelyk met die indiepte-toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tammy ·

Baie interessant. Gaan hy die Suzuki Jimny klop wat vaardigheid betref? Dit lyk wel of die 4×4 Panda n beter topspoed het. Ons wag in groot opgewondenheid op die groot toets!!!!!

Brendon ·

Dagsê Tammy,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons sal probeer om ‘n Suzuki Jimny terselfdertyd op die video vas te lê. Mag die oulikste 4×4 wen.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

SE MAAR NET ·

Ek wonder ook. Die Jimny se ground clearance is 190mm, die Panda 161mm.
Die Jimny approch angle 34 degrees, Brake over angle 31 degrees en depature angle 46 degrees… Nee wat ek dink ons Suzuki Jimny sal die Panda se boude ook skop op die 4×4 trek…

Niel ·

Ek wonder net hoeveel “Smash & Grabs” daar in SA sal wees as jy jou selfoon so mooi adverteer in daai “slimfoonhouer”.

Johan ·

Panda VS Jimny – deel 1:

Jimny VS Panda toets sal pret wees om te doen!

Hier is wat gaan gebeur tydens die toets:

Bergklim: Jimny 1 – Panda 0 : Die Jimny se laestrekratkas gaan hom die klim-voordeel gee bo die Panda. (LW: die helling moet nie “cross-axle” gate hê nie, anders kan die Panda wen)

Modder / nat gras : Panda 1 – Jimny 0 – Die Panda se slim kloukragbeheer (traction control) het ‘n slim diff-lock-agtige aksie wat op die remme werk. (hy sluit egter nie fisies die ewenaar soos ‘n bakkie s’n nie) Sodoende seën die Panda sy eie wielle met krag waar nodig. Ook die Panda se growwer bande tel beslis in sy guns.

Grondpad (hoë spoed) : Panda 1 – Jimny 0 : Die FIAT manne was slim genoeg om die Panda te skoei met ‘n tipe van veelterreinband (all terrain). Die Jimny se Yaris-agtige teerpad-gemors bande wat ZERO greep op los oppervlaktes het, is ‘n totale grap…

Kruis-as situasies (cross-axle) Panda 1 – Jimny 0 : Weereens gaan die Panda se kloukragbeheer met ewenaarslot aksie die Jimny se gat skop! Die Jimny is “oop-ewenaar”, en dus gaan die Jimny se tor afval as sy wielle begin lig.

Petrus Haggard ·

Johan ek stem saam , maar in n toets wat ons gesoen het het n terios die jimnys hard laat werk daar was net een hindernis waar die terios nie kon gaan

So ek sal se die Panda gaan n goeie teenstander wees

Waghond ·

Hierdie buksie gaan gatskop! Ek voorspel die Panda gaan die Jimny troef.

Jacques ·

4×4 Vermoe eenkant gelos…. Ek sal my eie geld op die Jimny spandeer. Die bou kwaliteit van FIAT is om die minste te se afskuwelik. Ek sou verwag dat bakpanele sal afval in n 4×4 omgewing. Ek het al voertuie van Sjinese vervaardigers met beter kwaliteit gesien.

Petrus Haggard ·

Die Panda cross behoort naby die jimny te kom al hoewel die jimny laestrek het. Die Panda is wel baie ligter en sy tegnologie kan n groot verskil maak
Ek het die voring Panda 4×4 in 2006 besit en dit was verbasend goed in die bos ons het gaan speel met hom ek het baie fotos daarvan

Klein botteltjie groot gif

Bly om te sien fiat bring die panda 4×4 weer terug en sy prys is baie goed

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.