Kia het sopas hul Sportage-reeks opgekikker. Aanvanklik was daar vyf modelle om van te kies, en ’n reusagtige prysgaping tussen die intree- en topmodel. Kia het ’n bietjie tyd met die sompompe deurgebring en nog sewe modelle beskikbaar gestel.
Dié nuwelinge vul die gapings mooi en maak die Sportage ’n baie breër reeks om van te kies en te keur. Soos met die oorspronklike vyf modelle is die ontwerp en gehalte bo-aan Kia se prioriteitslys. Ons het voorheen berig oor die Sportage 2.4 SX AWD outo. Soos daar berig is, is die Sportage regtig netjies en modieus. Die binneruim is uiters gemaklik en daar is ’n oorheersende gevoel van gehalte in die kajuit.
Die reeks word só uitgebrei:
- Sportage Ignite-intreemodel kry nou ’n 6-gang-outokas by.
- Sportage EX kry ’n 2.0 petrol-enjin by.
- Nuwe Ignite PLUS-spesifikasievlak is nou beskikbaar op 2.0 petrolhandrat en -outo.
- Nuwe 1.7 CRDI-enjin is bekend gestel met Ignite PLUS-spesifikasievlak en handratkas.
- Nuwe EX PLUS-spesifikasievlak nou beskikbaar op 2.0 petrol- en dieselmodelle.
- Die Ignite PLUS kry die gewone Ignite se spesifikasievlak met 17”-wiele, misligte en selfverduisterende truspieëltjie.
- Die EX PLUS kry die gewone EX se spesifikasievlak met 19”-wiele, navigasie, truratkamera en elektries-verstelbare sitplekke.
Een van die nuwelinge word dadelik die model wat ek sou kies. Dit is die 1.7 CRDI Ignite Plus. Dié model sal jou R406 995 uit die sak jaag, maar is billik toegerus en die enjin is ’n klein juweel. 85 kW en 280 Nm trek die Sportage met gemak rond terwyl hy suutjies aan die diesel proe. Die 1.7 dieselmasjien beïndruk ook met sy werkverrigting in 6de rat. Daar is min bulte wat jou terugbring na 5de rat. Ek glo die 1.7 CRDI sal perfek wees as allewielaandrywing nie vir jou ’n vereiste is nie.
Die byvoeging van die outokas op die 2.0 petrolweergawe is ’n aangename verrassing. Die enjin trek verbasend goed vir ’n atmosferiese 2.0 en die ratkas skuif glad deur sy ratte sonder enige protes. Die outomatiese ratkas met die elektries-verstelbare sitplekke en navigasie maak dié Sportage ’n puik langpad-metgesel.
Ek sal die Sportage-reeks só opsom. Daar is nou ’n groot verskeidenheid om van te kies. Maak nie saak wat jy wil doen met ’n medium-grootte sportnutsvoertuig nie – Sportage het ’n antwoord vir jou vraag.
Die reeks lyk nou só:
Sportage 2.0 Ignite | 7.9 ℓ/100 km | 114 kW/ 192 Nm | R369 995 |
Sportage 2.0 Ignite PLUS | 7.9 ℓ/100 km | 114 kW/ 192 Nm | R376 995 |
Sportage 2.0 Ignite Outo | 8.1 ℓ/100 km | 114 kW/ 192 Nm | R382 995 |
Sportage 2.0 Ignite PLUS Outo | 8.1 ℓ/100 km | 114 kW/ 192 Nm | R389 995 |
Sportage 1.7 CRDi Ignite Plus | 4.9 ℓ/100 km | 85 kW/ 280 Nm | R406 995 |
Sportage 2.0 EX | 8.1 ℓ/100 km | 114 kW/ 192 Nm | R429 995 |
Sportage 2.0 EX PLUS | 8.1 ℓ/100 km | 114 kW/ 192 Nm | R459 995 |
Sportage 2.0 CRDi EX | 6.8 ℓ/100 km | 130 kW/ 400 Nm | R487 995 |
Sportage 2.0 CRDi EX PLUS | 6.8 ℓ/100 km | 130 kW/ 400 Nm | R517 995 |
Sportage 2.4 GDi SX AWD | 8.5 ℓ/100 km | 135 kW/ 237 Nm | R557 995 |
Sportage 2.0 CRDi SX AWD | 6.8 ℓ/100 km | 130 kW/ 400 Nm | R567 995 |
Sportage 1.6T GT-Line AWD | 7.5 ℓ/100 km | 130 kW/ 265Nm | R599 995 |
Die reeks word gedek deur Kia se 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.
*Let wel: Die foto’s van die binneruim is die 1.6T GT-Line-spesifikasievlak.
Puik voertuie!Dis maar een van die vervaardigers wat General Motors uit Suid Afrika gehelp het.