[Foto’s] Bekendstelling: Klein enjin, gróót hart

Die nuwe 2.0-viersilinderturbopetrol- Jaguar F-Type (Foto: Jaguar)

Maroela Media het verlede week die bekendstelling van die nuwe 2.0-viersilinderturbopetrol- Jaguar F-Type bygewoon. Ja, jy het reg gelees: ʼn tweesitplek-, agterwielaangedrewe sportmotor met slegs 1 997 cc. Dit verf wel nie die hele prentjie nie: 221 kW en 400 Nm … Mooi, man. Om dit in perspektief te plaas – Magnum PI se Ferrari het maar 169 kW en 275 Nm gehad.

Net soos die drie bere en hul pap, het elkeen ʼn voorkeur. In die F-Type is daar nou 221 kW – 400 Nm, 250 kW – 450 Nm, 280 kW – 460 Nm, 294 kW – 460 Nm, 405 kW – 680 Nm en 423 kW – 700 Nm. Die 221 kW-model is Jaguar se nuwe Ingenium-petrolenjin. Die verskeie keuses bied elke bestuurder iets. As jy gereeld ry asof jou broek aan die brand is, glo ek die 280 kW-V6 is in die kol, maar daar is manne daar buite wat vir jou sal sê die 423 kW-model is vir hulle net reg … ek dink hulle hoort in die groendakkies, maar nou ja. As ek enige model in die reeks kon kies om te besit, sou ek ʼn 280 kW-V6-koepee, handrat, koop.

Die nuwe 2.0-viersilinderturbopetrol- Jaguar F-Type (Foto: Jaguar)

Is daar plek in die reeks vir die 2.0? Beslis. Die F-Type, 221 kW, 400 Nm, kan sy sokkies optrek met die beste daar buite. Dit bied ʼn F-Type teen ʼn laer pryspunt waar mens voorheen bo R1 miljoen sou moes opdok vir die 250 kW-V6. Daar is bietjie aan die akoestiek gewerk sodat daar ʼn aangename gebrul deur die uitlaatpype deurkom. Nee, dit gee nie hoendervleis soos die V6 vir my nie – maar dit is nie onaangenaam nie.

Die 2.0-F-Type voel soos sy sterker boetie. Lang enjinkap, sit lekker laag, sitplekke wat jou mooi om die heupe gryp en baie krag. Dit is lieflik.

Ek wil graag wel die spoed van die 2.0 in perspektief plaas:

Model0 – 100 km/hTopspoed
221 kW 2.0 4 silinder5.7 sek250 km/h
250 kW 3.0 V65.7 sek260 km/h
280 kW 3.0 V65.5 sek275 km/h
294 kW 3.0 V64.9 sek275 km/h
405 kW 5.0 V84.1 sek300 km/h
423 kW 5.0 V8 SVR AWD3.7 sek322 km/h

Die 2.0 is nie veel stadiger as die twee goedkoopste V6-modelle nie. Wat die 2.0 wel bied, is die geleentheid om hard te ry, sonder om jouself te verongeluk. Mens kan met die 2.0 jou limiet gaan soek, sonder om op ʼn landmyn te trap. Daai landmyn, glo ek, is die V8-modelle. Hulle klink asemrowend mooi, en ek het my Jaguar se gevorderde bestuurdersopleiding in ʼn F-Type, V8 Convertible, voltooi – maar as jy nie jou storie ken nie, gaan hy jou moontlik byt. Die 2.0 is 52 kg ligter as sy V6-boetie, en mens voel dit in die hantering.

Wat ons ook in ag moet neem: Die F-Type is asemrowend mooi. Só mooi dat daar mense is wat nie wil jaag nie, maar dink dis mooi – vir wie 221 kW heeltemal voldoende is. ʼn Slim besluit – dink ek.

Die 2.0-reeks lyk só:

Coupé 221 kWR914 202
Convertible 221 kWR931 002
Coupé 221 kW R-DynamicR992 002
Convertible 221 kW R-DynamicR1 008 802

Die F-Type-reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan met diensintervalle van 26 000 km.

Ons sal vroeg volgende jaar meer tyd met die F-Type deurbring op openbare paaie en kyk hoe vaar hy teen sy mededingers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.