[Foto’s] Bekendstelling: Land Cruiser nié net ʼn naam nie

Die Land Cruiser Prado (Foto: Toyota)

Maroela Media het onlangs die bekendstelling van die opgekikkerde Land Cruiser Prado bygewoon. Ek’t nog altyd na Prado’s gekyk en gedink … is dit regtig nodig? Moontlik nie, maar – wat die Prado jou kan bied in terme van onvergeetlike herinneringe het onskatbare waarde.

Ek hou daarvan om te reis. Ons bly in ʼn pragtige land. Ek’t in die afgelope jaar dele van ons land gesien wat ʼn mens regtig amper aan die tjank kan sit. Was jy al ooit by die Vallei van Verlatenheid? Dis só ʼn plek. Nog een wat ek al vir jare wou besoek, is die Sanipas. Die uitnodiging van Toyota was skaars in my e-posbus, toe het ek dit reeds aanvaar.

As ʼn mens na ʼn kaart kyk en die teerpaaie volg van King Shaka Internasionale Lughawe tot by Sanipas, dan wonder ʼn mens of die pad enigsins meer kon kronkel. Hy kan, op grond en klip – teen die berg op waar jy 2 873 m bo seevlak staan wanneer jy bo uitkom. Dit is bitter koud. Die son skyn tog, en die Prado sê vir my 9 grade, maar die wind in my ore sê vir my dis eerder 0, of dalk -1.

Die Land Cruiser Prado (Foto: Toyota)

As ʼn mens bo kom, gaan gryp jy ʼn koffie in die hoogste kroeg in Afrika, en dan sien jy die toneel by die venster uit hoe die grondpad soos ʼn klein 2-minute noodle teen die berg lê, al die pad terug tot onder aan die voet van die berg. Dit is ongelooflik mooi.

Moet jy ʼn Prado besit om Sanipas te ry? Beslis nie, die meeste 4×4-voertuie sal dit kan doen. Die Prado het wel nie eens gevoel of dit enigsins ernstig raak nie. Die laaste paar draaie raak die helling styf, maar die traksie wat die Prado se vierwielaandrywingstelsel bied, is indrukwekkend. Op die teerpad het die Prado hom vir ʼn groot sewesitplek-sportnutsvoertuig regtig goed gedra. Ja, daar is bakrol, maar dit is onvermydelik as ʼn mens behoorlike grondvryhoogte, ritgehalte en veldryvernuf wil hê.

Wat die Prado wel bied, beter as die bakkiegebaseerde sportnutse soos Everest, Fortuner en Pajero Sport, is dat ʼn mens minder vibrasies en onaangename geslinger deur die onderstel kry as ʼn mens groot slaggate of hobbels tref teen spoed. Toyota noem dit romp-op-raam-samestelling, en dit is eie aan die Prado in die grootsportnutssegment.

Die binneruim van die Prado se gehalte is ver bo dié van sy direkte mededinger, die Mitsubishi Pajero LWB. Ja, hy is wel duurder as die Pajero, maar ʼn baie nuwer produk en bied nuwe tegnologieë in die veldrydepartement wat die Pajero nie kan bied nie. As jy sulke speelgoed soek, moet jy na die nuwe Discovery kyk, en hy maak weer ʼn reusesprong in prys. Die spesifikasievlakke in die nuwe VX-L-model is regtig indrukwekkend. Die intree-TX-model kry nou die yskassie in die konsole, en alle modelle kry sitplekverwarmers vir die eerste en tweede ry, en verkoeling vir die bestuurder en passasier. Die VX- en VX-L-topvlakmodelle geniet navigasie en ʼn opgeknapte veelterrein-kameramonitorstelsel wat reg rondom die voertuig kan sien en ook panoramiese en oorhoofse beelde vertoon. Die reeksleidende VX-L geniet ʼn sondak asook ʼn aktiewe veiligheidspakket.

Die Land Cruiser Prado (Foto: Toyota)

Hoekom nog die 3.0 Euro II-dieselenjin? Diesel. Toyota kan nie ʼn betroubare produk bied in Suider-Afrika waar daar ʼn moontlikheid is dat jy 500 ppm diesel gaan moet ingooi nie. Die Prado is ʼn Land Cruiser, en met daai naam verwag ʼn mens dat jy enige plek kan reis wat jou hart begeer, en dat dit sonder tegniese kwale gebeur. Om dit te kan bied, moet Toyota voorberei vir substandaard-diesel, dus gebruik hulle steeds die 3.0-enjin in die Prado. Is dit ʼn probleem? Ek dink glad nie so nie. 120 kW en 400 Nm is heeltemal lekker. Dit is in elk geval ʼn Prado, nie ʼn renmotor nie. Van Sanipas af terug lughawe toe teen gewone snelhede het die Prado hom puik gedra op brandstof ook, 7,9 ℓ/100 km met ʼn bestuurstyl wat ek glo die meeste eienaars sal handhaaf.

Die Prado se aangesig is vir my nou mooier as voorheen. Die Prado lyk nou doelgerig en taai. Daar is ʼn magdom luukshede in die kajuit wat die rit vir alle insittendes gemaklik maak. Daar is nuwe veiligheidstelsels om die passasiers te beskerm. Die Prado is uiters bekwaam in die veld of op teer. Daar is ʼn R150 000-prysgaping tussen die intree- en topmodel. Kies die een wat jou sak pas en jy sal seker nooit spyt wees nie.

Die reeks lyk só:

ModelPrys
Land Cruiser Prado 3.0D TX R821 700
Land Cruiser Prado 4.0 V6 VXR930 000
Land Cruiser Prado 3.0D VXR932 400
Land Cruiser Prado 4.0 V6 VX-LR967 200
Land Cruiser Prado 3.0D VX-LR969 600

Ons het ook ʼn paar minute met die opgekikkerde Land Cruiser 200 deurgebring. Dié 4.5 V8-turbodiesel-masjien kry 22 kW en 35 Nm by om nou 195 kW en 650 Nm uit te stoot. GX-modelle kry nou dakrakke, ʼn koelkassie in die konsole, ʼn kattebakseil en parkeerafstandhulp. Die VX-R wat die vorige VX vervang, kry ook dakrakke, outomatiese deurspieëls en ʼn ingeboude trekstang.

Die reeks lyk só:

ModelPrys
Land Cruiser 200 GXR999 900
Land Cruiser 200 VX-RR1 345 000

Die Land Cruiser-reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Nie een pas my sak nie. Sal maar by die Etios hou!!

TvdM ·

120 kW en 400 Nm is darem te min en te dun in daardie prysklas. Die ander voertuie in daardie klas het 160 kW en 600 Nm plus in diesel gewaad.

Basson ·

Jip – dis die probleem, Toyota het nie ‘n (veel) sterker diesel beskikbaar?
(Daar is wel ‘n Cummins diesel soos in die Tundra.)
Darem is die Fortuner beskikbaar met ‘n 130 Kw / 450 Nm in Auto gewaad.

Zack ·

Stem saam 120KW en 400Nm is heeltemal te min. Daar is baie ander voertuie in sy prysklas met amper die helfte meer krag as wat die Toyota bied. Die Prado sien ek eerder in die BMW X5 se klas maar met die swak kraglewering is daar nie eers n vergelyking nie. Ek dink regtig toyota kan beter doen met die Prado.

EU2 ·

TSA se rede maak nie sin.
In Australie is weggedoen met die argaiese 3.0 1KD-FTV in die Prado en is vervang deur die 2.8 1GD-FTV.
Geen wesenlike rede hoekom SA nie ook ten minste die 2.8 kon kry, aangesien dit reeds in die FT beskikbaar is as die 1GD-HI, en kan 500 PPM gebruik. (Euro 2)
(Ook, 500 ppm raak selfs al skaars in the lande om ons, meeste het al beweeg na 50 ppm. In SA verkoop SASOL nie eens meer iets anders as 10 ppm by baie vulstasies.)

Pieter ·

Ek ry ‘n 2.2D met 165Kw en 430nm – hierdie is pateties.
Ek het ook nie gedink dis moontlik dat die nuwe shape leliker as die vorige shape kon wees nie. Hulle karre is ongelooflik lelik.
Die 2008 shape was die laaste Prado wat nog mooi was.
Verstaan nie – kyk hulle hoe lelik hulle hul karra kan maak?

Ice ·

Net 3 jaar waarborg? Pateties. Daar is brands wat al 7 jaar gee en die almagtige “reliable” Toyota boer agteruit met sy 3 jaar waarborg (wat eers 5 was).

zack ·

Een geluk is dat die Prado nie rol nie soos die hiluxe nie.
Hy is seker te stadig en het te min krag vir dit.

Bok ·

Dis darrem baie geld vir min krag. As jy sleep gaan jy sukkel om gemaklik voertuie verby te gaan. Daardie V8 masjien moes eerder in al die Prados beskikbaar gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.