[Foto’s] Bekendstelling: Rio ʼn reuse-rolspeler

Die nuwe Kia Rio (Foto: Kia)

In 2011 kon Kia nie voorspel wat ʼn reuse-rolspeler die derde generasie Rio vir die maatskappy sou wees nie. Die eerste generasie het maar 3 542 eenhede verkoop tussen 2000 en 2006. Die tweede generasie 2 056 eenhede tussen 2007 en 2011. En toe ontplof die Rio-bom. Tussen 2011 en 2016 het die derde generasie Kia Rio 37 327 eenhede verkoop. Wow.

Die vierde generasie Rio is vir Kia ʼn belangrike model in die sin dat Kia die sukses wil handhaaf. Kia het in 2016 al hul teikens bereik en oorskry. In die huidige finansiële klimaat is dit ‘n indrukwekkende prestasie en dui dit aan dat Kia op die regte pad is in Suid-Afrika.

Die nuwe Rio is effe meer volwasse as sy voorganger en daar is baie ontwikkeling onder die vel wat ’n mens nie kan sien nie. Elke aspek van die onderstel is ’n bietjie verbeter vir beter ritgehalte, klankdigtheid, padhouvermoë ensovoorts. Dieselfde 1.2 en 1.4 viersilinder-petrol-enjins uit die voorganger word gebruik, maar die elektroniese beheer-eenhede se programmering is aangepas sodat die wringkragkurwe vroeër in die toerestrek begin.

Die nuwe Kia Rio (Foto: Kia)

Soos met alle nuwe Kia’s is die binneruim se gehalte indrukwekkend goed. Nie net vir ‘n klein motor nie, goed – punt. Kia is nie meer die goedkoop opsie nie, dié binneruim het ʼn gehaltegevoel wat gewoonlik nie in dié klas beskikbaar is nie. Die bestuursposisie en sitplek is lekker gemaklik en die stuurwiel kan ver uittrek nader aan die bestuurder – perfek vir my. Daar is boonop ʼn indrukwekkende 7”-raakskerm inligtingstelsel wat ons in die volle padtoets beter sal leer ken.

Wat bakwerk betref, is daar vir die voorsienbare toekoms net ’n luikrugmodel beskikbaar, maar jy kan kies tussen die twee enjins en ’n handrat- of ’n outomatiese model. Ons toetsroete was ‘n goeie mengsel van stadsverkeer deur Johannesburg se SBD en ‘n stukkie op snelweg. Die Rio voel goed en tuis in alle omstandighede.

Ek dink Kia kan rustig wees dat dié Rio vir hulle baie goed gaan doen…

Die reeks lyk só:

Rio 1.2 LS62 kW/ 120 NmR219 995
Rio 1.4 LX74 kW/ 135 NmR234 995
Rio 1.4 EX74 kW/ 135 NmR249 995
Rio 1.4 TEC74 kW/ 135 NmR274 995

Die reeks word gedek deur Kia se 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan. Slegs handratmodelle se pryse beskikbaar by bekendstelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DarkWing ·

Die nuwe Rio is definitief ‘n reuse stap in die regte rigting vir die motor vervaardiger.

So ook die nuwe Hyundai Elantra…, sal graag wil weet wanner julle die nuwe motortjie gaan toets en wat julle terugvoer is !
Ek het al self na een gaan kyk en is baie beindruk met die afwerking en standaard spesifikasies wat in meeste mededingers as opsionele ekstras alleenlik beskikbaar is.
Die 1.6 Sport lyk baie belowend !

jaco ·

lekker karretjies, net jammer daar is nie ‘n 1.6 of 1.8 nie. die 1.4 is net te “lui”, wil nie eers weet van die 1.2 nie!

Brendon ·

Dagsê Jaco,

Dankie vir jou kommentaar. Ons het gister die 1.4 TEC bestuur by die bekendstelling. Die 1.4 is heel lekker en voel nie pap nie. Daar is wel ‘n 1.6 enjin in Amerika beskikbaar met 103kW. Die uitdaging is om daai enjin in Suid-Afrika te bied en steeds mededingend in die segment te wees. Dalk eendag…

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Koos1 ·

Die eerste Rio’s was seker die lelikste kar op die pad, MAAR ook die goedkoopste!
Om nou R220 000.00 vir ‘n intree karretjie is bietjie baie, veral as jy mooi gaan soek in die mark. ‘n Paar fabrikate mag jou nogals verras! Toe gegee, sy spesifikasies is hoog, maar so ook ander motors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.