[Foto’s] Bielie van ʼn buksie

Foto: Brian Cheyne

Daar is ʼn woeling aan die kom in die onderpunt van die motorfietsmark. Die nuwe rigting wat ingeslaan word, is na kleinkapasiteit-avontuurfietse. Iets om meer mense na ʼn sekere leefstyl te lok en hopelik sodoende ook ʼn saadjie van lojaliteit te saai. Kawasaki het ook ʼn mededinger in hierdie segment en hy heet die Versys X-300.

Die enjin kom uit die Z300 en 300 Ninja waarop ek al gery het, so ek was gretig om te sien hoe hierdie kragbron sal vaar in ʼn nuwe raam en rol. Behalwe vir die enjin en instrumente wat oorgedra is, is alles verder nuut ontwikkel. Waar Kawasaki se mededingers almal enkelsilinderenjins het, het die X300 twee. Die kraglewering is amper dieselfde as dié van die immergroen KLR650, maar kom eers teen ʼn allemintige 11 500 omwentelinge.

Die voor- en agterband kombinasie is 19- en 17-duim onderskeidelik en dit is in lyn met die groter avontuurfietse. Jy kan met hierdie kombinasie wel van die teer af, maar nie te ver nie. Die enjin leen hom nie daartoe om teen lae toere deur die bos te ploeter nie, en hoewel plastiekpanele die kant van die enjin beskerm is die onderkant van die fiets heeltemal ontbloot.

Foto: Brian Cheyne

Die remme het sluitwering en werk baie goed, maar jy kan dit nie afskakel nie, wat maar net weer eens bewys dat die Versys nie bedoel is vir tegniese vrotpadgebruik nie.

Die instrumentasie is baie volledig, met die ratposisie reg in die middel. Menigmaal moes ek afkyk om seker te maak ek is in sesde, want die enjin woel só jy voel of jy nog ratte oor het. Die fietsie is rats vir sy grootte. As die enjin eers aan die kook is, voel die fiets gemaklik lig en draaie word met gemak hanteer. Die koppelaar is seker een van dié ligstes wat ek nog op enige fiets teëgekom het, en met die fiets se anoreksiese afmetings maak dit die ideale pendelfiets.

Een item wat nou letterlik en figuurlik ʼn pyn in die agterstewe is, is die saal. Hy is kliphard. En ek bedoel regte klippe, nie net figuurlik nie. Hoewel die ryposisie baie gemaklik is, gaan jy nie baie ver ry voor jy sal moet afklim en jou boude ʼn welverdiende ruskans moet gee nie. Gelukkig kan jy met gemak opstaan op die X300 en dalk so ʼn ekstra kilometer of twee wen, maar stilhou sal jy moet stilhou.

Foto: Brian Cheyne

Op die pad is die klein Versys regtig ʼn fees. Ek is oor die ses voet in die ou taal en my ryposisie is heerlik ontspanne, en die klein windskermpie doen nogal goed om die wind van my af te hou. Die topspoed is by die 160 km/h so jy kan met gemak byhou by snelwegverkeer.

Kawasaki bied ook ʼn reeks bybehore soos 17 ℓ  kant-tassies en omvalpypies, so hulle is ernstig dat hierdie fietsie aangewend kan word as ʼn toerfiets. Die X300 sal die ideale intree-vlak fiets maak vir iemand wat reeds ʼn groot avontuurfiets het, maar sy agteroppie wil ook so nou en dan self ry. Of dalk wil hy net weer wil voel hoe dit voel om met ʼn ligte fietsie die boendoes in te vaar.

Klik hier vir die produkblad.

In ʼn neutedop:


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cobus ·

Vir die prys is die regtig ‘n uitstekende koop, ek ry self ‘n KLR650 en nadat ek die outjie vir ‘n toets rit gevat het, was ek verlief! Nie een keer gevoel ek ry nou ‘n 300cc wat meer krag bennodig nie. Teen daai prys is dit ‘n moet en reg vir allerdaagse gebruik!

Brian Cheyne ·

Jy is reg Cobus. My grootste taak is om die fiets te beoordeel vir wat hy is, en hy het genoeg krag. Die week wat ek met hom gehad het was genoeg om my te oortuig dat ek sal kan saamleef met hom. Vir sy doel slaag hy die toets. Boonop weeg hy nie ‘n kwart ton nie en kos ook nie ‘n kwart miljoen nie.

Mike ·

Sjoe glad nie sleg nie,jammer ek nou net R 3 gekoop,maar dis net so bargain baie fiets gekry vir 70 K

anton ·

Persoonlik is ek bly dat hy n 2 silinder masjien het wat vir my punte wen bo die BMW 310cc wat ook nou op die mark verskyn. Dit kan net n gladder masjien wees en dink 1 silinders moet nie meer vervaardig word nie.
Persoonlik dink ek egter dit is bietjie duur vir so n klein fiets. R55 000- sou n beter intree prys gewees het. Maar in S.A betaal ons mos vir alles meer as wat ons moet agv. swak rand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.