[Foto’s] BMW G 310 R: Mossie maar man

Die BMW G 310 R (K03) (Foto: BMW)

Toe ons die uitnodiging kry om die BMW G 310 R se bekendstelling by te woon, het ek so gehoop hulle stel hom nie op ʼn renbaan bekend nie. Dié baba-BMW is ʼn pendelfiets en ʼn baan sal net afbreuk doen aan die fiets. Gelukkig het BMW ook so geredeneer en ons het in Melrose Arch ontmoet. Ons roete het ons deur die hartjie van Johannesburg geneem om die BMW in sy bestemde habitat te toets.

Edgar Kleinbergen, BMW Motorrad SA se algemene bestuurder, het ons agtergrond gegee oor BMW se besluit om in die sub-500cc klas mee te ding. Hierdie segment krioel van goedkoop motorfietse, en daar is ʼn behoefte aan ʼn premium handelsmerk geïdentifiseer. BMW het die 310 ontwerp en ontwikkel, maar die vervaardiging word in Indië deur die TVS-groep behartig. Onder BMW se waaksame oog, natuurlik.

Die BMW G 310 R (K03) (Foto: BMW)

Visueel trek die kleinding baie op die groter BMW S 1000 R, en lyk baie sportief. Onmiskenbaar BMW. Kyk jy van naby, sien jy ʼn ongewone enjinkonfigurasie. Enkelsilinder-motorfietse se enjins volg maar dieselfde ontwerp. Die silinder is na voor gekantel en die uitlaatpyp kom voor uit. Die G 310 R se enjin is egter na agter gekantel en die uitlaatpyp kom agter uit. Dit het tot gevolg dat die ingenieurs dié enjintjie verder vorentoe kon monteer om meer gewig op die voorwiel te plaas. Hulle kon ook die swaaiarm verleng vir beter stabiliteit. Die voorste skokbrekers is onderstebo gemonteer en afgewerk in goud. Soos met alle BMW produkte is sluitwering op die remme standaard.

Die fietsie vertoon groter as wat sy enjin kapasiteit voorgee. Die saal is breed en gemaklik en die brandstoftenk van 11 liter lyk van bo af heel lywig. Dit skep die indruk dat jy wel op ʼn groter fiets is. Die skakelaars is tipies BMW en die instrumentasie is heeltemal digitaal. Alles wat jy mag nodig hê is daar.

Die BMW G 310 R (K03) (Foto: Brian Cheyne)

Nadat ek my sit op die 310 gekry het, is ons die strate in. Vir ʼn 300 is hy rats en die ratskakeling is glad. ʼn Paar van ons het partykeer gesukkel om neutraal raak te vat, maar dié is seker omdat die fietsies net so 500 km agter die rug gehad het. Ek was onmiddellik beïndruk met die G310 R se verrigting. Om van rigting te verander verg die ligste insette en die fiets floreer in die verkeer. Hy doen alles wat ʼn pendelfiets moet, en hy doen dit goed. Deur kronkelpaaie en op snelweë was die G 310 R oral ewe tuis.

Die kompetisie kan met reg bekommerd wees. Hierdie fietsie gaan groot dinge vir BMW beteken, want teen R62 990 is hy baie aggressief geprys. Ek dink egter nog groter dinge kom vroeg in 2018 as BMW die 310 GS uitbring. Ek sal geduldig wag vir my uitnodiging.

In ’n neutedop:

Enjin313 cc enkelsilinder
Gewig (Nat)158 kg
Maksimum kraglewering25 kw / 33,5 pk
Saalhoogte78,5 cm
Tenkkapasiteit11 ℓ
Prys

 

R62 990

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Mens betaal vir ‘n 125 deesdae R60k. Dis baie goed geprys.

anton ·

Baie jammer dit is n enkel silinder fiets en nie n 2 silinder nie.
Kawasaki se 300 cc lewer meer Kw. en dit is ook darm n 2 silinder.

Brian Cheyne ·

anton, moet nie dat die enkel jou flous nie. Dit is ‘n baie lekker fietsie om te ry. Die Kawa gee sy krag teen 11500rpm terwyl die BMW dit op 9500 gee. Jy moet die Kawa behoorlik aan die kook hou. Ek moet erken, die Kawa is gladder, maar die 310R hoef glad nie terug te staan wat verrigting betref nie.

Lizelle ·

My man het die eerste een in die land gekoop en dis ñ awesome fiets. Ons seun kry hom vlg jaar as hy sy lisensie gekry het. Definitief die moeitewerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.