[Foto’s] BMW GS trophy: Die dames gaan hul staal wys

Die uitdunne vir die BMW GS Trophy is net buite Amersfoort in Mpumalanga by die Country Trax Off Road Riding Academy gehou (Foto: BMW)

Ná vier dae se kompetisie het BMW spontaan besluit om in 2018 nie net een nie, maar twee spanne na die BMW GS Trophy in Mongolië te stuur. Hulle sal daar teen manlike spanne uit 18 lande meeding.

Net buite Amersfoort in Mpumalanga is Country Trax Off Road Riding Academy. In Augustus is uitdunne daar gehou vir BMW se GS Trophy wat volgende jaar in Mongolië aangebied word. Die span wat Suid-Afrika sal verteenwoordig, is by daardie geleentheid gekies. Middel November was dit tyd om uit die skoner geslag van dertien lande ʼn vroulike span saam te stel vir Mongolië. Die brullende fietse het die vier dae oorheers, en die deelnemers was ná die vier dae alles behalwe skoon.

Dag een moes die dames tente opslaan en ryklere aankry, alles teen tyd natuurlik. Daarna het drie uitdagings gevolg. Slegs twee van die uitdagings is voltooi voor ʼn donderstorm die verrigtinge onderbreek het.

Die uitdunne vir die BMW GS Trophy is net buite Amersfoort in Mpumalanga by die Country Trax Off Road Riding Academy gehou (Foto: BMW)

Dag twee het vroeg begin en die taak wat oorgestaan het van die vorige dag moes eers afgehandel word, voordat die volgende ses take aangepak is. Diep sand was op die spyskaart, en as jy nou al ooit ʼn GS in sand gery het, sal jy simpatie met die vroue hê. Ná aandete is nege deelnemers uitgeskakel, en die oorblywende veertien moes om 22:00 die aand ʼn 25 km nag-navigasie taak voltooi. By die halfpadmerk moes die deelnemers ʼn pap band regmaak. Na ʼn 17 uur-dag kon die deelnemers inkruip.

Dag drie het sommer op ʼn drafstap begin: Haal jou GS se agterwiel af, hardloop 50 m met hom en sit hom weer terug. Alles in 4 minute! Dit is gevolg deur ʼn resies om te sien wie die stadigste kan ry, en twee tegniese rytoetse. Die reën het die terrein glad en glibberig gemaak en die dames se vaardigheid is tot die uiterste beproef. Weerlig en reën het gesorg dat almal weer skuiling gesoek het. Later die aand is nog vyf ryers gevra om toeskouers te wees, en op dag vier sou die oorblywende nege dames dit vir die drie finalis-posisies uitspook.

Die uitdunne vir die BMW GS Trophy is net buite Amersfoort in Mpumalanga by die Country Trax Off Road Riding Academy gehou (Foto: BMW)

Dag vier het konsentrasie geverg, en die voorlopers moes veg om hul voorsprong te behou. Die laaste uitdaging het ʼn hele reeks vaardighede getoets wat ʼn paslike einde vir wat ʼn baie strawwe kompetisie was.

Terwyl almal in spanning gewag het, is die punte bymekaargetel en die drie wenners is aangewys. Suid-Afrika se eie Ezelda van Jaarsveld, Julia Maguire van Australië en Sonia Barbot van Frankryk het die meeste punte gehad en is dus as finaliste aangewys. Die opgewondenheid was groot toe nog drie dames onverwags ook as finaliste aangewys is. Hulle is Jocelin Snow van die VSA, Linda Steyn van Suid-Afrika en Bettina Nedel, ook van die VSA.

Hierdie ses deelnemers sal later ingedeel word in twee finale spanne. Hulle kan hul plekke met trots inneem by die BMW GS Trophy, Mongolië, 2018!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Houtoog ·

Veels geluk aan die span maar ook aan diegene wat deelgeneem het.
Ek reken dat Ezelda se van ‘van Jaarsveld’ is.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Houtoog
Dankie vir jou kommentaar – ons vra om verskoning vir die fout, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.