Foto’s: BMW kikker drie van sy fietse op

BMW se R 1250 R. Foto: Verskaf

BMW se bokser-enjin het oor die jare gegroei tot ’n kapasiteit van 1254 cc en was nog altyd sinoniem met die GS. Veral hier in sonnige Suid-Afrika waar almal avontuur aan jou wil verkoop.

Hierdie enjin doen egter ook diens in drie van BMW se pad-fietse, die R, die RS en die RT. Hierdie drie modelle het onlangs ’n opkikkering ondergaan en BMW het ’n groepie joernaliste Nelspruit toe gevlieg sodat ons hierdie fietse in hulle natuurlike habitat kon gaan ry.

Soos met die GS, spog hierdie nuwe modelle met BMW se Shiftcam-tegnologie. Daar is twee nokas-profiele wat sorg dat die enjin meer krag lewer op laer toere en terselfdertyd brandstofverbruik verbeter.

BMW se R 1250 R. Foto: Verskaf

Met die aansitslag gee die fiets steeds daardie bokser-waggel en die unieke klank van die bokser het nie in die slag gebly nie.

Verdere verfyning van die enjinelektronika sorg vir beter stabiliteit en verbeterde traksiebeheer. Die vering en selfs die remme het nou verskeie ryprogramme wat veiligheid op die pad verseker. BMW het ook nou hill start control as standaard op al die fietse. As jy die fiets teen ’n helling stop, hou die remme self die fiets stil tot jy weer wegtrek. Hierdie funksie is veral handig op die groter RT.

BMW se R 1250 R. Foto: Verskaf

Eerste op my program was BMW se kaalfiets, die R 1250 R. Die R en die RS het BMW se nuwe TFT-skerm en bevat ongelooflik baie inligting. Op die R is daar ook ’n spesiale instrumentepaneel-uitleg wat inligting bevat soos leunhoek en rem- en versnellingstatistieke. Dit het vir die onvermydelike vergelykings tussen die joernaliste gesorg. Die R voel, en is, ’n kompakte fiets met regop handvatsels en geen windbeskerming nie. Die pad tot by Kaapschehoop was gans te gou verby. Die R bring ’n lawwe streek na die anders statige BMW naam.

Net na Kaapschehoop het ons fietse geruil en ek het verskuif na die R 1250 RS.

BMW se R 1250 RS. Foto: Verskaf

Die fiets het dadelik anders gevoel. Met meer bakpanele en laer handvatsels voel hy meer sportief. Hierdie model dien as BMW se sportiewe toerfiets. Die RS is herstileer om die fiets ’n skerper voorkant te gee en die windskerm is steeds verstelbaar vir hoogte. Daar is net twee verstellings en dit word sommer so met die hand gedoen.

Al drie modelle het snelskakeling en met die vorige generasie snelskakeling kon die ratkas eenvoudig nie die skakeling tussen eerste en tweede regkry nie.

BMW se R 1250 RS. Foto: Verskaf

Ek weet nie of die net ander ratverhoudings of die verbeterde elektronika is nie, maar ek kon nou gemaklik deur die ratte skakel. En hoe meer aggressief jy die versneller draai, hoe beter werk die stelsel. Dalk was dit wat ek voorheen verkeerd gedoen het.

Wat my baie verbaas het, was dat ek meer gesuis in my pletterpet gehad het agter die RS se skerm as op die R wat geen skerm het nie. Nadat die fotograaf begin kiekies neem het van ons, het die fietse mooi uitgesprei en ek kon die RS goed klits op die uitgestrekte draaie op pad Sabie toe. In Sabie het ons vinnig vir verversings gestop. Gelukkig was ek steeds op die RS van Sabie tot in Graskop. Die RS het my baie beïndruk.

BMW se R 1250 RT. Foto: Verskaf

In Graskop het ons weer geruil en my laaste skof was op die R 1250 RT. Skielik het alles oud gevoel. Die spoedmeter en toereteller is nog analoog en die lae spieëls het my sommer dadelik afgesit. Die RT is egter meer grasie as rou verrigting. Ek het die groot windskerm verstel tot waar die stilte my omvou het en ek kon die mooi Laeveld inneem en waardeer. Die ryposisie is gemaklik en jy kan dadelik voel dat hierdie ’n mylvreter is. Met twee ruim kant-tasse is hy beslis gemaak om te verken.

Terug in Nelspruit het almal ’n gunsteling gehad en ek ook myne. Maar die doel van hierdie bekendstelling was nie om gunstelinge te kies nie, maar vir BMW om vir ons te wys hoe hulle drie totaal verskillende fietse kon bou op presies dieselfde platform. Ek behoort binnekort hierdie fietse individueel te kan toets en dan ’n vollediger verslag saam te stel.

BMW Mottorad webtuiste: https://www.bmw-motorrad.co.za/

Pryse:

 R 1250 RR 1250 RSR 1250 RT
Full specR212 000R227 000R252 400
Style EleganceR220 500R234 000R260 900
Style HPR222 500R236 000R262 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gys ·

Ek het so rukkie gelede die 1250GS se oor gaan draai. Lekker fiets, maar ek sal eers nog n jaar wag voordat ek die nuwe enjin vat. Met enige nuwe enjin is daar maar altyd klein goetertjies wat met die 2de uitgawe reggestel word. Laat ander ouens due proefkonyne wees. KTM se eerste 1190 het ook n paar skete gehad.

Ek het die 1200GS Rallye, en het ook agtergekom die “quick shift” werk beter teen hoër rpm. Moet glad nie die petrol eers effens toedraai as jy ratte verwissel nie.

Four wheels move the body two wheels move the soul. Ek is altyd verbaas as ek hoor van mans wat nie motorfiets ry nie. Dis loshande een van die lekkerste dinge op aarde. :):)

SjN ·

My Gs1200 Adventure mag miskien 8 jaar oud wees maar ek sal 2 keer dink voor ek oorskakel.

Dieter ·

Jy hoef nie oor te skakel nie. Hou die 1200 en koop die 1250 by.

anton ·

As ek die geld gehad het, het ek een van elk gekoop want elkeen is uniek op sy eie manier.
Tenminste het hulle almal Boxer enjins.
Dit tel vir my die meeste punte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.