[Foto’s] BMW maak gereed vir 2018

Die BMW F850 GS (Foto: BMW)

BMW het EICMA gekies as die platform om ʼn paar nuwe modelle bekend te stel. Die belangrikste is seker die F 750 GS en F 850 GS. Die Honda Africa Twin het behoorlik stof in die oë geskop van die BMW GS in Europa. Ironies genoeg in die marksegment wat BMW amper eiehandig geskep het, naamlik die avontuurfietsmark. Die R1200 GS kraai dalk nog koning hier in Suid-Afrika, maar BMW moes iets doen om weer sy marksegment terug te wen in Europa.

Iets waaroor ek baie verlig is, is dat die neiging weer terug is na kleiner avontuurfietse. BMW het reeds ʼn teenwoordigheid daar met sy F-reeks, so om die bestaande fiets te verbeter was die logiese oplossing.

Die BMW C400X (Foto: BMW)

Die nuwe fietse is nie net ʼn opgekikkerde weergawe van die oues nie. Die fietse is geheel en al herontwerp met die doel om aangewend te word as ware avontuurfiets. Albei modelle het ʼn 853 cc-tweesilinderenjin, maar die F 750 GS se enjin is makker gemaak en lewer 57 kW. Die F 850 GS lewer 70 kW. Albei modelle spog met ʼn nuwe staalraam en onderstebo vurke vir stabiliteit. Die 850 het speekwiele en die 750 allooiwiele.

Instrumentasie is nou ʼn volkleur- digitale eenheid, en dit word al meer ingespan op nuwe fietse. Dit laat jou toe om verskeie Bluetooth-toestelle aan jou fiets te koppel. Die hele ontwerp is ook skerper en meer aggressief. Uiteindelik is hier ʼn GS wat ek sal oorweeg. Hy sal in Suid-Afrika beskikbaar wees teen die tweede helfte van 2018.

Die BMW F850 GS (Foto: BMW)

K 1600 Grand America

Die Bagger is net laas week in Suid-Afrika bekendgestel, en BMW het nou by EICMA die K 1600 Grand America ook bekendgestel. Duidelik gemik op die Amerikaanse mark met ʼn lae profiel, is hierdie fiets deur en deur gemaak vir die lang, reguit Amerikaanse paaie.

BMW C 400 X

Een ding wat maar net nie wil posvat in ons land nie, is bromponies. Daar is egter ʼn groot mark in Europa, en BMW het ook nou ʼn mededinger in die middelslag-segment bekendgestel, naamlik die C 400 X. Gemaak om jou rit van ʼn laagtepunt in ʼn hoogtepunt te omskep, lyk die klein BMW’tjie heel hups. Weereens word die analoog-intrumentasie vervang met ʼn elektroniese eenheid. Hierdie fiets sal eers in 2019 op Suid-Afrikaanse bodem aanland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcel ·

En daar doen BMW dit weer, Ducati kom nou net reg met die Multistrada dan bou BMW so ‘n mooi 850. Geen manier wat enige iemand ‘n Ducati gaan koop met so mooi BMW as kompetisie nie. Dit gaan seker maar net van die prys afhang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.