[Foto’s] BMW R nine T: Retro is vuurwarm

Die BMW R nine T (Foto: Brian Cheyne)

Soms, as die geraas van die stad en die geraas in my kop ewe veel is, dan is dit tyd om weg te kom. Tyd alleen. Tyd, êrens in die bos waar ek vir die stilte kan sit en staar sodat my siel net weer kan opvang. Ek moet weg. En toe lewer BMW ʼn R nine T by my huis af. Net wat ek nodig het. Stilte en eenvoud. Die R nine T is gestroop van die onnodige. Net die essensie van motorfiets ry.

Die R nine T is al in 2013 bekendgestel en die 2017-weergawe is ʼn geleidelike opgradering eerder as ʼn totaal nuwe model. Die onderstebo vurke is nou ten volle verstelbaar. Daar is ook verander aan die hoek van die voorvurke en dit beloof om die fiets meer stabiel te maak. Of so lees ek. Voorlopig is my aandag gevestig op die detail, en die hoeveelheid daarvan. Hierdie fiets is ordentlik aanmekaar gesit. Ek voel aan alles.

Die R nine T is vir ouens soos ek wat baie graag ʼn projekfiets wil bou, maar nie die tyd, ruimte of talent het vir so iets nie. In my geval, al die bogenoemde. So jy gaan koop jou fiets, en dan kan jy rondspeel met verskeie opsies om die fiets jou eie te maak. Die sukses van die R nine T-konsep het nog drie modelle laat bykom. Die Pure, die Racer en die Scrambler. Die raam is modulêr en onderdele kan maklik bygesit word vir daardie tikke uniekheid. My oë dwaal nog oor die fiets maar dan onthou ek ek wil êrens heen ry.

Die saal is meesterlik afgewerk en die petroltenk is ʼn kunswerk. Dit is die opsionele aluminiumtenk met ʼn perfek gesweisde naat wat in die middel van die tenk loop. Ek onthou met afgryse my eie sweispogings op skool. Ek onthou ook die skouspelagtige onploffing in ons elektriese werkswinkel toe ek ʼn grassnyer moes herbedraad. Ek was nog nooit prakties aangelê nie. Ek sukkel om my aandag terug te kry by die hede.

Die BMW R nine T (Foto: Brian Cheyne)

Die nuwe R nine T se saal is hoër as die vorige model, en voor my sit twee ronde wysers. Die een wys hoe vinnig tol die enjin, en die ander wys hoe ver ek per uur kan wegkom van die geraas. Waar die vorige model ʼn konsole tussen die wysers gehad het, is dit nou verplaas na twee vloeikristaleenhede binne die twee wysers. Dit het die minimalistiese R nine T nog verder vereenvoudig. Die kontroles is net so skraps. Geen komplekse skakelaars waarvoor jy ʼn ingenieursgraad nodig het nie. Jy sit ook so effe vooroor, en die enigste elektroniese hulp wat BMW jou bied, is sluitwering.

As jy al ʼn bokser-enjin aangesit het, sal jy daardie wikkel herken. Die hele fiets gee so rilling, en dan loop dinge glad. Die R nine T het nog die ou enjin sonder waterverkoeling. Ek dink dit was ʼn wyse besluit, want anders moes hulle ʼn verkoeler êrens op die R nine T inpas en dit sou net die hele prentjie versteur.

Die BMW R nine T (Foto: Brian Cheyne)

My roete vir die dag word bepaal soos ek gaan. Ek wil nie met ʼn plan of program ry nie. Die R nine T wag geduldig vir insette. Ek ry tussen dieseldampe en stadsliggies uit op die N4. Ratskakeling is seepglad. Trouens die hele ry-aksie verloop glad. Die wind, die reuke en die gedempte klank van die Akropovic-uitlaatpyp is al wat my vergesel. Op spoed raak die wind lastig, dan ry ek maar net weer stadiger. Ek besef hierdie BMW is nie ʼn langpad fiets nie. Hy soek kort stukkies met draaie en ʼn lekker koffieplekkie by die bestemming.

Ver van die rumoer draai ek van die pad af, ʼn denneplantasie binne. Ek raak stil en daar tussen die dennenaalde los ek my bagasie. My siel haal my weer in en ek saal weer die BMW op. Ek kon ontvlug. Ek kon herlaai. Ek is weer reg vir die week. Dankie BMW.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin1170cc Bokser enjin
Gewig (Nat)222kg
Maksimum kraglewering81kw
Saalhoogte805mm
Tenk kapasiteit18L
Prys

Opsionele brandstoftenk

R187 990

R5 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anton ·

Kyk daar is n paar motorfiets masjiene wat dit vir my doen. n ”V2” n 3 silinder en natuurlik n 6 silinder!!!
Maar as daar nou eenmaal n yster van n ”Engine” gebou is en wat ek hoop om te kan ry totdat my baard meters agter my sleep, dan is dit die BMW BOKSER!!!
En as dit n olie/ lugverkoel is, nog beter.
Heng ek lief hulle baie. :-)

chris ·

Anton, ek stem saam. Ek het nog nie baie motorfietse in my lewe gery nie. Ek hou van die Taljaners se fietse, hier en daar van Japanese, maar die Amerikaanse fietse staan my nie aan nie. Niks met hulle verkeerd nie. Die boxer BMW is uniek.

anton ·

Chris, ja ek moes seker ook by genoem het dat nie al die V2 masjiene dit vir my doen nie en die Amerikaanses val in daai groeppie.
Daar is n paar redes hoekom ek nie van hulle hou nie maar sal net die grootste irritasie van hulle noem en dit is die oorverdownde lawaai wat hulle maak!!!
Die res sal ek mense lekker kan laat lag en ander sal my wil gooi met klippe dat ek knorrrr veral die Harley manne. :-)

Brian Cheyne ·

anton, die geraas kom by die uitlaatpype uit, nie die enjin nie :) Harley se nuwe Milwaukee 8 enjin is ongelooflik glad, en met EU4 regulasies nou in plek, glad nie so hard nie. Ek het die Softail gery met die vorige enjin en ek moes tandarts toe gaan na die tyd om net weer my stopsels vas te maak. Met die Streetglide S was dit ‘n ander storie. Die bokser is ‘n unike enjin, en ek sukkel nou nog om gewoond te raak aan hoe die fiets na regs wil omval as jy ‘m handvol petrol gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.